Teologie vir die twyfelaar 13: ’n Ope Brief aan die verregse Boere

Dit was veronderstel om die dag te wees waarop swart Suid-Afrikaners in hulle massas moes opruk om die blankes uit te wis. Die sogenaamde ‘nag van die lang messe’. Oor, en oor, en oor moes ons hierdie storie hoor. By braaivleisvure. Na die rugby. Na huisgodsdiens. Gemeng met genoeg skeute van 2 van ons grootste verslawings in Suid-Afrika, alkohol en godsdiens: Niklaas van Rensburg, die ‘Siener’, so was daar gesê, het dit voorspel. Dat die dag as Nelson Mandela te sterwe kom, dan gaan die swart mense van Suid-Afrika begin met ‘uhuru’, die ‘nag van die lang messe’. Daar was tot gewees, eens op ’n tyd, ’n man wat geblog het onder die belaglike naam van ‘uhuru guru’.

Die tragiese plaasmoorde waaraan Suid-Afrika gekenmerk word, was gekoppel aan die kamstige ‘voorspellinge’ van die Siener.

Maar Nelson Mandela is al begrawe, en ons het nog nie hierdie ‘uhuru’ gesien nie . . . Inteendeel het ons ’n nasie gesien in rou. Wit en swart wat hande vat. Mandela het inderdaad, in sy dood, net soos in sy lewe, die mense van Suid-Afrika verenig, soos wat ek op 7 Julie al voorspel het dit sal wees. Maar ek het nie die titel van enige ‘Siener’ nie. En ek wil ook nooit he nie.

Die probleem le ook nie regtig by Siener self nie. Ek glo dat die Siener regtig dinge gesien het. Hy was iemand met ’n gawe. Die ding met die Siener, is presies net soos die ding met die Bybel. Dit kom nie by die tekste self nie, maar dit kom by die interpretasie van daardie tekste, waar die gemors begin. Want elke een is mos ’n “kenner”. Nes die predikers weet die een beter as die ander. Nes al die predikers oor die eeue, mense soos Hall Lindsay en onse eie Coetzee, telkemale die ‘einde’ van als voorspel het, so is dit ook met hierdie, kom ons noem hulle ‘Siener-mense’. Hulle floreer op die vrees van hulle medemense.

En net soos met die predikers, word daar te veel na antwoorde gesoek in stokou antieke stofbedekte geskrifte om die probleme van die 21ste eeu op te los . . . Some things will never change, seg die Engelsman mos altoos.

Max du Preez het vroeër in 2013, toe die groot man nog met ons was, ’n stuk geskryf waarin hy beweer dat die probleem daarin lê dat talle wit Suid-Afrikaners vir Mandela as ‘anders’ as ander tipe swartmense gesien het. Dis ’n harde stelling om te maak, maar ek dink nie dis van alle waarheid gestroop nie. Mandela is nie in alle opsigte uniek nie. Die probleem is dat mense nie gaan soek na die mini-Mandela in hulle bure nie. Nee, hulle verkies vrees . . .

Ek sien myself as geen liberale mens nie. Polities beskou ek myself as ‘moderaat’. Daarmee wil ek te kenne gee dat ek is iemand wat glo dat als in die verlede nie net sleg was nie. Inteendeel, daar was baie mooi uit ons gisters waaruit ons kan put. Maar dinge kan ook nie altyd net dieselfde bly nie. As ’n moderaat, is ek dan ook iemand wat myself nie terugtrek nie. Ek ontneem myself nie daarvan om ’n volle burger van hierdie land te wees nie.

Ou boeke is nie die Alfa en die Omega in my lewe nie. Ek verkies om self te gaan uitvind of mense van ander kulture as ekself my haat en my wil doodmaak.

En as sulks, sit ek ook nie vandag met ’n oorskot Bullybeef nie. En ek hoef van niemand af te vlug nie. Nie fisies nie, en ook nie emosioneel nie.

Kom ons gebruik 2014 om ons lewens te rig deur inspirasie te put, nie uit ons swak interpretasies van ou antieke boeke en veral voorspellings wat mense gemaak het nie, maar uit die mense in ons lewens, in ons woonbuurte. Kom ons hou op om vreemdelinge vir mekaar te wees. Want dis dit wat jy nie ken nie, wat jy geneig is om te vrees. Kom ons nooi meer vreemdelinge in ons harte in en soek die menswees. Die hemel sal vir homself sorg. Almal wat al gedink het hulle het ’n monopolie op God of op die Bybel, het hulleself lekker vasgeloop.

Toe Nelson Mandela in die tronk was, het hy nie die tyd gebruik om dinge te probeer aflei uit stokou boeke nie. Nee, hy die taal en kultuur van die mense wat hom opgesluit het, begin bestudeer. Op daardie manier het hy hierdie mense, wat hom as ‘vyand’ beskou en behandel het, deel van homself gemaak. En so het hulle nie vir hom groter vyande geword nie, maar eerder vriende – vriende wat deur die samelewing besoedel was. Mense wat, in Mandela se woorde, geleer was om te haat. Beloon was om te haat.

Ons is nie op aarde geplaas om God te verstaan nie. Ons is op aarde geplaas om lief te he.

Advertisements

2 comments

  1. Siener van Rensburg het nooit gesê as Mandela sterf gaan swartmense die strate invaar en skielik links en regs blankes uitmoor nie. Hy het wel gesê dat die probleme dan eers gaan begin en erger en erger word. Terloops,hy het Mandela nie by naam genoem nie,maar van n swart leier gepraat. Ek beskou nie die Bybel as n “ou boek” nie,maar as die Woord van God en dis beslis my Alfa en Omega.

    • Dankie vir jou kommentaar Fritz. Ek waardeer dit altyd. Ek weet ek en jy dink verskillend en ek aanvaar dit so.

      Die Bybel is wel baie oud hoor! Maar ja, vir Christene wat nie geweeg en te lig bevind word nie, mense wat ‘Christen genoeg’ bevind word en wat in daardie geloofsgemeenskap verwelkom word, is die Bybel dikwels meer heilig as vir my.

      Ek het wel groot bewondering vir die Bybel. Dit is ‘n boek wat ek kan geniet en inspirasie uit put maar wat ek duidelik nie self die kapasiteit oor beskik om self ten volle begryp nie, aldus al die skrifgeleerdes en heiliges in my midde.

      Vrede vir jou.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s