Die kopseer van verlore konneksies (’n Spirituele refleksie)

Dit is ’n redelike uitdaging as mens jou konneksie verloor. In hierdie digitale era waarin ons lewe, verstaan meeste mense die frustrasies van verlore internetkonneksie. As gevolg van sosiale media, so word daar ook gesê, verloor baie mense konneksie met daardie ding wat ons noem realiteit. Want die wêreld van sosiale media en netwerke is nie regtig werklik nie. Dis ’n skynwêreld waar mense net hulle beste vir die wêreld wys in ’n poging om mekaar te probeer beïndruk. Eintlik het sosiale media en netwerke mense minder sosiaal gemaak, so word daar gesê. Mense konnekteer digitaal, maar ware konneksie gaan verlore.

 

Maar die konneksie wat ek in gedagte het is meer die konneksie van waardes. In my geval, hoe verder ek van die gebeure af wegstaan, hoe meer besef ek dat ek konneksie verloor het met die waardes van die gemeenskap waar ek vandaan kom. En met waardes bedoel ek nie morele waardes nie. Ek glo nog steeds daar is basiese goeie morele waardes soos eerlikheid, opregtheid, betroubaarheid, ag, al daardie dinge. Nee, ek bedoel nie morele waardes nie maar eerder sosio-kulturele waardes. Daardie dinge wat tipies in ’n Boerehuis heilig is. Soos die huwelik. En bo alles godsdiens. Ek het my godsdiens verloor. Ek het die konneksie daarmee verloor.

 

In my eie oë is ek steeds op my manier ’n gelowige mens. Maar waar ek myself 3 jaar gelede nog as ’n Christen gesien het, is daardie deel van my lewe nou verby. In terme van die spiritualiteit kyk ek vorentoe. Ek het vrede gemaak met wat ek is. Die woede wat ek eens gehad het wat voortgespruit het uit my ontnugtering, het ook mettertyd getaan. Tot waar ek vandag kan sê dat ek in liefde lewe met my Christen vriende. My belangstelling in die Christelike tradisie sal ook nooit verdwyn nie. Om die waarheid te sê beskou ek my spiritualiteit as spiritueel binne die Christelike tradisie. Dit is omdat ek hulle erfgoed ook as my eie beskou. Presies soos die Demokratiese Alliansie die African National Congress se struggle helde omhels. Ek beskou byvoorbeeld vir Jesus as een van die interessantste persone wat nog ooit gelewe het, en voel mens kan baie pitkos vind uit die leerringe van Jesus. Maar ek glo nie dat elke woord in die Bybel letterlik waar is en dat ek als in die Bybel kan gebruik om my lewe te rig nie. Ek glo ook daar is nuwe tekste wat toegevoeg moet word tot die Bybel en ander wat verwyder moet word. Dit is byvoorbeeld krities belangrik dat ons die wysheid van Nelson Mandela boekstaaf en kanoniseer vir opkomende geslagte. Daar is ook wonderlike kontemporere musiek waarvan die tekste ook gekanoniseer behoort te word as toevoegings tot die Psalms.

 

Maar hoe ook al, alhoewel mens spiritueel vrede gevind het, kom dit teen ’n dure prys, in die sin dat jy vervreem word van jou gemeenskap. Jy diskonnekteer op te veel vlakke om ooit heeltemal weer 100% in te skakel. En die uitdaging le dan daarin om tog sinvolheid te soek in jou lewe. Want jy gaan bitter min daarvan vind in verhoudinge omdat jy jou kulturele en spirituele waardes heeltemal verloor het. En omdat jy in ’n sekere sin op ’n eiland staan.

 

Ek reken die uitdaging le daarin, nie om jou duurbekomde waardes net weg te gooi nie. Nie dat jy regtig ooit sal kan na al die pryse wat jy reeds betaal het en opofferinge wat jy gemaak het om jou nek uit te steek nie. Die antwoord le ook nie daarin om ander mense te probeer ‘wen’ vir jou spesifieke stel norme en waardes nie. Want dit is futiel. Nee die uitdaging le daarin om mense se persepsies oor jou uit te daag, en om mense se persepsies oor die wêreld uit te daag, en om mense se persepsies van mekaar uit te daag. Jesus was skynbaar self iemand wat presies dit gedoen het. Deur die manier hoe hy aan siek mense gevat het. Deur die manier hoe hy die reinheidswette ignoreer het. Deur te sosialiseer met die laer klasse. Deur van ongeskoolde handearbeiders en vissermanne gebruik te maak en hulle as dissipels te verkies. Jesus het mense se waardes uitgedaag. Jesus se hele lewe het gespreek van die vraag – wat is WAARLIK belangrik in die lewe? Heg ons nie dalk te veel waarde aan dinge wat eintlik waardeloos is nie? En heg ons nie dalk te min waarde aan die eintlike waardevolle dinge nie?

Deur die sosiale chaos wat Jesus in sy gemeenskap veroorsaak het, het hy die norme uitgedaag. Want in die lewe moet jy dikwels ‘oorlog’ maak om vrede te kry. Dit klink teenstrydig, maar dis waar. As Jesus nie die gemeenskap van sy tyd se norme en waardes uitgedaag het nie, dan was die evangelies grootliks sonder hulle welbekende plofstof.

 

Bo alles lê die uitdaging om, soos met als in die lewe, die oue met die nuwe te versoen. Want die ou jy is en sal altyd in jou wees, maar die jy wat glad nie meer dieselfde mens is nie, en wat elke oomblik verander soos jou ervaringe jou denke beïnvloed, daardie jy is ook daar, en daardie jy se behoefte is groter as die dele van jou wat eintlik maar verlam geword het saam met die ontnugtering wat jy beleef het.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s