#MandelaDiens: Wêreld het ANC afgeskryf

President Obama met regs van hom die omstrede “tolk” tydens die MandelaDiens (Foto: Wikimedia Commons)

Sedert die Wêreldbeker Sokker in Suid-Afrika georganiseer is (amper vier jaar gelede), het die wêreld se blik die vinnigste verander sedert die afskaffing van apartheid. Waar voor 2010 die ANC standaard geluk gewens is en apartheid geblameer is vir die huidige probleme in Suid-Afrika, word die ANC meer en meer verantwoordelik gehou vir Suid-Afrika se probleme.

Waar Zuma en die ANC handig gebruik wou maak van Mandela se dood om die ANC se naam as volwasse politieke party en bevrydingsbeweging definitief te vestig, het die Luthuli-huis die deksel hard op die neus gekry.

Solidariteit se Dirk Hermann het op die Maandag voor die herdenkingsdiens reeds voorspel dat die huidige ANC (en Zuma) met Nelson Mandela se waardes vergelyk gaan word en swaar sou kry. Ek was pessimisties oor dié twiet.

Want die ANC sou so ‘n groot geleentheid natuurlik perfek gaan regisseer. En die planne was reeds jare lank klaar, nè?

Maar dr. Hermann was reg. En hoe!  Kon ons hierdie laaste twee weke voorspel aan die begin van hierdie maand? Kon ons dit reeds sien kom? Miskien. Maar ek nie.

Zuma is deur die besoekers van die MandelaDiens swaar gestraf. Deur die publiek verneder. Voor die oë van die wêreld. En die kers op die tert? Die werklike ANC het hom aan die wêreld getoon.

Die MandelaDiens het ons drie dinge gegee: die toespraak van president Obama, wat verseker die beste toespraak van hierdie dekade gaan wees, die selfie/otofoto van Obama, Cameron en Thorning-Schmidt, waarby Obama moontlik ernstige huweliksprobleme gekry het… Die belangrikste oorblyfsel is egter dat Zuma se ANC nie meer onvoorwaardelik deur die westerse gemeenskap gesteun word nie.

Ja, die diensleweringsbetogings was ‘n teken aan die wand. Maar ANC-ondersteuners het tydens die WB-sokker die rye gesluit. Voor die oë van die wêreld het dit gelyk of die ANC in charge is. Ook by die verkiesings word die ANC nie uitgestem nie. Dieselfde betogers wat in 2011 teen wanbestuur betoog het, stem slegs weke later wéér vir die ANC.

Maar is hierdie – miskien onverwagte – oomblik waarby Zuma so finaal uitgejou is, ‘n keerpunt? Nee, ek dink nie.

Maar die wêreld se oë het oopgegaan. Die wêreld was uiters verbaas. Toe het die buitelandse nuusagentskappe gaan soek hoekom Zuma uitgejou is. Nkandla? Miskien, ja dit was die groot voorbeeld. Maar die ANC het ook ineffektiewe bestuur.

Hoewel die ANC se ineffektiewe bestuur die buitelandse media reeds vir jare bereik, het alledaagse voorbeelde lank ontbreek. Want dikwels is hierdie stories maar klein, plaaslike voorbeelde. Baie insidente van slegte bestuur veroorsaak baie pyne by burgers, maar nie in die buitelandse media nie – die stories is eenvoudig te klein. Slegs as daar ‘n uitgebreide analise van die Suid-Afrikaanse politieke speelveld gemaak word, word daar voorbeelde genoem. Maar min media het egter die krag en finansies om sulke analises te publiseer.

Maar toe het die tolk gekom. Die tolk wat naas Ramaphosa gestaan het. Dieselfde tolk wat naas Obama, Rousseff en die Chinese vise-president gestaan het. Die tolk wat nie vertaal het nie. Die tolk wat geen gebaretaal ken nie. Die tolk wat geen Engels kan vertaal nie en slegs Xhosa praat. Daardie tolk het die simbool geword.

Die tolk het DIE simbool van die ANC se wanbestuur geword. In Nederland het so bietjie alle radionuusdienste, alle koerante, nuuswebwerwe en televisiekanale oor die voorval berig. Die uitjouery en die tolk was ‘n dubbele bevestiging op een dag. Op dieselfde plek. Op dieselfde oomblik. Nou, meer as ‘n week na die herdenkingsdiens haal dit nog steeds die nuus.

Die tolk het simbool geword van die huidige Suid-Afrika. Die regeringsdiens bestaan. Nie net op papier, maar ook in die praktyk. Maar dit werk nie.

Die wêreld het sy storie gekry. Die hele storie met die tolk het vir die wêreld getoon hoekom die ANC se bestuur dikwels nie werk nie.

Die feit dat Zuma uitgejou is, was nie eers so sterk nie. Ja, dit was ‘n blamage. Maar die tolkstorie het die ‘hoekom’ verduidelik. En dit kan dodelik wees vir internasionale, westerse steun vir die ANC. Verseker nou die ANC dit reggekry het om Mugabe en Castro op dieselfde verhoog as Obama te kry. Dit is ‘n doodsonde in westerse diplomatieke kringe. Maar die toekoms sal moet uitwys of die westerse steun vir die ANC sal afneem.

Nee, die ANC moet nie afgeskryf word as regerende party van Suid-Afrika nie. Maar aan die ANC se internasionale status as betroubare bevrydingsbeweging het definitief ‘n einde gekry.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s