Verkiesing 2014: wat ek vermoed gaan gebeur

Ek gaan my kop op ’n blok sit hier. Maar die versoeking is tog so groot. Die mens is en bly maar lief om oor die toekoms te spekuleer. En met die komende verkiesing kan ek nie help as om in my kop ’n vooruitskatting te ontwikkel nie. Hoekom doen ek dit? Ek kan tog nie weet wat in mense se harte aangaan en waar hulle hul kruise gaan trek nie? Ag, dit is seker grootliks uit liefde vir my land en al haar mooi mense. Ek hoop een ding bo als en dit is dat die 2014 algemene verkiesing ons demokratiese kultuur sal laat verdiep. Daar was reeds kommerwekkende tekens met die hele drama rondom bepaalde partye se advertensies wat nie vertoon word nie, maar hopelik sal die verkiesing, als in ag genome, goed wees vir die demokrasie.

 

Daar is geen spesifieke party wat ek openlik of in die geheim steun nie. Soos ek hier skryf weet ek nog nie eens waar ek my kruis gaan trek nie. Hoewel kwessies soos beleid wel vir my in ’n mate tel, weet ons ook nou al dat mooi beleid dood kan wees. Soos wat die Grondwet van ons land nie net in boeke moet staan nie, maar moet lewe in die harte van mense, so is dit met beleid. Beleid sonder dinamiese leierskap het weinig waarde.

 

Om die waarheid te sê, die twee grootste partye in Suid-Afrika, die African National Congress (ANC) en die Demokratiese Alliansie (DA), wat tussen hulle oor die 80 persent van die stemme gedeel het in die vorige verkiesing, die twee partye se beleide toon sterk ooreenkomste. Dit is maar grootliks perifere sake waaroor hulle verskil, so lyk dit my. Die groot stryd is ’n stryd om leierskap. Die DA hamer die ANC die hele tyd op die kwessie van leierskap.

 

Wat gaan gebeur met stemdag? Die twee heel grootste partye gaan tussen hulle twee hul sny van die koek nóg groter laat word. My vermoede is dat die peilings wat die ANC op 63% plaas nie te ver uit is nie. Dit beteken die ANC se steun gaan met om en by 2 persentasiepunte val. Daarteenoor, gaan die DA, in lyn met die 2011 plaaslike verkiesing, ’n toename in steun sien, en waarskynlik met om en by 22% van die stemme eindig. En dit beteken dat tussen die twee van hulle gaan die ANC en die DA oor die 85% van die land se stemme op hulle sal verenig.

 

Hierdie uitslag sal in lyn wees met wat ek al lankal sê, en dit is dat Suid-Afrika afstuur op ’n twee party staat. Want hoe langer die staat in sy huidige vorm aanhou, hoe langer gaan mense se idees en identiteite verweef raak met mekaar. Die jong geslag mense sien al hoe minder ras en kultuurverskille raak. Maar ek staan ook by my standpunt dat die DA op die lang duur dalk nie in sy huidige vorm gaan oorleef nie. Die ANC sal weereens moet skeur voordat daar ’n koalisieregering kan kom wat die land onherroeplik sal verander.

 

Dit is moontlik dat die sosialistiese partye wat skynbaar op die horison le en wag die volgende groot slag vir die regerende party kan word. Want Julius Malema se Economic Freedom Fighters (EFF) was beslis ’n gatslag vir die regerende party. My voorspelling vir die EFF is dat hulle om en by 5% van die steun gaan kry. Die groot verloorders gaan wees die Congress of the People (COPE), wat sal terugval tot rondom 3%, en dan die Buthelezi se Inkhata Freedom Party (IFP) wat amper geen steun gaan kry nie en waarskynlik saam met Bantu Holomisa se United Democratic Movement (UDM), dokter Ramphele se Agang SA en Kenneth Meshwe se African Christian Democratic Party almal gelukkig gaan wees om elk een persent van die steun te kry.

 

Uit verskeie uiteenlopende bronne wil dit tog vir my lyk asof daar een minderheidsparty gaan wees wat bietjie sal groei, naamlik die Vryheidsfront Plus (VF+). Die rede hiervoor is dat die VF+ ’n konserwatiewe visie het wat vir heelwat ontnugterde DA kiesers aanloklik is. Die hele sirkus met die leier van Agang SA, maar veral die geval met die van die bekende voormalige radioman en DA LP Niekie van den Berg, is ’n kleiner weergawe van ’n groter tendens. Sake soos die bevordering en handhawing van Afrikaans en eiendomsreg gaan ook veroorsaak die VF plus bietjie steun sal wen. Ek voorspel dat die VF net onder die 2% steun kan lok.

 

Wat die ander, orige 1% betref, dit sal verdeel word in die komma-persentasiepunte tussen die partye.

 

Maar dat die ANC sterk gaan wees, dit is uitgemaak. Vir die middelklas is die ANC dalk ’n kopseer, maar diegene wat in uiterste armoede lewe, vir hulle le die ANC nog baie na aan die hart. Die ANC het baie gedoen vir arm mense. Skole, huise, water, elektrisiteit, klinieke, geleenthede. Geleenthede wat voorheen nooit daar was nie. Dit is nie dinge wat hulle opposisie graag wil erken nie. Tog glo ek ’n groter verspreiding van mag is goed. Dit is ongesond dat een party al die mag besit.

 

Tog, uiteindelik, sal mens nooit weet wat gaan gebeur nie. Dit bly alles spekulasie. Die media berig dat tot soveel van 46% van alle stemgeregtigdes dalk nie gaan stem nie. Dit is net onder die helfte. Hoe minder mense deelneem, hoe meer krag het elke individuele stembrief. Ek moet sê ek het baie simpatie met hierdie mense. Hulle word vreeslik gekritiseer, maar wat het die demokratiese proses vir baie van hulle gebring? Vir baie mense het min verander sedert die laaste algemene verkiesing in 2009.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s