Verkiesing met min verrassings

Dit is ’n vreemde ding die ding van verkiesing in ons land. Daar het stringe partye aan die verkiesing deelgeneem. Hoeveel was hulle? 29 as ek reg onthou? En tog, met meer as die helfte van die stemme getel, is die aanduidings nou dat ongeveer 85% van Suid-Afrika se mense vir een van die twee grootste partye gestem het, naamlik die African National Congress (ANC) of die Demokratiese Alliansie (DA).

Die 2014 algemene verkiesing het maar grootliks verloop soos wat ek gedink het dit sal. Volgens huidige projeksies gaan Julius Malema se Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) ongeveer 20 sitplekke in die nasionale lekgotla inneem, presies soos ek voorspel het. Die Vryheidsfront plus vertoon wel klein bietjie beter, maar nie soveel soos wat ek gedink het hulle sal nie. Bantu Holomisa se United Democratic Movement (UDM) vaar ook skynbaar bietjie beter. Die onstaan van die National Freedom Party (NFP) het hoofman Buthelezi se Inkatha Vryheidsparty (IVP) ’n knou toegedien. Die Congress of the People (COPE) en doktor Rampele se AGANG SA het glad nie die mas opgekom nie.

Die ander baba wat soos AGANG SA skynbaar doodgebore is, is die Front Nasionaal (FN). 5000 mense is miskien baie wanneer jy ’n plek soos Die Afrikaanse opinieplatform wil beledig en afbreek, maar dis hopeloos te min vir ’n setel in die parlement.

Daar is mense in hierdie land wat, half verstaanbaar, terugverlang na apartheid. En hulle droom is om ’n groot gedeelte van Suid-Afrika weer onafhanklik te verklaar en ’n minderheidsregering in te stel. Hulle stel nie belang in die storie van eie arbeid soos wat die mense van Orania propageer nie.

Sien, die ironie van die ‘ou’ Suid-Afrika is dat, terwyl daar gepoog was om mense sosiaal te skei, was die gemeenskappe op finansiële gebied uiters uiters verweef. Dit was nie net dat daar goedkoop arbeid vir die plase en myne was nie. Dit ook ja. Maar swart gemeenskappe was ’n kritiese afsetpunt van markte. Blankes het dikwels die publieke vervoerstelsels en alkoholindustrie deur middel van wetgewing beheer. Swart Suid-Afrikaners was verbied om hulle eie bier te brou en so het drinkhuise ontstaan waar mense in biersale al hulle alkohol moes gebruik. Geen drank kon huis toe geneem word nie. Dit is regtig jammer dat mense so uitgebuit en gemarginaliseer was.

Sedert 1994 het mense se lewens nou selfs MEER verweef begin raak. Waar die ou regering gepoog het om mense sosiaal van mekaar te vervreem en ekonomies op die ander te teer, is daar bande gevorm in die ‘nuwe’ Suid-Afrika wat totaal onuitwisbaar is. En mense se identiteite word ook al meer verweef met mekaar. Dit is hoekom meer as 85% van die land vir slegs 2 van die 29 partye gestem het. Twee partye wat baie ooreenkomste toon so terloops. Mens hoor Malema dit sê, dat die DA en die ANC basies dieselfde is, en mens hoor ook dikwels ver regses soos die ondersteuners van FN en PRAAG dit sê.

Soos ek reeds in ’n vorige plasing uitgewys het, is daar reuse ooreenkomste tussen Front Nasionaal en die Ekonomiese Vryheidsvegters. Beide haat die ANC. Beide is bekend vir radikale, haatdraende uitsprake. PRAAG (wat sterk bande met die FN het en basies die FN se mondstuk is) het al materiaal deur ’n akademikus geplaas wat as rassistiese haatspraak gesien was. Soortgelyk is die leier van die EFF, Julius Malema, se uitsprake ook al as haatspraak verklaar deur een van ons hoofstuk 9 instellings. Een van die Front Nasionaal se groot leiers, doktor Dan Roodt, was dan ook voorheen lid van die Vryheidsfront Plus, net soos wat Julius Malema voorheen lid van die ANC was.

Op die politieke spektrum, hoe meer mens van die sentrum af wegbeweeg in die een of die ander rigting, ongeag in watter rigting, hoe meer word mense se gedrag dieselfde. In dieselfde mate is dit ook so dat, hoe nader mense na die sentrum toe beweeg, hoe meer word hulle gedrag dieselfde.

