Teologie vir die Twyfelaar 24: ’n Filosofiese besinning oor die rol van tegnologie in godsdiens

Ag nou ja, ek is geen filosoof nie. Ek filofiseer maar so op my manier. Ek weet net nie of hierdie onderwerp ter sake al ooit, op enige manier, in Afrikaans aangeraak is nie. Dalk is dit. Ek lees nie elke liewe akademiese tesis of artikel nie, daar is in elk geval so stroom van teologiese navorsing dat geen normale mens kan byhou nie. Jy sal 24/7 moet lees. Maar ek het eenkeer ’n boek gelees wat die onderwerp aangeroer het, dit was ’n Engelse boek, by name ‘God is back: How the global revival of faith is changing the world’ deur John Micklethwait en Adrian Wooldridge. As ek reg onthou, dan was die een skrywer ongelowig en die ander ene gelowig – wat net weereens onteenseglik bewys dat verskillende mense wél sinvol kán saamwerk! Anders as wat ekstremistiese gelowiges en ateïste jou sal wil wysmaak.

Wel, Micklethwait en Woolridge skryf daar in hulle boek dat die tegnologie tot spesifiek die Christendom se voordeel gewerk het. Dit is die mense self wat dit vir hulle laat máák werk het. As ek maar net terugdink, hoe dinge verander het, in die 28 of wat jaartjies wat ek al lewe . . . As kinders het almal nog Bybels en Psalm & Gesangeboeke kerk toe gedra. Die kerk had altyd so ekstra hopie van dié sangboekies, vir besoekers of wie ook al hulle sin vergeet het.

In die VSA, so het ek eenkeer gehoor, het daar ’n baie mooi tradisie ontstaan uit wat eintlik ’n menslike tragedie was –slawerny. Die slawe was op die wreedaardigste, onmenslike wyses uitgeruk uit hulle bekende gemeenskap. Laat staan nou maar eers wie se skuld dit was die wit seevaarders/kolonialiste of die swart slawehandelaars, dit maak nie saak nie want dit verander nie aan wat gebeur het nie. Nietemin, hierdie mense was nie as mense behandel nie en was dus ongeletterd, maar die geloof van hulle meesters het ook vir hulle iets geword om aan vas te klou – ’n fondament van hoop. Omdat hulle arm en ongeletterd was, het hulle nie eintlik liedboeke besit nie, maar hier en daar het darem iemand rondgeloop wat lekseltjies Westerse geletterdheid gekry het. Dié is dan ingespan tydens die eredienste. As daar gesing word, dan sal dié persoon die enigste sangboekie wat daardie dag in daardie armsalige stoor of huisie of wat ook al wat as hulle kerkgebou gedien het, dan sal hy of sy die boekie neem, en soos wat almal sing, sal die woorde algaande hardop vooruit geroep word, en dan sing die res die woorde agterna, nadat hulle gehoor het wat hulle moet sing.

Nietemin, daardie dae is nou alles iets van die verlede. Vandag het ons bigscreens in die kerke. Daar word foto’s gewys van gemeentelede en hoe die kinders baljaar het by die basaar. En die liedere word op die skerm vertoon, sodat mense vandag nie meer Bybels en liedboeke hoef saam te neem nie. Tegnologie het beslis die manier beïnvloed hoe mense hulle spiritualiteit uitleef. Die hele Bybel is digitaal beskikbaar, met al die gerieflikheid wat daarmee saamstap, soos die soekfunksie.

En dan is daar natuurlik die internet, o aarde. Facebook en Twitter ens. ens. Elke dag word daar miljoene godsdienstige skakels op hierdie en stringe ander sosiale netwerke geplaas. Mense bemoedig en troos mekaar, en ruil idees.

Maar dit is juis ook hierin waar daar vanuit die oogpunt van gelowiges ’n groot skadukant is. In die jare toe ek self aktief was by kerke, het dit gebeur dat mense boodskappe sal los op die een sosiale netwerk, maar nie almal sien dit nie. Dalk was die week te gejaag. Dalk het die persoon nie toegang tot daardie spesifieke netwerk of tegnologie nie. En so word die een outjie dan uitgesluit, deur miskommunikasie, ten spyte van al die baie kommunikasiemiddele tot beskikking ja, kom daar reuse miskommunikasie!

En dan, die ding wat my die mees bekommerdste sou maak as ek nou in die godsdiens game was, dan is dit dié ding dat daar darem nét te veel godsdiens in ’n week ingeprop word. Ook dit is deels te wyte aan tegnologie, want elke dag is dit net godsdiens op Facebook, en godsdiens op Twitter, en godsdiens op die radio, en godsdiens op Kyknet, en godsdiens per teksboodskap, en dis godsdiens en godsdiens en godsdiens oral, tot by die Boeremark hier in Bloemfontein huur hulle stalletjies waar pamflette in jou hand geprop word wat jy kan lees terwyl jy jou sosatie met jou gemmerbier afsluk.

Dit werk uiteraard teenproduktief want teen die tyd wat Sondag kom vra jy – kan ek net bietjie wegkom van godsdiens af? Net om asem te skep. Sondag is terloops vir my die heel ergste want ek is lief vir radio luister maar jy kan maar vergeet daarvan, ja, Sondae het my weer die waarde van CD’s laat ontdek – ek het so paar van hierdie ou stukkies tegnologie wat die CD is wat hier rondle, en nou maar Sondae ingespan word.

My gevolgtrekking dus – tegnologie is ’n saak met twee kante wanneer dit by godsdiens kom. Dit word dikwels met vrug deur mense gebruik om hulle spiritualiteit uit te lewe, maar ander kere werk dit ook teen hulleself en benadeel dit die samehorigheid van hulle gemeenskappe.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s