Teologie vir die Twyfelaar 19: Dis soms nodig om swak te wees, soos wat die NG kerk van beskuldig word deur HCJ Flemming

Daar heers die afgelope paar weke al weer ’n debat in die media oor die relevansie van die kerk, spesifiek die NG kerk, en dan word daar gefokus op die redes hoekom die NG kerk krimp. Ek bestudeer al baie jare die NG kerk, en een ding wat vir my uitstaan is dat die kerk se einde al sedert die 1980’s voorspel word, maar die NG kerk is nog met ons. Krimpend is dit, maar nog met ons. Elke klompie jaar woed hierdie debat. Wat my egter beïndruk van die afgelope tyd, is die relatiewe vriendelike manier waarop gedagtes en opponerende idees uitgeruil word.

Saterdag was daar ’n stuk in Volksblad, deur ene Van Niekerk, as ek dit nie mis het nie, waarin hy skets hoe die kerk en die land onherroeplik verander het sedert die 1980’s, en hoe dat reuse veranderinge nog sal voorlê.

Daarmee, stem ek nogal saam.

Sondag, sommer twee lang opiniestukke in Rapport. Albei oor die NG kerk. En twee uiters uiteenlopende stukke. Braam Hanekom skryf vanuit die binnekamer van die NG kerk. Hy is immers een van hulle top leiers. En teenoor hom, ene HCJ Flemming. Twee opiniestukke so uiteenlopend dat mens amper wil sukkel om te glo dit kom uit die penne van twee lidmate van dieselfde kerk.

In terme van die meer tradisionele (tradisioneel in terme van dogma) kerke in Suid-Afrika, het die NG kerk homself nou geposisioneer as ’n kerk wat ’n uitdaging stel aan die wêreld. Ek is self ’n rustende lidmaat van die NG kerk. Ek gun andere hulle gelowe en opinies en vra maar net dat dieselfde vir my gegun word. Vir my het die NG kerk al baie verander, maar dit verander nie gou genoeg nie. Wat die rede is hoekom ek maar sukkel om waarlik voluit deel te he daaraan. Ek dink die dag toe ek besef het dat dinge is nog lelik skeef, is die dag toe ek in ’n selgroep gesit het en besef het dat die mense wat saam met my daar sit glo dat Adam en Eva ware historiese mense is wat werklik van ’n boom se vrugte geëet het en so die mens tot ‘sonde’ gebring het.

En, dat hierdie mense van andere verwag om dieselfde te glo en dat hulle dit as norme van goeie geloof stel. Dit was die heel heel laaste strooi wat my laat uitstap het.

Maar eintlik is die NG kerk ’n plek waar uiteenlopende spiritualiteite gehuisves word, en waar jy lankal nie meer deel van die hoofstroom spiritualiteit HOEF te wees om ook deel te he aan als nie.

Dit is inderaad, soos Hanekom tereg opmerk, gevaarlik om die NG kerk se sukses bloot te meet aan die aantal lidmate wat dit verloor het. Dit is wel ’n faktor waarvan kennis geneem moet word, maar die alfa en die omega is dit ook wel nie. ’n Mens kan die NG kerk nogal goed vergelyk met die ANC. Elke dan en wan, dan sê mense (ek inkluis) dat die drieparty alliansie nog nooit so verdeeld soos juis nou was nie. Maar wat gebeur telkens? Diegene wat verdeling bring verdwyn, en hoewel die party paar stemme kwyt is, stap dit sterker, meer vaartbelyn en meer giftig uit die deal uit.

So is dit met die NG kerk.

Wat my miskien die meeste irriteer van kerke in Suid-Afrika, is dat die kerk amper totaal en al ingesluk is deur die patriargie. Hierdie feit is miskien die enkele grootste rede hoekom ek weier om kerkdienste by te woon, en my aktiwiteite te beperk tot die koop van koekstruif en braaivleis by die kerkbasare. Patriargale dominansie is natuurlik amper so oud soos die kerk self. Vir baie lank kon vroue gladnie preek in die kerk nie. Inderdaad is daar nog baie kerke waar vroue maar moet stilbly soos die antieke geskrifte beveel. Hulle mag darem sing.

Die NG kerk het wel ’n skuif gemaak, maar dit is en ’n bly meer dikwels as nie, ’n plek waar patriargale waardes soos geld en titels nagejaag word. Ons word geïndoktrineer deur vooropgestelde idees oor wat ‘manlikheid’ en wat ‘vroulikheid’ behels. ’n Man is iemand wat genoeg geld moet verdien om ’n huisgesin met ’n tuisblymamma en orrelpypies gerieflik te onderhou. Kry hy dit nie reg nie, is hy basies ’n mislukking as mens.

