Vrouemonument behoort aan alle mense

Hier in Bloemfontein wil daar nou ’n klompie mense uit die gegoede noordelike woonbuurte ’n veldtog begin teen die bestuur van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke. Hierdie mense voel dit is hulle museum en hulle voel dat mense wat nie aan die Boerekant geveg het tydens die oorlog nie, moenie by die museum verteenwoordig word nie. Miskien sal die museum, indien hierdie pilare van behoud hulle sin kon kry, sommer elke liewe enkele foto van Britse soldate en offisiere moet verwyder van die museum. Ook elke artefak wat die Tommie se rol in die oorlog skets. So sal dit ’n eksklusiewe museum word met geen teken van enige ander mens wat aan die oorlog deelgeneem het behalwe die 5000 of wat bittereinders. Want al die joiners en henshoppers sal ook in die proses verwyder moet word. Ook daardie henshopper en joinerfamilies wie se vroue en kinders in die kampe dood is, sal afgetrek moet word van die sowat 27 000 blankes wat dood is in die kampe. Swart kampe sal uit die aard van die saak nie deel vorm van so ’n “museum” nie.

Volgens die artikel moet die ‘Boere’ gekonsulteer word. So daar sal nog ’n verdere klousule by die bogenoemde bygevoeg moet word, naamlik dat daardie ‘Bittereinder Boere’ se nakomelinge wat vandag in die 21ste eeu voel dat die erfenis tog gedeel moet word, nie as deel van die ‘Boerevolk’ kan tel nie. Hulle sal nie deel vorm van die ‘regspersoon’ nie.

Ag nou ja, wat kan mens anders doen as om net maar jou kop te skud. Dit is vir my waarlik jammer dat daar, in hierdie dag en tye, mense is wat nie hulle erfenis met andere wil deel nie. En ons kan sommer aanneem dat, as daar in Bloemfontein nog sulkes rondloop, dat daar oor die hele land nog sulke mense is.

’n Mens verarm nie jouself wanneer jy jou erfenis met andere deel nie, die teendeel is eerder waar. By die bekendstelling van die Vrouemonument, het Emily Hobhouse in absentia opgemerk dat “We claim it as a world-monument, of which all the world’s women should be proud.”

Die Anglo-Boereoorlog van 1899 – 1902 is baie goed gedokumenteer, en daar bestaan vandag talle publikasies wat die rol van al die mense van die land bewys. Dit is geen wonder nie dat daar heelwat mense is wat verkies om van die ‘Suid-Afrikaanse Oorlog’ te praat. Spare a thought (as ek nou die Ingels hier mag inspan), vir hierdie mense. Ook húlle families is in kampe dood. Ook húlle seuns en pa’s en broers is gevange geneem en ver oor die water dood in krygsgevange kampe. Ook húlle gemeenskappe het die smart en trauma ervaar van verskroeide aarde.

Van hulle het aan die Boerekant geveg. Daarvan is onteensegtelike bewyse. Baie het egter aan die kant van die Britte geveg. Wat ook histories verstaanbaar was. Ons moet onthou dat daar voor die oorlog in die Kaapkolonie, stemreg was vir swartmense. In die Boererepublieke, is swartmense amper soos slawe behandel. In die Vrystaat was dit besonder erg, met amper elke aspek van hulle lewens wat gereguleer was. Die lewe in Kaapkolonie onder Britse beheer was natuurlik ook geen partytjie vir swartmense nie, maar daar had hulle ten minste verteenwoordiging, en deur aan Britse kant te veg, het baie swartmense geglo dat, met die Boererepublieke onder Britse beheer, sal daar ook in daardie gebiede stemreg vir swartmense aanbreek, en dat dit tot groter seggenskap vir swartmense daar lei. Dit het toe nooit gebeur nie. Na die Uniewording in 1910 het die Kaap vir ’n wyle nog hulle stemreg vir swartmense behou, maar dit moes ook maar uiteindelik die knie buig.

Die verlede behoort aan geen individu, of ras, kultuur of godsdiensgroep nie. Dit is ons almal se eiendom, waarop ons almal aanspraak het.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s