Teologie vir die Twyfelaar 16: Kommentaar op die boek ‘Meeting Jesus again for the first time’ – Marcus J. Borg

Christelik-Ortodokse prent van Jesus Christus in die Hagia Sofia in Istanboel/Konstantinopel (Foto:Wikimedia Commons)

Nog ’n boek oor Jesus. ’n Boek oor die ‘historiese Jesus’. Net nog een? Ja. Net nog een. Baie mooi geskryf. Borg het duidelik, toe hierdie boek in 1994 die lig gesien het, ’n teologie in gedagte gehad wat hy op daardie tydstip aangehang het. Miskien hang hy dit steeds aan. Ek sal nie weet nie. Maar die punt hier is, Borg se groot boek oor die ‘historiese’ Jesus, is uiteindelik veel meer ’n teologiese ondersoek. Soos meeste van hierdie tipe werke maar is. Ek het baie van hulle al gelees en die rede hoekom ek dit doen is nie omdat ek die historiese Jesus probeer ontrafel nie. Ek is bloot maar nuuskierig oor die diskoers rondom Jesus.

Oor Jesus is daar, so lyk dit my, geen einde aan interpretasies oor wie Jesus werklik was nie. En om sin te maak uit die stringe uiteenlopende debatte is amper onmoontlik, maar ek wil graag op hoogte bly, en ingelig wees.

’n Mens kan teoloë en ander kenners en historici wat in antieke studies spesialiseer kategoriseer en gevolglik groepeer in terme van wat hulle glo oor die ‘historiese’ Jesus. In Suid-Afrika alleen kan ek aan twee uiteenlopende interpretasies dink deur twee uiteenlopende teoloë. Abel Pienaar, wat self eens lid van die NG kerk was, glo skynbaar dat Jesus slegs maar ’n spesiale tipe leermeester was, wat mettertyd verhef was tot ’n God. En dit het gebeur by die konsilie van Nisea, volgens Abel. Dan is daar Francois Wessels wat self ’n boek geskryf het oor die ‘historiese’ Jesus. In sý boek belig Wessels die messiaanse kenmerke van Jesus. Wessels se interpretasie strook ook los en vas met byvoorbeeld die hoogs gerespekteerde Geza Vermez, wat ook tot die gevolgtrekking kom dat Jesus as ’n messiaanse figuur verstaan moet word.

Maar met Marcus Borg se interpretasie sal Abel Pienaar veel meer gemaklik wees.

Interessant is hoe die kenners verskil oor die gesag van die geskrifte en ook hoe daar te werk gegaan moet word om die historiese daarin te lees. Vermez was nog altyd een van diegene wat van mening is dat die ‘historiese’ Jesus wel te vinde is deur ’n noukeurige lees van die vier gekanoniseerde evangelies. Borg is meer skepties, hoewel hy nie die legitimiteit van die evangelies as bronne van historiese kennis ontken nie. Inteendeel. Hy sien die evangelies as tekste wat verskeie ‘lae’ bevat. Die ‘messiaanse laag’ was volgens Borg nie deel van die historiese nie. Dit was ’n latere ontwikkeling. En so is die tekste, volgens Borg, oor en oor en oor met nuwe ‘lae’ bedek, wat ons meer dikwels as nie, meer vertel van die ontwikkelinge binne die vroeë gemeenskappe van Jesus-volgelinge, as wat dit ons van Jesus self vertel.

Tog is daar groot gedeeltes van die teks wat Borg skynbaar as vanselfsprekend aanvaar. Jesus se verwerping van die reinheidsgebruike van die tyd, is ’n voorbeeld. Borg sien Jesus as ’n man wat, deur die verwerping van die reinheidsgebruike, die sosiale orde, en uiteindelik ook die politieke orde van die dag begin bedreig het. Volgens Borg was die historiese Jesus iemand wat streng godsdienstig grootgeword het, maar uiteindelik ’n weersin in konvensionele godsdiens ontwikkel het, en eerder na ’n spirituele lewe gestreef het. En so skryf en skryf en skryf Borg, en hy kom uiteindelik tot die gevoltrekking dat Jesus ’n gewone mens was, maar wat buitengewoon kon praat, en wat ’n buitengewone spiritualiteit gehad het. Hy maak uiteindelik, nes die meeste mense wat oor Jesus skryf, grootliks gebruik van die vier gekanoniseerde evangelies om sy argumente te staaf, wat hy ook hier en daar substansieer met argumente uit die briewe van Paulus.

Daar is baie interessante punte wat Borg maak, maar as ek alles in ag moet neem, dan moet ek sê, is ek nie oortuig deur die werk nie. Ek is self uiters skepties oor of daar baie oor die ‘historiese’ Jesus geleer kan word deur hoofsaaklik van die evangelies te gebruik. Die probleem is en bly dat die oudste bronne oor Jesus, is nie die evangelies nie, maar die briewe van Paulus. Die brief Tessalonisense is, sover my kennis strek, die oudste boek in die ‘Nuwe Testament’. Hierdie brief is, anders as die evangelies wat 40, 50, 60+ jaar na Jesus se kruisdood geskryf was, reeds binne die eerste twee of wat dekades na Jesus se kruisdood neergepen. Dit is in hierdie brief duidelik wat die oorhoofse interpretasie van Jesus se lewe was – Jesus is die Messias. Hierdie briewe is geskryf laaaaank voor die konsilie van Nicea, die Jesus seminaar en die Nuwe Hervormers.

Borg en sy boek speel ’n belangrike rol in die diskoers rondom die historiese Jesus. Dit was interessant om ook sy interpretasie deur te lees, en daar is wel interessanthede in die werk, maar als in ag genome is ek nie juis oortuig deur sy oorhoofse argumente nie.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s