Teologie vir die twyfelaar 14: 16 Desember 2013 en die Vrouemonument

Een van die monumente by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein (Foto: Wikimedia Commons)

Wat beteken die Vrouemonument vir mense van vandag in 2013? Ek het 16 Desember daar spandeer. Omdat sommige mense my nie as ’n patriotiese Boer beskou nie, was ek al gekritiseer dat ek Geloftedag vier. Maar ek sal nooit ophou nie. Ek weier.

In 2014 gebeur daar ’n interessante ding. Ons het in 2012 die eeufees sedert die stigting van die African National Congress (ANC) gesien. 2013 was die eeufees van die 1913 Grondwet, wat Suid-Afrika vir ewig verander het. Maar in 2014 gaan die hele wêreld stilstaan, veral Europa, want dan is dit 100 jaar sedert die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog – wat eers bekend gestaan het as die ‘groot oorlog’. En in Suid-Afrika had ons die Rebellie, toe Boer teen Boer opgeruk het, in protes teen generaal Louis Botha se beleid dat Suid-Afrika moet oorlog maak teen Suidwes Afrika, wat onder Duitsland se beheer was.

Die Rebellie was in baie opsigte, na my beskeie mening, ’n keerpunt in Suid-Afrika se geskiedenis. Want dit was deur die Rebellie dat die Boere agtergekom het dat daar slegs een pad is na die Republikeinse ideaal, en dit is die konstitusionele pad.

1961 was die jaar wat Suid-Afrika ’n republiek geword het. Maar dit was ’n koloniale skikking. Dit het nie die strewes van die swart mense ingereken nie. En as sulks het dit uiteindelik gefaal.

Lees mens vandag Emily Hobhouse se toespraak wat sy in 1913 geskryf het, maar weens haar gesondheid nie self kon lewer nie, dan sien mens daarin ’n profetiese waarskuwing van Emily – wil julle, die Boere, doen aan andere wat aan julle gedoen is? Dit was, volgens Emily, deur die weggooi van die mooiste, die edelste Britse waardes, wat ’n tragedie soos die konsentrasiekampe van die Boereoorlog gebeur het – en ek is geneig om haar te glo.

‘Do not confuse the issues and join hands with those who look on her (South Africa) with eyes of greed and not with eyes of love.’

Meer as ’n 100 jaar later, is daar steeds twee tipe republikeine onder die Boeremense van Suid-Afrika. Jy kry die eerste soort. Die soort wat die land met geweld wil oorneem. Die soort wat onskuldige mense laat sterf. En dan kry jy die republikein wat vrede soek. Die republikein wat slegs dit eis wat hulle vir andere gun. Die republikein soos verteenwoordig deur die mense van Orania – dieselfde Orania wat nie skaam was om ’n simpatieke verklaring uit te reik by die dood van oudpresident Nelson Mandela nie. Omdat hulle verstaan dat daardie man ’n held was vir baie mense.

Dieselfde Orania wat vir Nelson Mandela en ja, les bes ook vir Julius Malema, in hulle dorp verwelkom het. Die Orania wat sy teekoppies met Mandela gedeel het. Die Orania, wat so passievol is oor hulle kulturele erfgoed dat hulle nie skrik vir eie arbeid nie.

Die Orania wat op 16 Desember 2013, saam met velerlei ander instellings, onder meer die Verenigende Gereformeerde Kerk en die NG Kerk in Afrika, kranse gaan le het vir die vroue en kinders by die monument, omdat hulle weet hulle het geen monopolie op die geskiedenis nie. Die erfenis behoort aan almal.

Die krag van die Vrouemonument le juis hierin!

Emily Hobhouse het gesê: “This is your South African Monument; But it is more; for ‘their story is not graven only on stone, over their native earth. We claim it as a WORLD MONUMENT, of which all the World’s Women should be proud; for your dead by their brave simplicity have spoken to Universal Womanhood, and henceforth they are ‘woven into the stuff’ of every women’s life’”

Dit is vir hierdie rede dat ek die geloftedag as belangrik beskou. Die gelofte was gemaak deur mense wat vir hulle vryheid geveg het. Dit was nie veglustige mense nie. Hulle stryd was, ten minste in hulle eie oë, een vir hulle vryheid. En dit wat ons daarvan oorhet, die erfgoed, behoort aan al die mense van aarde. Net soos die wat die tragedie, die pyn, van die konsentrasiekampe, deel is van die erfenis van alle mense, en alle vroue.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s