’n Stukkie PRAAG bashing op hierdie lieflike Dinsdag

Die onderwerp van PRAAG (die Pro-Afrikaanse Aksiegroep) het onlangs, vir die heel eerste keer, sover my kennis strek, behoorlik ter sprake gekom hier op die Afrikaanse Opinieplatform. Ek wou al self ’n ietsie oor hierdie mense geskryf het, maar het daarteen besluit, grootliks omdat ek glo hulle nie my aandag werd is nie. Maar noudat die dansbaan geopen is, nou is dit maar – laat ek ook maar my mond ietsie uitspoel.

PRAAG is vir my ’n ongelukkige storie, veral vir een groot rede, en dit is dat hulle ’n politieke mondstuk is wat onder die vaandel van ’n taal opereer. ’n Taal is eintlik ’n neutrale verskynsel, maar dit is iets wat deur die mens verpolitiseer en op daardie manier besoedel word. En ek hoor al in my geestesoor hoe hierdie ‘manne’ uitvaar teen die ‘kaaskop’, maar ek verstaan die ontevredenheid. Die punt is, dit wat Afrikaans raak, dit raak ook Nederlands, want die twee tale is in wese uiteindelik een. So kon PRAAG se naam netsowel die Pro-Nederlandse Aksiegroep gewees het, was dit nie vir wetgewing wat aan Afrikaans ’n meer onafhanklike identiteit besorg het nie.

Die tragedie vir Afrikaans, wanneer dit by ’n verskynsel soos PRAAG kom, is dat hierdie ouens hand en tand baklei daarvoor dat die diversifikasie van Afrikaans se fakulteite afneem. Die sluiting van NASPERS se gratis Afrikaanse diens, was natuurlik nie die uitsluitlike gevolg van PRAAG et al se ‘boikot NASPERS’ veldtogte nie, maar die feit dat mense gemobiliseer was om NASPERS se publikasies nie meer te steun nie, was waarskynlik een van die bydraende faktore wat gelei het tot die afskaling van NASPERS se Afrikaanse dienste.

Maar PRAAG se stryd teen diversiteit in Afrikaans/Nederlands het al sy letsels op vele ander maniere gelos. Lelike letsels. Mense wat loopbane kwyt is. Vriendskappe. En dies meer. Anders as die Afrikaanse Opinieplatform, waar inhoud aan streng vereistes van verdraagsaamheid moet voldoen, was die mense aan die PRAAG kant nie juis bang om inhoud te plaas wat verklaar dat bepaalde rasgroepe reg deur die bank verkragters is nie.

En ’n mens staan verstom oor hoe ’n instelling soos PRAAG, ’n individu wat bo aan die voedselketting sit, hoogs geskool en ontwikkel in ’n dissipline waarvan ons verwag dat dit mense se gedagtes sal bevry van vooroordele, die filosofie – hoe só persoon, wat ook ’n kosbare bydrae tot ons ekonomie sou gelewer het, afgetrek was tot op daardie lae punt.

Self lees ek nie die drek wat daar by PRAAG geskryf word nie en besoek ek nie eens hulle webwerf nie, maar ek dink dit is goed dat daar regdenkende mense is wel af en toe ’n oog daar gaan gooi.

Sedert 2013 is daar nie meer ’n goeie Afrikaanse nuusdiens op die internet nie. Daar is wel Maroela Media. Wat feitlike verslaggewing betref, is Maroela Media dikwels knap, maar dit sal hulle ’n leeftyd neem om die netwerke op te bou wat NASPERS in plek het om gehalte nuus en interpretasie van nuusgebeure te bring. Met hulle boikot NASPERS veldtogte, het PRAAG niks reggekry nie, behalwe om Afrikaans/Nederlands se kapasiteite te laat krimp. NASPERS het in die proses nie veel skade gely nie, en bloot maar hulle Afrikaanse diens geherposisioneer sodat die Afrikaanse diens nou slegs beskikbaar is vir diegene wat oor die geld beskik om dit te kan aanskaf. Op dié manier is die klein groepie saboteerders wel uitgesny en stilgemaak, maar ’n ganse taalgemeenskap is verarm en van sy waardigheid gestroop.

En dit is als, ironies genoeg, nogal gedoen onder die naam ‘die Pro-Afrikaanse Aksiegroep’.

Pro-Afrikaans? Regtig?

Advertisements

3 comments

  1. Daar is baie kere nogal interessante en insiggewende artikels op Praag wat n wye veld dek,van dinge wat hier gebeur in Suid Afrika en ook oorsee. Dit is dus nie nodig om alles wat op Praag verskyn,af te skiet en Praag af te kraak nie.

  2. Ongelooflik dat Praag nou die skuld kry vir NASPERS se dalende Afrikaanse sirkulasiesyfers! Kon die impak van Praag se boikotaksie so groot wees dat hulle die magtige NASPERS in die bek kon ruk? Ek glo nie. Dis ook nie Praag se skuld dat Nuus24 ‘n betaal-e-koerant geword het nie – volgens Naspers self was die gratis Afrikaanse e-koerant ‘n tydelike vergunning en strategie – reg vanaf die begin af, Praag is ‘n wonderlike en nodige stem in die woestyn wat poog om balans in die Afrikaanse e-nuusveld te bring, aangesien NASPERS se Afrikaanse koerante met hul liberale en onvryheidsgesinde houding, eintlik maar net ANC-buiksprekers is.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s