Wat staan die African National Congress (ANC) te doen tydens hulle veldtog?

Weekend Argus-verkoper in Kaapstad na Zuma se beëdiging as president in 2009. Die beëdiging het gevolg op die 2009-verkiesing. (Foto: Warrenski/Wikimedia Commons)

Hier op Die Afrikaanse opinieplatform het ek tog te lekker geskryf oor Suid-Afrika se amptelike opposisie, die Demokratiese Alliansie (DA), en oor hoe ek voel die DA die pad vorentoe behoort aan te pak. Ek is geen ondersteuner van die DA nie. Ek het die saak bloot maar benader uit die oogpunt van, hoe sou ek die DA adviseur, sou ek hulle konsultant wees. Daarom dan dat ek ook nou lus voel om die regerende ANC se politieke veldtog en toekoms in oënskou te neem.

Dit was ’n interessante klompie dae soos wat die politieke partye van ons land begin het om hulle verkiesingsveldtogte te loods. Ek wil myself nie te veel oor die kleiner partye uitlaat nie. ’n Tyd gelede het een van ons bydraers op die Afrikaanse Opinieplatform opgemerk dat die DA se beleid dikwels ooreenstem met die ANC se beleid. Hierdie feit is natuurlik kenmerkend aan baie demokratiese sisteme ter wêreld wat in die rigting van die tweepartystaat beweeg, soos wat Suid-Afrika inderdaad besig is, maar met ’n ompad. Net soos in die Verenigde State van Amerika en soos in Brittanje, is daar maar weinig te kies tussen die beleid van die twee grootste partye – dit kom uiteindelik al meer en meer neer op die kwaliteit van leierskap. Die rede vir die ooreenkoms in beleid, is die gedeelde identiteit wat tussen die mense ontstaan.

Suid-Afrika het nog ver om te gaan, maar ons gaan uiteindelik ’n groter gemeenskaplike identiteit ontwikkel. Tussen die ANC met sy 60% of wat steun en die DA met 20% of wat steun, sit ons in Suid-Afrika met tot 80% van die land dus wat breedweg gesproke ’n gemeenskaplike beleid najaag. Dis nogal iets om aan te dink vir al die splintergroepe en seperatiste en dies meer.

Maar nietemin, ek wil ietsie oor die ANC se veldtog onder president Zuma sê. Die ontstaan van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) onder Julius Malema, is een van die belangrikste dinge wat in Suid-Afrika se politiek die afgelope 12 maande gebeur het. Die ontstaan van die EFF is deur heelwat Suid-Afrikaners as ’n negatiewe ontwikkeling beskou. Selfs hier, op die Afrikaanse Opinieplatform, het ons stemme gesien wat teen die EFF uitgevaar het. Maar die EFF kan een van die mees stabiliserende invloede op ons politiek he. En die rede hiervoor is dat dit die politiek binne die ANC kan stabiliseer.

Net soos wat die Konserwatiewe Party onder Treurnicht, gedurende die 1980’s, die politiek binne die Nasionale Party tot ’n groot mate kalmeer het, so gaan die EFF waarskynlik verhoudinge binne die ANC laat verbeter. Dit is ongelooflik om te dink dat Julius Malema, die man wat baie ontleders, onder andere dr. Croukamp, gesê het gaan stil word, dalk teen Mei die derde grootste party in die parlement kan lei.

Die ANC het sy verkiesingsveldtog op ’n hoë noot begin. President Jacob Zuma het my beindruk, deur te vra vir verdraagsaamheid teenoor die EFF, wat met hulle oorhandiging van ’n huis gepoog het politieke punte te wen.

Die eenvoudige waarheid is dat dit die ANC was wat in die afgelope 20 jaar die meeste huise gebou het.

Dat die ANC in die 2014 verkiesing steun gaan verloor, die lyk nou totaal onafwendbaar. Maar dit lyk ook asof die party baie meer vaartbelyn uit 2014 gaan uitstap. Die ‘broad church’ is besig om minder broad te word, maar dit beteken allermins dat hy sy momentum gaan verloor.

Wie is hulle leier? Wie is Jacob Zuma? Hy is ’n uiters omstrede man. Maar hy is ook een van die argitekte van die nuwe Suid-Afrika. Hy was die man wat in die skadu van Nelson Mandela gedien het, en hard gewerk het om te verseker dat Suid-Afrika se oorgang relatief vreedsaam gebeur het.

Die belangrikste ding wat Zuma nou kan doen, is om na sy adviseurs te luister. Om sy beeld te poets. En om soos ’n staatsman op te tree in aanloop tot die verkiesing. Doen hy dit, dan is die oorwinning in die sakkie. Herroep die ANC vir Zuma, dan sal dit die tweede staatshoof in ’n ry wees. Nes daar twee polisiekommissarisse herroep was – iets wat polities amper onbekostigbaar is.

