Teologie vir die Twyfelaar 15: Enkele teologies-historiese besware teen die viering van Kersfees

Die herders verskyn by Christus. Skildery van Gerard van Honthorst (1622) (Foto: Wikimedia Commons)

Kersfees het gekom en gegaan – ’n Somerkersfees, soos wat ons hom ken hier in Afrika.

Elke liewe jaar herhaal die patroon homself. Bekommerde Christen- en ander gelowiges spreek hulle weersin uit teen die oormatige kapitalistiese aard van Kersfees. Ek moet sê, dit was tog vir my asof dinge hierdie jaar regtigwaar afgeskaal was. Mense het nie meer geld nie. Die ekonomiese resessie is besig om alles te verander.

Ek moet eerstens en bo alles dit stel dat ek nie mense oordeel wat self hierdie fees vier nie. Dit is elke mens se goeie reg om elke liewe dag wat hulle goeddink ’n fees te hou van watter aard hulle ook al wil. Maar 2013 is die heel eerste jaar waarin ek amptelik sigbaar opgehou het om dit te vier, nadat ek dit al jare nie meer in my hart vier nie.

Kersfees is natuurlik nie ’n fees wat sy ontstaan het in die leerringe van Ya’shua (Jesus) nie. Nóg Jesus, nóg Jesus se eerste volgelinge het hierdie fees gevier. Om die waarheid te sê dit is twyfelagtig of Jesus ENIGE verjaarsdae gevier het. Daar word in die ganse Bybel nie na hierdie fees verwys nie. Dit was eers eeue later, toe die Romeine, wat self vir Jesus en sy mense onderdruk het, begin om hulle eie interpretasie van Jesus en sy lewe en leerstellinge te ontwikkel, as deel van wat mettertyd bekend sou word as die Rooms-Katolieke kerk, wat die gebruik van Kersfees ontstaan het.

Kersfees is ’n Roomse fees wat deur Roomse keisers ingestel was. As sulks, sien ek die fees eerder as ’n politieke fees as wat dit godsdienstig is. Met God en Jesus het dit uiteindelik, ten minste in my oë, weinig te make.

Die Katolieke (die woord ‘Katoliek’ beteken dan ook ‘algemene’), interpretasie van Jesus se lewe en leerstellinge was natuurlik met grootskaalse geweld en vrees in Europa en die res van die wêreld versprei. Rome het hulle geloof met die swaard afgedwing. En vir baie lank het hulle deur hulle monopolie op God, baie mag geniet. Deur die proses van kolonialisme is Roomse geloof en sy naloper, die Gereformeerde geloof, tot aan die uithoeke van die aarde versprei.

En net soos in die tyd van Jesus, en net soos in die tyd van keiser Konstantyn, was godsdiens een van die sentrale agente in die politiek. Goud! Glorie! en Godsdiens! Dit was die drie grootse krete van kolonialisme in Afrika, maar die grootste daarvan was die goud, met godsdiens bloot die nuttige hulpmiddel. Dit is nie toeval dat daar van die kolonialiste gesê was dat, toe hulle (die kolonialiste) in Afrika aankom, toe het die kolonialiste die Bybel en die Afrikane die grond, maar soos wat die tyd aangestap het, het die Afrikane die Bybel gekry die kolonialiste die grond nie.

Grond speel vandag nog ’n reuse rol in baie kerke. Elke keer as daar nuwe sektes afstig, soos onlangs weer met die SteedsHervormers wat unhappy is dat die Hervormde Kerk teen ’n teologiese begronding van apartheid is, dan is dit ’n mislike geveg oor wie kry wat. Die kerkgeboue, pensioene, bazaartafels ens. Amper soos jy in baie families oor Kerstyd fights sal kry oor wie kry hierdie jaar die kinners met Kersfees (want Kersfees is nou weer wat?). Só erg gaan dit met grondeienaarskap en die kerke dat daar vertel word dat die gebruik dat Katolieke priesters nie mag trou nie, direk verbandhou met die feit dat die Katolieke kerk nie wou he dat die kerk se bates oorgedra moes word nie.

Geld, mag, grond. Dit is waaroor dit gaan. En teen hierdie agtergrond, is Kersfees vir my in baie opsigte ’n fees van onderdrukking. Ek weet dis nie die gees waarin meeste gelowiges dit vier nie, maar dit is beslis ’n fees wat een spesifieke manier van dink vier – ’n manier van dink ten koste van ander maniere van dink.

Hoe kan dit dan anders, dat Kersfees ons huidige ekonomiese sisteem, gelaai met sy ongeregtighede, ten volle omhels? En ja, dit is geen wonder daar sommige van Ya’shua se volgelinge is wat ongemaklik raak nie, want Ya’shua was nie ’n kapitalis nie. Maar wat meer kan ons verwag van ’n fees wat op die onderdrukking van andere gebou is?

Ek voel dat ons eerder vir mekaar geskenke moet gee op Nuwejaar. En dit moet totaal opsioneel wees.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s