Radio Rosestad skuldig bevind aan haatspraak deur die Uitsaaiklagtekommissie (Teologie vir die Twyfelaar 33)

Die Uitsaaiklagtekommissie het die radiostasie Radio Rosestad skuldig bevind aan haatspraak, nadat daar tydens een van die radiostasie se programme beweer is dat volgelinge van die Islamitiese geloof Sataniste is. Tydens die program is Muslims ook met die wreedhede van die Nazi’s en hulle leier, Aldolf Hitler, vergelyk. Die stasie is ’n boete van R 10 000 opgelê. Meer details oor die saak en die vonnis kan hier gelees word.

 

Dit is darem regtig so jammer, so bitter jammer, dat ons deur sommige van ons godsdienstige leiers gevra word om te haat. Te haat en te haat en te haat. Katolieke. Muslims. Gays. Maar so gaan dit met mag. Mense het altyd en sal altyd hulle posisies van mag misbruik om hulle perverse opinies te propageer. Dit is net jammer, dat ’n trotse instelling soos die kerk van Jesus Christus, wat so nou betrokke is by die welstand van ons gemeenskappe, op daardie maniere gekorrupteer word, en dat al die ander vredeliewende Christene op aarde, se naam deur sulke mense deur die modder gesleep word.

 

Laat ons waak daarteen om alle Christene te stereotipeer. Net soos wat ons nie kan sê dat elke Muslim ’n selfmoordbom ekstremis is oor die gebeure van 11 September 2001 nie, so moet ons die Christen broers en susters en hermafrodiete wat verantwoordelike burgers van ons land is ook in liefde aanvaar en hulle geloof, opinies en kulture respekteer en verdra sover moontlik.

 

Maar ek wil net bietjie stilstaan by die volgelinge van Islam. Ek het al verskeie kere in my lewe met Islamiete te doen gekry. Op die klein dorpie Christiana, waar die voetspore van my jeugjare le, was my familie op goeie voet met die Islam handelaars. Op universiteit het ek klas geloop saam met Islamiete. Spesifiek Geskiedenis klasse. Miskien le die probleem daarin dat ons land se godsdienstige leiers nie regtig altyd ’n kritiese insig in die geskiedenis van die mensdom het nie. Hulle neem immers nie geskiedenis op universiteit nie. Miskien is dit hoekom daar sommer so maklik deur van hierdie mense gesê word dat die of daai is Nazi’s . . .

 

Trouens, een van die vyf pilare van die Islam, is om die armes te help. Daar is gevolglik baie Muslims wat elke jaar, jaar na jaar, getrou en liberaal hulle kos vir arm mense gee, en net soos die kerke, ’n reusagtige rol speel in die welstand van mense. Maar nee, hulle is mos nes die “Nazi’s” volgens sommige van hierdie mense . . .

 

Ek lees anderdag hierdie stukkie. Dit is uit die fiktiewe komiese verhaleboek “Leierouderling loop los en ander gemeentegedoentes” en die skrywer is ene Barend Vos. In die verhaal spreek die hoofkarakter, ’n predikant, se vrou hom aan en verklaar: “Jou ou spul professore kon dalk van teologie iets geweet het, maar van mense … bloedweinig!”*

 

Wat my die seerste maak is dat hierdie onverdraagsaamheid in my kerk, die NG kerk voorkom. Nou ja, ek is natuurlik nie erg godsdienstig of gelowig nie. En glo op my manier en op my terme. Maar ek weet daar is nogal dinge waarin die NG kerk leiding geneem het in die verlede, en dit is dinge waarop ek kan sê ek trots is. En dat die kerke ’n onmisbare rol in die gemeenskappe speel. Byvoorbeeld, alhoewel daar waarskynlik steeds ’n sterk patriargale element aan sy struktuur is, was die NG kerk een van die eerste hoofstroomkerke in Suid-Afrika wat vroue tot die hoogste ampte toegelaat het. Daar is ook toenemend groter verdraagsaamheid teenoor homoseksuele mense en uiteindelopende spiritualiteite binne die NG kerk – dinge wat natuurlik nog glad presies is waar dit moet wees nie, maar nogtans is daar al groot vordering gemaak.

 

Maar daar is van hierdie mense, so lyk dit my, wat altyd sal glo dat die enigste mense wat waardig genoeg vir God is, is wit Afrikaner mans van die konserwatiewe politieke oortuiging. Die res van ons . . .

 

En dit is hoekom dit so belangrik is om nooit jou rug totaal op die geloofsgemeenskappe te keer nie. ’n Kerk is immers mense, dis nie net ’n gebou nie. En ons kan nie mense weggooi nie. Ons moet aanhou om aan te dring op regverdigheid. Ons moet altyd aanhou om mekaar se persepsies te bevraagteken en uit te daag. Dit is elke landsburger se plig. Selfs al beteken dit dat jy jou groepie moet aanvat, en daardeur die gees moet versteur, ja, selfs al word jy in die proses vervreem en in die koue gelos, dan moet jy bereid wees om daardie opoffering te maak.

 

*Uit: Vos, B., Leierouderling loop los en ander gemeentegedoentes, Wellington, 2010, p. 65

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s