Advertisements

7 comments

  1. Ek sê weer: daar sal nooit n 2 partystelsel in Suid Afrika wees nie.Dis nie die VSA of Brittanje nie. Hier is baie volke en kulture en baie partye verteenwoordig daardie mense. Minderheidsregte en selfbeskikking gaan al hoe meer n groter rol begin speel in Suid Afrika. Ten slotte,moenie die EFF onderskat nie en glo my,hul is n gevaar vir die demokrasie.

  2. Tsk tsk tsk

    Verstaan ek jou reg? So die VSA is, wat ras en godsdiens en dies meer betref, volgens jou grootliks ‘n uniforme land? En Brittanje ook?

    Die EFF gee ‘n stem aan die radikale mens in die ANC wat nie geholpe word nie. Dit is die jongmense wat oor geen hoop beskik nie. Wat nie kos het nie. Wat nie die ekonomie kan betree nie weens die resessie maar wat bloot vertel word hulle is ‘lui’. . .

    Die rede hoekom blankes vir Malema vrees in hierdie land, is omdat blankes lief is om te glo dat swartmense hulle haat en wil uitwis – iets wat totale leuens is.

    http://www.rapport.co.za/Rubrieke/Gasrubriekskrywer/Max-du-Preez-Begin-die-mini-Mandela-in-elke-buurman-sien-20130706

    (bron: Die NASPERS-koerant Rapport)

    • Die punt is dat die VSA en Groot-Brittanje beide ‘n duidelike groep het wat die norme en waardes in die land bepaal. Hoewel die “Europeërs” in die VSA tot 55% van die bevolking is, is hul invloed op wetsvoorstelle, kulturele tradisies ens. baie groter.

      Wat betref die VK is die storie maar dieselfde. Daar is ‘n groot meerderheid van oorspronklike inwoners (+75%) wat die storie bepaal. Daar is egter ‘n groep minderhede – veral Islamitiese mense – wat nie volgens daardie meerderheid wil leef.

      Ek wil nie weet wat daar gebeur as die Nederlanders eendag in die minderheid gaan wees nie. Die Hollander is nie so lief as hy hom voorgee nie… Hollanders sal nooit die mag in hul eie land afgee nie…

      Suid-Afrika het nie duidelike meerderhede nie, en dit maak die “spel” baie interessant en baie beweeglik. Juis daarom is die ANC ‘n gedrog wat eintlik nie behoort te bestaan nie. 🙂

  3. “Die eenvoudige waarheid is dat dit die ANC was wat in die afgelope 20 jaar die meeste huise gebou het.” Dit was die regering, nè? DIT was beleid van president Mandela, maar dit het Mbeki en Zuma heeltemal opgemors.

    Ek dink, mag die verkiesings heeltemal skeef loop, dat Malema dalk die tweede party gaan wees en Zuma se ANC weens die opkoms van die EVV gaan sak onder die 50%. Ek dink die DA sal homself handhaaf rond 20%. Die steun aan Malema is baie groot, ek het dit veral geproe tydens my verblyf in die koshuis, waar die grootste skreeuers Malema gesteun het en vir Mugabe die beste president van Suid-Afrika genoem het. En dit was nog die “meer geleerde” ouens op die universiteitskampus. Ek wonder wat die miljoene jong mense wat voor hul matriek uitgeval het, gaan stem…

  4. 4% – dit is en bly my voorspelling vir die EFF

    Dit is maar slegs ‘n baie klein minderheid van mense wat die voordeel van universiteit geniet.

    • Ja, en daarom is die juis so skokkend dat hierdie mense wil stem vir Malema. Juis hierdie groep moet weet dat Malema se politiek Suid-Afrika op die begrafplas laat eindig? Dat juis hierdie groep vir Malema wil stem, laat my bewe as ek dink hoe groot die groep buite die universiteitspoorte sal wees. Ek dink die groep is BAIE groot. Veral omdat die eerste generasie mense mag stem wat nie tydens apartheid groot geword het nie. Hierdie ouens is – nes die nuwe middelklas – baie krities teenoor die ANC. Maar dit is maar net hoe ek dit in Bloemfontein beleef het…

  5. Nee wat, ek kan verkeerd wees, maar ek kan nie sien hoe die EFF vir die DA sal wen by die stembus nie.

    EFF gaan wel die ACDP en die VF plus en COPE en die UDM en die IFP en die wat wat wat als nog wen, waarskynlik Agang ook.

    Maar ons sal sien. Ons wag almal in spanning.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s