Wantrou enige regering wat die doodstraf kan uitvoer!

Die Britse Timothy John Evans was ‘n ter dood veroordeelde onskuldige. Weens sy saak is die doodstraf in die Verenigde Koninkryk afgeskaf (Foto:Wikimedia Commons)

’n Leser skryf hoekom hy die herinvoering van die doodstraf in Suid-Afrika steun. Ek kan nie meer van hom verskil nie. Ek wantrou enige staat wat die doodstraf gebruik, verseker met die huidige tegnieke om “bewyslas”, soos DNS-state, te kan gebruik en te manipuleer.

Die Afrikaanse (en Nederlandse) woord ‘doodstraf’ vertel nie lekker die status van die straf nie. Soos tronkstraf, taakstraf is die doodstraf ’n tipe straf. In Engels word die straf egter aangedui as ‘Capital punishment’, wat vertaal kan word as hoofstraf, swaarste straf, hoogste straf of selfs finale straf.

In Nederland is die doodstraf reeds in 1870 afgeskaf. Artikel 114 van die Nederlandse Grondwet verbied die doodstraf in alle omstandighede, ook in tye van oorlog. Die laaste Nederlandse doodstraf is op 31 Oktober 1860 om 10:00 in die oggend voltrek.

Suid-Afrika het die doodstraf de facto afgeskaf in Februarie 1990 en die moontlikheid is in 1996 uit die strafwetboeke geskrap. Dit is nie sonder rede. In Suid-Afrika het tussen 1959 en 1990 amper 3 000 mense die doodstraf gekry. Die bewyse dat die doodstraf in Suid-Afrika rassisties was, is groot.

Tussen Julie 1982 en Junie 1983 het ons die volgende statistieke gekry:

  • Van die 83 swart mense wat wit mense vermoor het, het 38 die doodstraf gekry (46%).
  • Van die 52 mense wat wit mense vermoor het, het slegs 1 die doodstraf gekry (2%)
  • Van die 21 mense wat swart mense vermoor het, het niemand die doodstraf gekry (0%).

Hoewel 75% van die interrassige moorde swart daders en wit slagtoffers geken het, beteken dit dat wittes in verhouding meer swart mense vermoor het, omdat wittes (ook in die Suid-Afrika van 1982) geen 25% van die bevolking was nie. Dit beteken ook dat wit mense  met 1 moordenaar per 190 500 mense meer interrassige moordenaars in hul midde gehad het as swart mense, wat 1 interrassige moordenaar per 253 000 mense gehad het.

Dit terwyl die ter dood veroordeeldes vir interrassige moorde 100% swart was.

En ja, dit is syfers wat deur die destydse apartheidsregering verskaf is.

Ek beskou interrassige moorde nie anders as enige ander moord nie. Dit is ‘n moord en iemand is dood. Die velkleur of afkoms is nie ter sake, tensy daar genoside of ’n politieke moord gepleeg word. Tydens apartheid was interrassige moorde per definisie politiek, maar ek stem nie saam met daardie definisie. ‘n Politieke moord is ‘n moord wat uit politieke idees (rassistiese idees is ook politiek) gepleeg word. Die “lucky” feit dat ‘n moord tussen verskillende rasse plaasvind, maak die moord nie per definisie rassisties nie. Buitendien haat ek die konsep van ras en ek dink dit is totaal oorbodig.

Waarom ek teen die doodstraf is? Omdat dit altyd misbruik kan word deur die regime wat die land bestuur. Verseker in die huidige tyd waar forensiese eksperte daarin slaag om met DNS te werk, is dit baie maklik vir ’n regering om die bewys teen jou te “maak”.

Die Nederlandse regering is in besit van my vingerafdrukke sowel as my DNS-state. Burgers moet dit standaard afgee om ‘n paspoort of identiteitsbewys te kry. Dit beteken dat die staat die belangrikste “bewys” in enige saak teen my kan fabriseer, want vingerafdrukke en DNS-state is die belangrikste bewyse van byvoorbeeld jou aanwesigheid.

Om van die kans dat ’n onskuldige vermoor word nog nie eens te praat nie.

Suid-Afrika is ’n land waarin die staat nie werk nie. Dit faal. Dit is willekeurig. Hoekom sou enigiemand aan so’n staat die magtigste strafmiddel wil toevertrou?

Die openbare aanklaer sou in die Boeremag-saak en vergelykbare sake verseker die doodstraf geëis het, nes die openbare aanklaer in 1963 die doodstraf teen Nelson Mandela en kie geëis het.

Ek sou my regering nooit die doodstraf toevertrou nie. Verseker nie as ek deel was van ’n minderheid wat die regering nie steun nie en wat nie deur die regering gesteun word nie. Ek sou ’n voorstel vir invoering van die doodstraf verseker nie steun as as ek deel was van ’n minderheid wat die huidige regeringsparty voorheen onderdruk het nie.

Moet ons die ANC (of enige ander piesangparty/piesangrepubliek) die moontlikheid gee om die doodstraf uit te voer? Nee, dankie.

Advertisements

2 comments

  1. Enige regering kan ter enige tyd die doodstraf misbruik as dit net gebruik gaan word vir politieke doeleindes om van teenstanders ontslae te raak. In n regverdige demokratiese stelsel waar reg en geregtigheid voorrang geniet,behoort dit nie n probleem te wees nie. Natuurlik moet baie dinge in Suid Afrika verbeter en een daarvan sal wees n regering wat dinge laat werk en vertroue inboesem by die mense. Dan behoort gewone burgers nie die doodstraf te vrees nie,maar die misdadigers wel. Wette en strawwe is eintlik daar vir diegene wat dit nie wil gehoorsaam nie en wil oortree,terwyl mense wat die regte dinge doen,dit nie nodig het nie. Daar moet egter orde in n samelewing wees en daarom sal daar altyd wette en dies meer wees. Ek verstaan wat jy sê,Christian.

  2. Ek stem saam met Frik i90Christian.

    Natuurlik is daar mense wat onskuldig ter dood veroordeel word. Maar dit is die absolute minimum. Hoe beter die regstelsel is, hoe minder sal dit gebeur dat mense onskuldig ter dood veroordeel word.

    Ek verskil wel van Frik waar hy, in sy eie opiniestuk oor die saak, verklaar dat die doodstraf as afskrikmiddel dien. Dit skrik baie min mense af.

    Maar dit is nie die punt nie. Die punt is, daar is sekere soorte misdade, waar ‘n tronkvonnis net eenvoudig nie reg laat geskiet nie. Daar is sekere soorte misdadigers wat onreabiliteerbaar is. Hulle misdade is van so aard dat hulle die enigste menslike en waardige straf wat hulle toekom, is die doodstraf.

    Dit is vir hierdie tipe misdade wat ek ook voel die doodstraf is gepas.

    ‘n Man wat ‘n onskuldige vrou se tepels afsny. ‘n Man wat tienerdogters verkrag en aanrand en vir die dood los. ‘n Man wat ‘n baba verkrag. Sulke mense kan nie op staatsonkoste en met my belastingeld aand die lewe gehou word nie.

    Ons kan die geld veel eerder gebruik om die ou wat ‘n brood gesteel het te reabiliteer, want vir daai ou is daar nog hoop.

    Nee wat, ek is ook van mening – bring die doodstraf terug!

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s