Teks en metateks in die konteks van Bybelse verhale (teologie vir die twyfelaar 18)

Die titelblad van die Statenvertaling, die eerste Bybel in Nederlands. Dit is tot 1933/35 in Suid-Afrika gebruik. (Foto: Wikimedia Commons)

Dit is ’n anachronisme om te veronderstel dat antieke mense op dieselfde wyse as moderne mense gereageer het op tekste. Een eenvoudige voorbeeld. Daar was nie iets soos die drukkuns in die jare toe die eerste boeke van die Bybel geskryf was nie. Skrywers het dan ook nie in die sentrum van die teks gestaan, soos wat later van tyd die geval sou word nie. Nee, ’n skrywer was bloot maar gesien as ’n tussenganger tussen die hoorder/leser van die teks, en die teks self. Die skrywer was die transmitter.

Die antieke mense het ook nie dieselfde konsep van die ‘historiese’ gehad as wat moderne mense het nie. Baie moderne mense het eintlik armer geword deurdat ons historisiteit begin soek het in verhale wat eintlik as ‘mites’ bedoel was. Die woord ‘mite’ het met die asemrowende geboorte van die wetenskap ’n uiters negatiewe konnotasie gekry. ’n Ding wat as ’n ‘mite’ beskryf word, is nie iets wat verwelkom word nie. Dis ‘leuens’, ‘valsheid’ en ‘misleiding’. Maar so was dit nie altyd nie. O nee.

’n Goeie storie, hoef geensins historiese waarheid te bevat vir dit om ‘waar’ te wees nie. Dit is die prinsiep waarop mite werk. Dit vertel ’n fiktiewe verhaal, maar agter die verhaal le daar ’n waarheid wat geïmpliseer word. Hierdie waarheid is dan ook geneig om deur die grense van plek en veral tyd te breek. Dit word meer ’n universele waarheid wat op meer as een historiese gebeurtenis geldend is.

Dit noem ons metateks. Dit is die verhaal wat vertel word maar wat buite die teks le. ’n Goeie voorbeeld hiervan, is Totius se gedig ‘vergewe en vergeet’ maar veral ook ‘repos’ val in hierdie klas. Allegorie is beslis ’n vorm van metateks, maar allegorie kan wel na historisiteit verwys. In ‘vergewe en vergeet’, wat ’n uiters knap allegoriese teks is van Totius, gaan die om die Anglo-Boereoorlog van 1899- 1902. Maar in Totius se ‘Repos’, het ons met ’n metateks te doen wat grens aan die mitiese.

En ook aan die Bybelse.

Met Totius self teoloog is dit nie juis verrassend nie. Ek sien die teologie as een reuse stryd om die bestaansreg van bepaalde metatekste. Want die dogma en die teologie, is nie dinge wat in die ou boeke staan nie. Byvoorbeeld, wat ek graag wil belig is die saak van die sogenaamde ‘sondeval’. Daar is twee sterk opponerende metatekste wat in hierdie verhaal ingelees word. Die een is die tradisionele kerklike een – die mens is in sonde ontvang en gebore. Ons is gedoem deur Adam. Deur seksuele voortplanting, word Adam se sondes van een generasie na die volgende oorgedra.

Hierdie interpretasie word veral, soos ek dit sien, geassosieer met Augustinus, een van die heel belangrikste Katolieke wat ooit op aarde geleef het. Nog selde was daar nog ’n man wat die mensdom en spesifiek die kerk beinvloed het soos wat Augustinus, met sy idees oor die lewe as ’n stryd tussen boosheid en goedheid, het.

Maar daar bestaan ook ’n ander, heel alternatiewe metateks tot die Adam en Eva narratief. Een wat die verhaal interpreteer soos wat antieke mense nogal geneig was om mites te sien – as ’n teks met nie-histories maar tydlose waarheid. Die waarheid wat daarin opgesluit le, is dat die mens amper konstant van homself (haarself, ditself, whicheverwayyoulike) vervreemd voel. Adam en Eva getuig van die mens se lewenslange ontnugtering met die menslike toestand, en die smag na hoop.

En as mens verder lees, dan is die ganse Bybel eintlik besaai met sulke verhale. Daar is die Israeliete wat gevange geneem word, maar bevry word. Daar is Josef, wat deur sy eie mense verwerp en weggegooi word, maar deur die ontnugtering en vervreemding breek. Daar is Ya’shua (Jesus), wat die hele gemeenskap waarin hy gewoon en gewerk het se norme uitgedaag het – Jesus wat mense oor die ‘great divide’ wou vat. Nes wie nou weer? O ja, Moses. Jesus van Nasaret, wat die water verander in die beste wyn. Wat soos Moses die wet op ’n berg bring.

In hierdie tweede metateks, is die mens nie ’n gedoemde wese nie. Nie inherent nie. Die mens is ’n gyselaar van dit wat mens beperk. Die lewe. Jou kultuur se vooroordele en vooropgestelde idees van die wêreld. In Jesus se wêreld, was dit die reinheidswette wat as mikrokosmos gedien het van die groter prentjie van onderdrukking en ongeregtigheid.

Wat het Jesus gedoen? Jesus het saam met die ‘skuim’ van die antieke wêreld feesgevier. En hulle omhels. Ja, Jesus wou hulle, die onderdrukte mense, maar ook die onderdrukkers self, bevry.

En Jesus het hulle skynbaar geleer, dat die koninkryk nie bo hulle koppe iewers is nie, maar in hulle harte – in die harte van alle mense.

Op die manier word Jesus se boodskap nie ’n versekeringspolis wat jy uitneem nie. Ek hoor die anderdag, op die radio, word daar gesê dat, die woord BIBLE, is eintlik ’n akroniem vir Basic Information Before you Leave Earth.

Is dit die Jesus waarin mense wil he ek moet glo? Is Jesus nie die man wat glo gesê het ‘geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word’ nie?

Is die probleem in ons land se kerke nie dikwels dat mense met die houding leef van, weet jy wat, ek doen hierdie kerk ding vir my eie eendag? Vir die lewe hierna wat my beloof word? In die proses word hoe mense glo, veel veel meer belangrik as hoe hulle leef. Ek voel, in teologiese terme, boggerol vir die hier en nou, maar die teologie ‘aside’ kan ek lewe soos ek wil. Ek het mos versekering vir eendag . . .

Ek het rede om te glo dat dit ’n foutiewe metateks van die antieke tekste is . . .

Advertisements

One comment

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s