Wadehel Rapport?!

Rapport Nuusbus (Foto: Morné van Rooyen/Afrikaanse Wikipedia)

Almal wat my ken en sommige wat my nie ken nie sal weet dat ek weinig sin het aan sogenaamde ‘regse’ Afrikaner politiek. Hoekom presies jy water reservoirs wil besoedel en duisende der duisende onskuldige kinders, volwassenes en diere siek wil maak omdat jy ’n probleem het met die African National Congress se leierskap gaan absoluut my verstand te bowe. Ek is dan ook nie ’n groot aanhanger van instellings soos die sogenaamde Boeremag, die Boerekrisisaksie of PRAAG nie. Net anderdag toe gaan probeer ek ’n stuk lees van doktor Dan Roodt, wat ek wonder bo wonder deurgelees gekry het.

Dit lyk my mens moet oppas om van die ou te verskil. Want as jy hom gaan kwaad maak gaan hy ’n ellelange tirade teen jou skryf in die styl van: Barend is baie dom. Hy is uiters dom. Hy is regtig onnosel dom. Hy is laer as ’n primaat dom. Hy het nie kwalifikasie aan ’n Franse universiteit nie. Hy is verskriklik dom en praat nie goeie Afrikaans nie omdat hy so dom is.

Dit is om en by hoe die doktor oor Pierre de Vos geskryf het.

As sulks het ek nog nooit deelgeneem aan enige ‘boikot NASPERS’ veldtog nie, hoewel ek graag die koerante kritiseer wanneer ek voel kritiek moet uitgespreek word (en vandag is ook een van daardie dae). Dit sal vir my net eenvoudig ’n tragiese dag wees as die Afrikaanse koerante verdwyn.

Maar daar kom tog tye wat mens nie anders kan as om die gevoel te kry dat NASPERS wel soms hulle lesers teister, soos wat al hierdie ‘Boikot NASPERS’ mense heeltyd beweer nie. Die Rapport wat ek vandag gekoop het, het volgens my een van die swakste stories as voorblad gekies wat hulle moontlik kon. Die Waterkloof 4. ’n Video. Ja, dit sal miskien gewerk het op ’n geelpers koerant se voorblad, maar die hele saak laat ’n suur smaak in die mond.

En nee, dis nie nuuswaardig nie. Gaan ’n mens terug na die wortels van hierdie saak, dan is die gedrag van die menere en ook hulle families geensins onverwags of ’n skok nie. Trouens, ek dink hierdie mense geniet al die aandag wat op hulle gevestig word. Hulle het daardie jare al ’n ‘cowboy boyband’ beeld gehad. En geen berou getoon nie, en skynbaar niks omgegee nie.

Daar is baie mense soos die Waterkloof 4. Hulle is nie uniek nie. Maar mens sukkel om te verstaan hoekom juis húlle aandag kry. Ek kry die indruk dat Rapport dalk ’n persoonlike vendetta teen hierdie mense het. Of so nie, is dit dalk grootliks ’n poging om die koerant te verkoop met sensasie. Jare gelede, toe die daad gebeur het waarvoor hulle uiteindelik tronk toe was, was die storie wel nuuswaardig. Vandag is dit nie meer nie. Dis ’n verkiesingsjaar. En hierdie menere, oppervlakkig soos wat hulle ook al mag wees, het wel darem hulle vonnis uitgesit. Daar is mense wat losgelaat is omdat hulle kamstig ‘dodelik siek’ is, en dan mense aanrand en doen net wat hulle wil, alles omdat hulle die regte vriende het.

Wat my bo alles pla van hierdie voorbladstorie in vandag se Rapport, is die feit dat dit op die grens le van die stereotipering van wit blanke Afrikaanse mense. Dit was ’n nare ding wat gebeur het, en was ’n simboliese uitspeling van hoe mense die land gesien het daardie jare, en tot ’n groot mate vandag nog sien. Dit was die jaar 2007, en Thabo Mbeki was nog ons land se president. Mbeki het altyd gepraat van die 2 ekonomiese groepe in Suid-Afrika, een ryk en grootliks wit, die ander, grootliks arm en swart. Sedertdien het die land nie veel verander nie. Die gemiddelde swart Suid-Afrikaner verdien minder as R2500 per maand, teenoor die gemiddelde blanke wat om en by R 10 000 per maand verdien.

(Laasgenoemde, so terloops, vermoed ek, is die grootste enkele rede hoekom die Demokratiese Alliansie regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging steun, dinge wat soortgelyk is aan die ou Suid-Afrika, waar werksreservering aan die orde van die dag was. Die feit dat doktor Pieter Mulder so lang klag in die koerant hieroor geskryf het is nogal baie ironies)

Maar die Waterkloof 4 is NIE verteenwoordigend van die tipiese blanke Afrikaanse witmens in Suid-Afrika nie.

Ter versagting moet ek sê van Rapport, dat daar op die kwessie van geld gehamer was. Die woord ‘geld’ verskyn dan ook in die subopskrif. Daar word nie van ras in hierdie stuk gepraat nie, maar ongelukkig het hierdie saak baie baie bagasie en staan dit in die skadu van rassespanning.

In kort is dit nie ’n goeie voorblad nie. Hierdie storie verdien nie die voorblad nie. Dit is sensasioneel en tog eintlik vervelig. Natuurlik is nie alle ryk Suid-Afrikaners se gedrag soortgelyk nie, maar die van hulle wat so wil maak kan, want hulle het die geld. Hulle kan ook soesji eet van kaal vroue se lywe, en dié doen hulle ook, die wat voel hulle wil.

Ek hou daarvan om Afrikaans te kan lees, maar was dit nie vir die feit dat ek graag die Loopbaan gedeelte van die koerant wou sien nie, dan het ek nie vandag die koerant gekoop nie.

Advertisements

2 comments

  1. Barend jy maak ‘n stelling ” Hoekom presies jy water reservoirs wil besoedel en duisende der duisende onskuldige kinders, volwassenes en diere siek wil maak omdat jy ’n probleem het met die African National Congress se leierskap gaan absoluut my verstand te bowe” wat onwaar is dan dig jy dit aan mense toe wat jy opstel om af te skiet, ek dink jy m
    oet herbesin.

    • Dankie Louw. Ek het klaar herbesin en voel nog dieselfde. Sover my kennis strek het die polisie hierdie mense in 2012 in onse dorpie betrap met die gif in hulle besit. As jy ander feite het wat meer lig op die onderwerp kan werp sal ek dit graag wil hoor.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s