DA se toekomstige groei is nie gegewe nie – Die vonke kan nog spat

Enige iemand wat gereeld my bydraes gelees het oor die afgelope jaar sedert die ontstaan van die Afrikaanse Opinieplatform, sal weet dat ek al lank uitlatings maak oor die Demokratiese Alliansie (DA) se voormalige parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko. Alhoewel me. Mazibuko ’n vurige debatteerder is, en skynbaar veel daartoe bygedra het dat meer as een uit elke 5 Suid-Afrikaners die DA gesteun het in die 2014 verkiesing, is Mazibuko nie die tipe leier wat die DA nodig het aan die stuur om die party vorentoe te vat nie. En die rede is omdat sy as ’n uiters bevoorregte Suid-Afrikaner voorkom. Dit is in teenstelling met byvoorbeeld president Zuma, wat uit baie meer eenvoudiger omstandighede gestyg het tot die hoogste politieke posisie in Suid-Afrika, en derhalwe vir baie Suid-Afrikaners ’n inspirasie is.

 

Mazibuko, privaatskole, universiteit, en nou, die prestigeryke Harvard, teenoor president Jacob Zuma, wat maar slegs baie basiese skoolopleiding geniet het, en nooit matriek voltooi het nie.

 

Ek dink dit is veelseggend om daarop te let dat in twee van Suid-Afrika se drie grootste partye, word die party gelei deur ’n persoon wat ’n baie beskeie akademiese agtergrond geniet het, naamlik in die Ekonomiese Vryheidsvegters en die African National Congress (ANC). Dit dui op die tipe land waarin ons vasgevang sit. En dan is dit ook belangrik om daarop te let dat amper al die partye in die parlement deur mans gelei word. Want Suid-Afrika is ’n erg patriargale land waar mense nog glo die man moet oral bo wees, vanaf die kansel tot in die katel moet die man bo wees. Daarom is ’n leier soos Maimane ’n meer logiese keuse as Mazibuko, as daar tussen die twee gekies moet word. Met ’n man aan die stuur sal die DA na alle waarskynlikheid beter vaar as met ’n dame, gegewe die tipe samelewing waarin ons vasgevang sit. Veral ’n man wat self eens in die ANC gedien het.

 

Maar die onlangse onsmaaklikheid in die media met Mazibuko, het maar net weer ou stereotipes oopgekrap. Die feit dat partyleier Helen Zille die aanslag probeer afweer het, deur te argumenteer dat haar opmerkings jeens Mazibuko totaal verkeerd voorgestel was, het nie veel gehelp nie. Mazibuko was net soos die leier van Agang SA, dokter Ramphele, gebruik om die swart stem te lok – dit is wat daar gesê word na die onlangse drama.

 

Maar wanneer die dag gaan kom dat die DA wel ’n onbetwiste swart persoon as leier gaan verkies, dan gaan al hierdie onsmaaklikhede niks anders as ’n storm in ’n teekoppie word nie. Dit is na alle waarskynlikheid reeds presies dit.

 

Die feit dat die DA meer as een uit elke 5 stemme op hulle verenig het, is ’n interessante ontwikkeling. Skielik is die leier van die DA ’n posisie waarin baie mense belangstel, want dit is ’n veel magtiger persoon as 5 jaar gelede. En ek wil raai dat, as die DA hulle kaarte reg spel, dat die party selfs méér mag sal bekom in die 2016 plaaslike verkiesing. Baie gaan daarvan afhang van presies hoe die DA homself gaan posisioneer binne die afsienbare toekoms.

 

My eie voorspelling was en staan nog dat Suid-Afrika uiteindelik grootliks ’n tweepartystaat sal word, maar dat die DA in sy huidige vorm nie die ander groot party gaan wees nie. Tog het die party nou die geleentheid om my voorspelling verkeerd te bewys.

 

Daar is egter ook woelinge binne die ANC aan die gang, wat die ganse politieke prentjie kan verander. Dit is duidelik uit die ontstaan van die EFF, dat die dekadelange wrywing tussen die nasionalistiese stroming en die sosialistiese stroming binne die ANC besig is om al verder en verder uit mekaar uit te dryf. Die EFF deel wel baie waardes met die ANC se sosialistiese stroming, maar hulle leier, meneer Julius Malema, tesame met die EFF se algemene styl, skrik mense af. Indien daar ’n goed georganiseerde sosialistiese party tot stand kan kom, wat die steun van die vakbonde begin geniet, dan kan dit die politiek baie meer dinamies maak as wat dit tans daar uitsien.

 

Maar dit is vir my asof die DA uiteindelik voor dieselfde uitdaging sal staan, eintlik het dit al reeds tot ’n mate, want die DA, nes die ANC, verteenwoordig ’n uiteenlopende groep kiesers. Van hulle is suiwer kapitaliste, en ander is weer duidelik oorwegend sosialisties. Dit maak die toekoms van die DA ewe onseker as die van die ANC.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s