Dit is eintlik jammer dat daar meer as R600 000 gemors was op ’n veldtog soos die van die Front Nasionaal. Daardie geld kon vir armes gebruik geword het. Die tragiese ding is dat mense soos die Front Nasionaal se groot doelwit in die lewe is om apartheid weer in te stel, sodat die swart mense weer ekonomies uitgebuit kan word. Hulle wit Afrikaanse identiteit is eintlik maar bysaak. Dit is hoekom hulle nie bereid is om die opoffering te maak om in ’n plek soos Orania te belê nie, want daar is nie swart mense wat hulle ‘baas’ gaan noem in Orania nie.

Die grootste kommerwekkende ding van die 2014 algemene verkiesing is dat die ANC en die EFF tussen hulle meer as twee derdes van die stem gaan he. Gaan dit die einde van privaat grondbesit wees?

Ek mag verkeerd wees, maar ek twyfel. Enige persoon wat die dink dat die ANC ’n 100% homogene groepering is, is so verspot soos mense wat dink al die skrywers van die Bybel het dieselfde gedink oor God. Die ANC word nie verniet ’n “broad church” genoem nie. Dis ’n kerk wat ’n uiteenlopende klomp mense huisves. En die ANC se beleid oor grond en die herverdeling daarvan verskil van die van die EFF. Daar is ook min liefde tussen die twee organisasies, met die een wat voortdurend die ander se dood voorspel.

Die toekoms is, soos altyd, baie onseker, maar van een ding is ek seker, en dit is dat dit jammer is dat die FN selfs 5000 of wat mense ge-‘fool’ het. Hierdie klein partytjies wat hulle verbeel hulle het een of ander mandaad mors net hulle eie en alle ander mense se tyd. So was ek byvoorbeeld daarop gewys dat die VF plus sterker is omdat hulle ‘al 20 jaar’ gehad het. Wel, selfs die VF plus het in hulle eerste verkiesing, kort na hulle gestig is kort voor die 1994 verkiesing, nie eens so treurig gevaar soos die FN in die 2014 verkiesing het nie.

Advertisements

3 comments

  1. Ek wonder nou of jy nie n tipiese ANC-denke gebruik deur weer na die verlede te kyk. Maar ja, die FN doen dit nog ‘n bietjie erger…

    Trouens: Niemand sal Die Afrikaanse opinieplatform afbreek nie. Die webwerf is mos geregistreer in die land met die wêreld se meeste persvryheid: Nederland. 🙂 Selfs as die ANC alle Afrikaanse media sou verbied, sou dit hierdie webblad nouliks raak. Die ANC/Suid-Afrika het mos geen juridiese mag in Nederland nie. 🙂

  2. Jy het die verkiesing nou mooi saamgevat. Die verlede se swak – en die huidige se sterk aspekte.

    Self gewaag om iets oor Oranje te sê, Jammer Kleinfontein en Balmoral en ander soortgelyke gemeenskappe is nie genoem nie! Of is hulle te radikaal.

    Kom ek rig ‘n uitdaging – Hoeveel blankes is daar wat kon stem teenoor die wat werklik aan die verkiesing deel geneem het!

    Klein leidraad Die DA en VF+ het in Mpumalanga 150000 stemme kon verkry! Is daar werklik net 150000 wttes in Mpumalanga? Het daar werklik net blankes vir die DA gestem? So, hoeveel wittes het nie gestem nie?

    Nog ‘n leidraad kry die bevolkings getalle op Statestiek SA se web.

    Graag sal jou opinie hieroor verneem word!

  3. Dankie julle 2.

    Christian ek verstaan jou kritiek teen my. Maar meeste blanke Afrikaanse mense stel nie genoeg belang in die verlede om hierdie dinge te weet nie. Nee, hulle ken nie die verlede nie, die trauma van gister, en daarom verstaan hulle die hede swaarder.

    Laat ek dit net recap, onder apartheid was dit teen die wet om 6 biere te koop en dit by jou huis te gaan doen. Deesdae is dit nie meer teen die wet nie.

    Dis ‘n hartseer ding dat Geskiednis onderwysers ‘n las geword het in baie skole in die ‘Nuwe’ Suid-Afrika. Mense het verkies om die verlede net te ignoreer. Op daardie manier is die proses om groter gemeenskaplike identiteit te skep erg afgeskeep.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s