vervreemding kan baie goed wees vir mense (Teologie vir die twyfelaar 37)

In uitgawe nommer 36 het ek iets geskryf oor my smagting na ’n narratief wat moet verander. En oor my skeptisisme oor slange wat praat. Ek wil tog weer hierby aansluit. Want ek het weer iets wat swaar op my hart le.

 

Soos meeste mense op aarde kry ek met baie uiteenlopende mense te doen. Ek is iemand wat glo daar is mooi in elke mens. Daarom hou ek nie van terme soos ‘goeie mense’ of ‘slegte mense’ nie. Miskien is daar dinge soos boosheid. Daar is waarskynlik sulke dinge. Maar mense is mooi. Ek is mos nou al geruime tyd kampvegter daarvoor dat die kanon uitgebrei moet word, sodat ons die wyshede van oudpresident Nelson Mandela toevoeg. As daardie katelknaap koning Salomo se wyshede gekanoniseer kan word, hoekom nie ook Mandela nie?

 

Nietemin, Nelson Mandela het gesê – die mens word nie gebore om te haat nie. Niemand haat van nature nie. Mense leer om te haat en wat aangeleer word, kan afgeleer word, en vice versa. Dit geld ook vir liefhê. Ons moet leer om lief te he, anders sal ons nooit kan nie.

 

Dit is natuurlik een van die grootste argumente van godsdiens in ons samelewing. Daar word gesê dat godsdiens vir mense moraliteit leer. Maar wat ek elke dag sien, klop nie met die gedagdromery van fanatiese gelowiges nie. Okay kom ons skip die woord ‘godsdiens’. Ek weet dit het ’n vloekwoord geword selfs vir baie godsdienstiges. Kom ons noem dit geloofsisteme.

 

Wat maak dat so baie mense, wat die een of ander geloofsisteem slaafs verkondig, eindig met hoogmoed en onverdraagsaamheid? Hoekom sit mense so graag in kerke en tempels en moskees en glo hulle is beter as andere? Dit gaan die hele tyd so. Ek sien dit amper nooit kom nie maar as ek weer sien dan skemer daardie hoogmoedigheid deur. Daardie – ek en my groepie is beter as almal. En ek is die beste in my groepie. Dit kom maar altyd weer en weer en weer . . .

 

Vandag glo ek, dat baie geloofsisteme, die geneigdheid tot hoogmoed ingebou het in hulle DNA in. Die feit is dat baie geloofsisteme verkondig dat daar slegs een waarheid is, en dat alle mense wat nie daardie een waarheid glo en navolg nie, gaan gepynig en gemartel en verwerp word. In die geval waar ek vandaan kom, het al hierdie wraak wat God op die mensdom neem sy oorsprong in die eet van vrugte, nadat ’n pratende slang die mense oortuig het – ’n slang wat deur God self gemaak is. En nou word daar ’n oond gestook vir my . . .

 

Dis ’n groot anomalie. Hulle sit in hulle glaskastele, en kritiseer mense, maar aan die einde van die dag sit hulle terug en wonder, hoekom luister mense al hoe minder? Ons is dan sulke nice mense!

 

Ek glo nie gelowige mense is ‘sleg’ nie. Daar is nie iets soos ‘slegte mense’ nie. Dit is net dat hulle so besoedel is deur geloofsisteme, dat hulle begin neersien op ander mense. En dit is so verkeerd want uiteindelik is ons almal maar God se skepsels (of dan nou die heelal se ontwikkelinge afhangend van hoe jy daarna kyk). Ons verskil omdat ons ervaringe en agtergronde verskil. Die Muslim is nie, soos wat sommige predikante hier in Bloemfontein beweer, ’n Satanis omdat hy ’n Muslim is nie. Nee!, Muslim het maar net grootgeword in ’n Muslim huis nes jy dalk in ’n Christen huis grootgeword het. En nes jy wil hy die geloofsisteem van sy familie en ouers eer en voortdra. Hy wil nes jy nie daardie tradisies breek nie. Maar nee, tog so maklik en gerieflik sal hy met Satan en Hitler vergelyk word – ’n onskuldige, verdraagsame man en al sy mense . . .

 

Ek dink tog daar kan wigte en teenwigte ontwikkel word in elke geloofsisteem om die verskynsel van hoogmoed tee te werk. Want ek glo nie dit is uit hulleself dat mense hoogmoedig word nie. Daar word miskien geleer dat mense ‘in sonde ontvang en gebore word’, maar ek glo die hoogmoed kom uit die geloofsisteme self uit. Die belangrikste manier om te verhoed dat jy eenogig raak, is om jouself bloot te stel aan ander mense. Eers as jy die gesig agter die gewaad leer ken, dan sal jy sukkel om sommer net mense links en regs as Sataniste te brandmerk. Want dan daag die werklikhede van die lewe jou vooropgestelde geloofsisteem ook bietjie uit.

 

Mag ons almal se fondasies bietjie uitgedaag word elke nou en dan! Dis al manier hoe ons groei en simpatie en insig ontwikkel!

Advertisements

2 comments

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s