Demokratiese Alliansie se kritiek teen matriekuitslae backfire lelik

Die Demokratiese Alliansie (DA) is in ’n baie onbenydenswaardige posisie. Dis ’n party wat sy politieke plafon bereik het, of so word daar gesê. Ons gaan almal verbaas wees as dié party weer in 2014 die groei toon wat dit voorheen getoon het. Tydjie gelede het daar ’n herrie losgebars rondom die DA se rasbeleid. Sake soos regstellende aksie en demografiese verteenwoordiging is vir baie Suid-Afrikaners ’n morele beginsel – dit word toegepas uit beginsel, nie op grond van die praktiese oorweginge nie. En die DA is soms, so blyk dit, lekker verdeeld oor hierdie tipe sake, soos wat mens sal verwag van ’n party wat nou sy brood op alle kante, selfs op die sye, gebotter wil he ter wille van groter steun.

Die onlangse kritiek teen die matriekuitslae, is nou die nuutste in ’n reeks misstappe deur die DA wat regtig nie vir hulle bekostigbaar is in ’n verkiesingsjaar nie. Ja, vir die heel eerste keer in baie baie jare, het die Wes-Kaap hulle status verloor as die top-presterende provinsie. Daardie eer behoort nou aan die Vrystaat.

Nou weet ek nie regtig besonders baie van die onderwysstelsel nie, maar die laaste wat ek gehoor het, skryf ALLE matrieks dieselfde vraestel. Met ander woorde, die feit dat die Vrystaat nou nommer een is, is nogal ’n baie fair and square storie. Daar is nie veel, ‘ja maar’s’ aan die storie nie. En vir diegene wat nie op hoogte is nie, is dit seker ’n verrassing dat een van die veel armer provinsies nou die toppresteerder is. Maar vir ons wat hier werk en woon, en wat bewus is van wat talle gemeenskapsleiers, onder meer leiers verbonde aan een van ons grootste tersiêre instellings, die Universiteit van die Vrystaat, als ingesit het om die prestasies van leerders te verbeter, asook wat ons provinsie se onderwysers en leerders self ingesit het, vir ons was dit eintlik maar net ’n kwessie van tyd.

Nou mag mens ‘oe’ en ‘ah’ en ‘ja’ en ‘nee maar’, maar vat ’n oomblik en oorweeg maar hoe hierdie storie op die DA reflekteer. So dis miskien so, miskien is die standaarde van matriek laer. Dis geen nuwe klagte nie. Dit is roetine. Elke liewe enkele jaar word daar uitgevaar teen die standaard van die matrieksertifikaat. Universiteite het in my jare al, en nou praat ek van die jaar toet nie lank na Moses en Abraham nie, alreeds ekstra maatreëls en toetsings en wie weet wat als in plek gehad om te probeer om die standaarde te lig.

Nou. Elke jaar, soos wat die Wes-Kaap die titel keer op keer ingepalm het, het die DA gebak in die glorie. Ja, die berigte is daar vir elkeen om te loop lees. Daar was nie, toe die matriekuitslae mooi gereflekteer het op die DA, ooit veel klagtes van ‘standaarde’ en wie weet wat als nie. Maar skielik kom die kritiek. Asof uit die, mens wil amper sê, bloute?

Daarteenoor kom die VF plus met ’n verdediging van die skolesisteem en matrieksertifikaat se standaard.

Ek steun geen politieke party openlik in Suid-Afrika nie. Kom stemsdag, dan sal ek seker maar my gebruiklike kruis gaan trek, want ek voel dis my plig en dis my kaartjie om te mag kerm vir die volgende 5 jaar. Ek het nog in elke verkiesing waarvoor ek stemgeregtig was gestem, en ek wil dit graag so hou. Vir wie ek gaan stem in 2014, die weet ek nog nie eens nie. Maar een ding wat ek weet is dat die DA hier ’n stjoepit fout gemaak het. Hierdie stap van die DA was plainweg dom. So dom soos wat daar deur sommige beweer word ons 2013 matrieks is (wat ek self nie glo nie).

Die DA het ’n ou weersin ontlont deur die 2013 matriekuitslae te kritiseer op die manier wat hulle het. Dit het die ou wonde oopgekrap van – julle (die wit DA) se reëls, geld net wanneer dit julle pas. Julle het ’n ander stel reëls vir ‘ons’ as wat julle vir julleself het. En net omdat arm mense beter as julle gevaar het in die eksamen, nou het julle suur druiwe (sic).

Net om een voorbeeld te gee, in 2012 het die matriek slaagsyfer in die Wes-Kaap met amper ’n volle 6% gestyg. Die DA het nie daaroor gekla nie, nee, eerder daaroor gespog. Maar toe die 2013 matrieks van Mpumalanga en Noord-Wes soortgelyke verbeteringe toon, toe word die mense wat die vraestelle gemerk het skielik as onbevoeg gebrandmerk . . .

Nee wat, die DA sal veel veel versigtiger moet speel op die pad vorentoe. As ’n party wat kamstig so smag na groter getalle swart steun, sal hulle veel slimmer te werk moet gaan. ’n Eenvoudige veels geluk Vrystaat, sou baie meer gedoen het vir die DA. As ek die DA was, het ek begin dink aan ’n paar slim nuwe adviseurs en beeldpoetsers . . .

Want dis skade wat hier gemaak is op hulle rekening – skade wat hulle aan hulleself gedoen het.

(Stuur gerus u en u party se kontakbesonderhede indien op soek na ’n politieke konsultant. Ek is beskikbaar teen ’n minimale fooi)

Advertisements

5 comments

  1. Ek stem saam met jou waarneming dat die DA baie versigtiger moet wees om meer stemme te trek, maar dit mag die DA nie hul teregte kritiek op die matriekstelsel te uit. Ek dink die Vrystaat het maar saam met die Noord-Kaap, Limpopo en die Oos-Kaap die grootste probleme. Dat die Vrystaat skielik die beste resultaat behaal het, is ongeloofwaardig. Die Vrystaat-bestuur is baie korrup, getuig die webwerf van 40 miljoen rand – terwyl die webwerf dieselfde waarde het as hierdie webwerf, ongeveer R400.
    Ek het tydens my studie aan die Universiteit van die Vrystaat in 2012 saam me enkele dosente gekyk na die vlak van onderrig op Vrystaatse skole. En dit was baie baie baie sleg. Skole het nie gefunksioneer nie, direkteure wat nooit beskikbaar is nie, dosente wat by die huis bly en nouliks in die klas verskyn, graad 10 leerders wat nouliks kon lees. Dit was verskriklik. Ek glo die uitslae nie. PUNT.

  2. Ek raai as die Wes-Kaap weer nommer was soos in 2012 dan sou daar geen klagtes wees het nie en als sou hunky dory gewees het.

    Om darem tot die gevolgtrekking te kom dat al daardie skoliere reg deur die bank almal swak is en nie matriek verdien nie is nogal laag van die DA.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s