Moet slegte nuus gesensor word?

Ek het die wonderlikste boodskappe gekry nadat ek so bietjie aandag getrek het die afgelope week nadat ek ’n peperduur trouring opgetel het en danksy die gawe mense van Volksblad daarin kon slaag om die eienaar op te spoor. Volksblad het toe gereageer en ’n storie oor die saak gedoen wat in die Saterdag uitgawe gepubliseer was.

Maar vanaf vriend tot vreemdeling het ek boodskappe gekry. Aangesien my brief wat Donderdag gepubliseer was ook my telefoonnommer bevat het, het daar sommer ook wildvreemdelinge wat nie op soek was na enige ring nie my gekontak, net om my geluk te wens met my pogings om die ring se eienaar te probeer vind. En dat Jesus nou baie gelukkig is oor dit.

Op Facebook het die bekende politieke ontleder Herman Toerien in ’n redelike emosionele plasing my beskryf as ’n “goeie mens” – ’n opmerking waarteen ek bietjie beswaar het.

Ek het al baie lelike dinge gedoen. Ek glo nie daar is iets soos “goeie mense’ nie. Daar is net mense. En partykeer maak ons beter besluite en ander kere maak ons minder goeie besluite.

Ek is ’n argivaris. Dit is waarvoor ek lewe. In murg en been is ek ’n argivaris. En ons werk kan mens beskryf is om ’n kollektiewe geheue te skep. ’n Argief is nie net ’n koue gebou vol ou papiere en rekords nie. Elke mens se geheue en ervaringe is ’n argief. So is al die mense op aarde een groot lopende argief.

Daar word gesê dat daar ’n ou Afrika spreekwoord is wat lui dat, “as ’n mens sterf, dan brand ’n biblioteek af”. Mens kan die woord “biblioteek” in daardie uitdrukking ook net so maklik vervang met “argief” . . .

’n Mens word gevorm deur jou omstandighede. Daar is ’n ou debat in die Sielkunde van “Nature versus Nurture”. Ek wil nie in hierdie debat betrokke raak nie. Al wat ek wil sê is dat ek glo ek is die produk van my omstandighede. Daar is niks buitengewoon of spesiaal aan my nie. Ek het net soveel mooi en/of lelike eienskappe as die volgende mens.

Ons lewe in ’n land waar die media vrypas het. Hulle berig net wat hulle wil. Slegte nuus verkoop beter as goeies. En die skandale, en die een slegte ding op die volgende, laat ons glo daar is niks mooi meer nie. Alles word net slegter en slegter. Daarom gryp mense ook erg na godsdiens. Nie dat godsdiens sleg is nie. Maar godsdiens het maar ’n beperkte invloed wanneer dit by moraliteit kom. Kom ons wees eerlik, die Christelike geloof het dikwels in die verlede met vrees gewerk. Vrees vir die hel.

In die ou Suid-Afrika was baie nuus gesensor. Baie meer as vandag. Slegte nuus is uit die koerante gehou. In dieselfde uitgawe van Volksbald waarin die storie van Zelna Kleynhans se ring verskyn het, is daar ’n stuk oor Koos Kombuis en sy gedig sonder woorde, wat hy geskryf het in die apartheidsjare toe alles nog gesensor was.

Mense droom eintlik dagdrome as hulle dink dat die wêreld net slegter en slegter word. Die Engelse het ’n spreukwoord – Life is like a rocking chair, it gives you someting to do, but it doesn’t bring you anywhere.

’n Ander goeie Engelse cliché is “be the change you want to see”.

Wat eintlik maar net ’n ander manier is van wat ons in Afrikaans sê – doen aan ander, wat jy aan jouself gedoen wil hê. Hanteer alle mense dieselfde.

Dis ook wat Jesus gesê het – het jou naaste lief soos jouself.

In die argief kry ek met uiteenlopende mense te doen. Van ongeskoolde handearbeiders wat hulle voorouers se grafte soek, tot hoogs geskoolde professore wat materiaal soek vir hulle akademiese referate en artikels. En nie een van hulle, handearbeider of professor, is beter of belangriker as die ander nie. Almal van hulle verdien dieselfde toegewyde diens en gelyke behandeling in dieselfde mates. Want elkeen van hulle is besonders en spesiaal.

Ek is nie ’n goeie mens nie. Die gemeenskap is goed. Ek ontken nie dat die wêreld deurmekaar en vol probleme is nie. Die probleem is dat ons as mense te geneig is om onsself blind te staar teen al die probleme.

Die antwoord? Moet slegte nuus uitgesny word? Die antwoord is nee. Slegte dinge mag nooit weggesteek word nie. Selfs al rem dit ons en maak dit ons swaar en bitter. Wat nie huur betaal nie moet uit. Maar ons moet nie op die nuus staatmaak om hoop te vind vir die wêreld nie. Ons moet mekaar net raaksien. Die mooi in elke mens. Daar is mooi in meeste mense.

Advertisements

One comment

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s