Teologie vir die Twyfelaar 20: Maroela Media maak ’n fout deur die ANC as gewetenlose ateïste uit te kryt

Ons ken almal die storie. Karel Marx het iewers geskryf dat godsdiens die ‘opium van die massas’ is. Dit word gebruik om die mensdom te onderdruk. Dit word gebruik deur die maghebbers van die land. Maar omdat hy hierdie opmerking gemaak het, en omdat sekere magtige en invloedryke gelowiges glo dat godsdiens verhewe is bo kritiek, word daar al te graag tot die gevolgtrekking dat kommuniste reg deur die bank ateïste is, en dat hulle daarom mense is met geen gewetens en moraliteit nie (soos wat alle ateïste mos kwansuis is volgens hierdie interpretasie).

Ek sien al hoe sit die oompie terug in sy stoel en sluk bekommerd aan sy koffie, en draai na sy vrou – kyk mammie, hulle is nie goeie Christene soos wat ons is nie . . .

Dat die ANC se leiers godsdiens gebruik in hulle politieke veldtogte, dit verbaas my nie die minste nie. En dis goed om hulle te kritiseer. Ek verwelkom dit. Dit hoort so. Maar om darem te impliseer dat die ANC as geheel ’n klomp goddelose ateïste is, soos wat die skrywer duidelik impliseer, ek haal aan “Hoe verskil dit wat die ANC doen van die aanslag van partye met ’n godsdienstige inslag” . . . En dan is dit “die Christen-politikus dit” en die “Christen-politikus dat”. Maar ek herinner my aan ’n sekere Paul Kruger, wat met sy politieke veglus by die krygsraadvergaderings gaan staan het en met sy Bybel vir mense vertel het dat die Here aan die Boere se kant is en daarom sal die oorlog ‘gewon’ word en daarom moet hulle aanhou veg.

O ja, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (wat die norme van Afrikaans bepaal en besluit wie se Afrikaans is ‘standaard’ en wie s’n nie), veg en pleit en baklei dat daar tog net meer en langer stukke oor Paul Kruger in die geskiedenisboeke moet staan. En hulle skryf self algemene geskiedenisboeke oor die ‘Geskiedenis van Suid-Afrika van Voortye tot vandag’ waarin die naam Charlotte Maxeke nie eens voorkom nie.

Maar by Paul Kruger bly dit nou ook nie juis nie hoor. So was daar die Katolieke, wat die kruistogte gevoer het op godsdienstige redes. Die kruistogte wat maar in niks anders as ’n roof en plunder tog ontaard het nie. Ek sien die Katolieke se huidige pous, Fransiskus, het anderdag tot die gevolgtrekking gekom dat tot selfs ateïste ook darem eendag die paradys sal ingaan. Dit was natuurlik nie altyd dat die Katolieke sulke dinge kwytgeraak het nie.

En wat van die Nasionale Party, met hulle beleid van apartheid? Apartheid wat deur die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke tot ’n ‘sonde’ verklaar is en wat met die Bybel geregverdig was? Om die waarheid te se, soos ek hier sit en tik, is daar ’n groepering binne die Hervormde Kerk (wat deesdae buite die Hervormde Kerk is), wat baie baie sterk voel dat apartheid darem deur die Bybel as ’n opdrag van God beskou moet word . . .

Daar is baie lande ter wêreld wat nie kommunisties is nie, maar waar aborsies ook toegelaat word. Die VSA is een. In Europa is daar sulke lande.

Self is ek nie ten gunste van aborsie nie. Ek is ook nie regsgeleerd nie. Maar my vermoede is dat mense in Suid-Afrika, wanneer hulle aborsie wil verban, hulle die Grondwet sal moet verander. Die Grondwet verwys nie eksplisiet na aborsie nie, maar wel na die reg tot aanwas en die mediese sorg daarby betrokke. Dit kan die ANC self nie eens doen nie, en ek vermoed na die 2014 verkiessing sal hulle steun selfs verder van die 2/3 meerderheid wegdryf om dit wel te doen. Hierdie Grondwet, laat ons nie vergeet nie, was onderhandel deur al die partye van Suid-Afrika, ook die Nasionale Party, van wie die president ’n lid van die Gereformeerde Kerk was en sover ek weet steeds is.

Hierdie besinning van my gaan nie oor aborsie nie. Dit gaan oor Maroela Media se interpretasie van nuus wat my irriteer. Die eenvoudige waarheid is dat die gemiddelde ondersteuner van die ANC is ’n diep diep godsdienstige mens, wat patriargale waardes najaag, nes die voormalige ‘wit’ kerke van Suid-Afrika. In hierdie verband beveel ek Andre Odendaal se boek ‘The Founders: The Origins of the African National Congress and the Struggle for Democracy in South Africa” aan. Die heel eerste president van die ANC, John Dube, was ’n groot kokkedoor en dominee in sy kerk. “Through the churches”, skryf Odendaal in sy boek, “long-articulated African ideas and notions of African unity were given organisational content and became more visible in the politics of the educated activists” (p 199)”.

En net so terloops, onse eie Jeremy Cronin, is ook lid van een of ander kerk.

Ek is mal oor Maroela Media. Sover dit Maroela se feitlike verslaggewing betref, is hulle dikwels baie tops en ek is dankbaar vir die kapasiteit wat Maroela aan Afrikaans/Nederlands gee. Maar o wee, wanneer hulle by die interpretasie van nuusgebeure kom, dan val Maroela Media totaal en al uit die bus uit. Ek wil weereens verwys na ’n stuk wat Max du Preez in 2013 geskryf het, wat ek voel mense maar gerus weer kan gaan lees en herlees. Ek wens tog so dat die dag sal kom wat mense sal ophou om mekaar op grond van ras te tipeer in hierdie land. En ook op grond van godsdiens.

As mense maar net die bietjie moeite wil doen en uitgaan en swart mense se siele gaan leer ken, dan sal jy agterkom dat baie mense wat vir die ANC stem, glad nie die gewetenlose, kommunistiese ateïste is wat Maroela Media hulle voor uitkryt nie. En selfs dies wat wel ateïste en/of kommunisties is, is ook nie noodwendig gewetenloos nie. Nie eens al die kommuniste is ateïste nie!

Hulle het maar net ’n ander lewensuitkyk as die meerderheid mense van die land.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s