Daarteenoor is die rol van die vrou om te trou en kinders vir haar man te baar en die huis te onderhou. Dit is haar grootste lewenstaak. Saterdag by die braaivleis spog pappa by sy pelle hoe dit ’n voltydse werk is om vir vroutjie “agter die stoof en op die paal te hou”.

In hierdie patriargale lewensmodel is daar nie plek vir twyfelaars, vir gays, vir mannetjiesvroue en vir Muslims nie. Dis hoekom die dominee nie skroom om op die radio te klim en te vertel dat Muslims ‘Sataniste’ is nie.

Maar tog. Daar is ook ’n ander kant aan die NG kerk. Daar is ’n gedeelte van my kerk wat die seerkry van ons gemeenskap probeer regmaak. Mense wat gaan en wat probeer uitreik na die wrakke wat die patriargie agterlaat. Mense wat vroue, gays, Muslims en twyfelaars as hulle absolute gelykes beskou.

Die kerk is gelukkig ’n plek wat homself deurlopend herskep en vernietig, herskep en vernietig. Dis net dat verandering nie altyd oornag gebeur nie. In 1998 het ’n Dopper, wyle Wimpie de Klerk, broer van die baie bekende FW de Klerk, egter gewaarsku dat die kerk vinnig sal moet begin om sy belydenisskrifte te hersien. In sy boek ‘Die vreemde God en Sy mense’, het De Klerk geskryf dat hierdie proses verkieslik binne 4 tot 5 jaar afgehandel moet wees, maar op die langste 9 of 10 jaar.

Waar is ons vandag? 14 jaar later? Ons het nie veel gevorder nie. In plaas van om bekommerd te wees oor ’n belydenisskrif soos die Nederlandse geloofsbelydenis, wat vir ons wil vertel dat elke woord in die Bybel ‘waar’ is, stry ons katte en honde oor ’n belydenisskrif wat vir ons vertel dat daar geregtigheid tussen mense moet wees.

Ons weet dat nie elke liewe woord in die Bybel korrek is nie. Matteus en Lukas bevat teenstrydige stambome vir Jesus. Daar is stringe en stringe teenstellings historiese verdagte dinge aan die ou geskrifte. Die Bybel is dikwels ook aangepas en verander deur mense.

Ons weet ook dat daar ’n veranderende metateks is waar dit kom by iets soos Adam en Eva. Duisende der duisende akademiese artikels weerle die verhaal van Adam en Eva. Beteken dit dat daardie verhaal totaal onwaar is? Nee, nie noodwendig nie. ’n Verhaal hoef nie histories waar te wees om waarheid te bevat nie.

Maar nou ja, die patriargie, waarvan van ons grootste mans sowel as vroueleiers in die kerk proseliete is, verkies die storie dat sonde, deur Eva, in die wêreld ingekom het. En dat die man daarom oor die vrou moet heers. En dat ’n man wat nie heers nie misluk. En al daai jazz.

Die kerk verander vir my te stadig. Maar ironies genoeg, wanneer ons praat van verandering in die kerk, dan staan my kerk, die NG kerk, heel dikwels op die voorpunt van verandering. En daarvoor moet ek hulle tog gelukwens. So ver my kennis strek, was die NG kerk die heel eerste Gereformeerde kerk in Suid-Afrika om vroue tot die amp van dominee toe te laat. En dis die rede hoekom ek verkies om eerder rustende lidmaat in my eie kerk te bly, as om byvoorbeeld ’n Baptis te gaan word.

Om te glo dat God en Jesus daar iewers anderkant Mars in die uitspansel bly, is nie vir my aanvaarbaar nie.

Hier staan ek, Barend, seergemaak deur my kerk, maar ek bly lief vir my kerk. Ek glo dis die kerk waarin ek moet werk om die nalatenskap van apartheid en kolonialisme teen te werk. Soveel te meer omdat dit my kerk was wat apartheid uit die Bybel regverdig het, het ek ’n plig in my kerk. Die NG kerk is ook vandag dié kerk waar twyfelaars en stukkende mense al meer en meer (en hopelik in die toekoms NOG meer en meer) welkom sal wees. Dis dié kerk waar die patriargie uitgedaag word en daagliks tot in sy fondamente geskud word.

Want stukkende mense is koningskinders en hulle het ook ’n uiters belangrike rol om te speel (Mat 28: 17 – 19).

Nkosi Sikele Afrika.

Amen.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s