Die afreis van Abel Lotz – Chris Karsten

Abel

Met die nuus dat daar nou ’n film van die eerste boek van die Abel-trilogie op pad is, is dit heel gepas dat ek die laaste boek in die reeks nou pas klaar gelees het. Ek is opgewonde om te sien wat die film met Abel gaan doen. Gaan hy ewe oortuigend wees? Ek is maar skepties gegewe my ervaring wat ek al met boeke teenoor films gehad het. Een van die min boeke waar die film my baie gehelp het, was “The Da Vinci Code”. Die boek was natuurlik oorlaai met detail waarvan baie in die film weggelaat was. En dit het dit makliker gemaak om die basiese skelet van die storie beter te verstaan. Ek vermoed dat “Die ontwaking”, soos die film glo amptelik gaan bekendstaan, wat maar net kort is vir die titel van die eerste boek – “Die ontwaking van Abel Lotz”, dat daardie film ook noodgedwonge baie nuanse en detail sal moet opoffer, maar, ek is wel opgewonde dat Abel nou ’n groter gehoor gaan kry.

Soos reeds genoem is “Die Afreis van Abel Lotz” die derde volume. Oor die eerste twee het ek reeds geskryf en dit kan hier en hier gelees word.

As daar een ding is wat waar bly, dan is dit dat opvolgboeke of films dikwels nie so goed soos die eerste is nie. As ek die drie Abel boeke moet sorteer volgens my gunstelinge, dan is nommer een eerste, nommer 2 is derde, en dan, hierdie laaste aflewering, sal posisie nommer twee beklee. Die probleem is dat die heel eerste Abel boek eenvoudig net so briljant geskryf is, dat daar nie sommer ’n opvolg sal kan wees wat dit klop nie.

Die tweede boek, naamlik “Abel se Lot”, is ietwat deurmekaar, en dit vat baie lank vir die storie om aan die gang te kom. Daar is ook onoortuigende elemente aan die verhaal, soos wat ek reeds uitgewys het in my plasing oor daardie boek. Sentraal is egter die kwessie dat “Abel se Lot” nie, volgens my beskeie oordeel, daarin slaag om regtig spannend te wees nie. Met “Die Afreis van Abel” verhang Karstens egter die bordjies. Ja, daar is ook sekere elemente aan die werk wat dit ietwat onoortuigend maak. Daar is te veel “noodsaaklike toevallighede” ingebou, wat bietjie ten hemele skree. Ella wat Abel opspoor deur middel van die gekrap op ’n koerant, om maar een te noem. Dit oortuig my nie regtig nie.

Maar die groot sukses van “Die afreis van Abel”, le in die feit dat Karsten daarin kon slaag om ’n uiters spannende einde saam te kon slaan. Dit kry hy reg deur gebruik te maak van die onderwerp van terrorisme, en meer spesifiek, Islamitiese terrorisme. Die terroristiese aktiwiteit word dan gekoppel aan ’n Hollywood glansgeleentheid, en dit sorg vir ’n reuse klomp drama, soos wat Ella Neser spook om Abel vas te trek en Abel se obsessies net meer bisar word.

’n Groot deel van die storie speel af in Europa. Sou so iets ooit verfilm moet word, dan sal dit nie anders kan as om dit in Europa te verfilm nie, wat natuurlik die koste kwaai kan laat opskiet. Tog hoop ek dat al drie die Abel boeke verfilm sal word, veral as die eerste twee suksesvol is, iets wat die tyd maar sal moet leer.

Intussen kan ek die Abel-trilogie nogal ernstig aanbeveel vir enige iemand wat belangstel in misdaadfiksie. Chris Karsten is natuurlik reeds ’n ou hand wanneer dit by misdaad kom. Sy reeks boeke oor ‘ware misdaad’, waarvan ek ten minste twee gelees het, was interessante boeke vir my, hoewel ek eenkeer ’n kriminoloog baie krities daarteenoor hoor uitvaar het. Ek dink tog wel ook dat die skryf van misdaadfiksie Karsten se sterkpunt is. Die probleem le meer by my, want fiksie is nie my groot liefde nie, ek moet myself dikwels maar daartoe dwing om fiksie te lees.

Hoewel Karsten ’n heel unieke aanslag tot die genre het as ander gevestigde skrywers soos Deon Meyer en Karin Brynard (elke misdaadfiksieskrywer het ’n unieke aanslag het ek nou al ook agtergekom, dis wat dit so interessant maak) vergelyk sy werk goed met daardie skrywers. Dit vat iemand met ’n reuse kunstenaarsverbeelding om ’n karakter soos Abel te skep, en dit oor drie volumes met sukses te dra. Ek is dankbaar dat daar mense is wat sulke boeke kan skep, want die lewe sou veel meer saai gewees het daarsonder.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s