Teologie vir die twyfelaar 12: Die tragedie van isolasie in teologiese terme en hoekom Nederland ons vriende is en nog altyd was

‘n Londense bus met ‘n oproep in 1989 om die apartheidsregime in Suid-Afrika te boikot. (Foto: Wikimedia Commons)

Ons het ’n aantal gereelde lesers hier by die Afrikaanse Opinieplatform wat natuurlik altyd welkom is. Self blog ek nie vir kommentare of vir aandag of vir wat ook al nie. Ek blog want dis hoe ek my gedagtes kanaliseer. Ek beskou dit as ’n tipe meditasie. Maar kommentaar is welkom. Een van ons gereelde bydraers maar ook kommentatore is ene Frik Lotz. Frik en ek verskil besonder baie oor meeste sake, maar ek bewonder hom vir die manier waarop hy deelneem, en verwelkom altyd sy bydraes.

Maar ek het besware teen die manier hoe een van die ander kommentatore te werk gaan. Om haat te wil rasionaliseer, sowel as geweld – dit is nie die waardes wat ek najaag nie.

Elke volk en nasie, net soos elke individuele mens, kan nie totaal in isolasie leef nie. Mense se lewens is verweef. Ons leef in ’n geglobaliseerde wêreld. Ons kort die kontak van andere. Ons kort dit om idees uit te ruil. Op daardie manier leer ons van andere, en andere leer van ons.

So was dit, tydens die lang jare van apartheid. Die beleid van apartheid was ingestel in ’n tyd toe Europa stadig besig was om van sy beleid van kolonialisasie af te sien. Suid-Afrika wou in hierdie spore volg. Onder Malan en Strijdom het ‘klein apartheid’ gekom. Maar toe kom daar ’n man uit Nederland met die naam Hendrik Verwoerd, en onder Verwoerd is die stelsel van ‘groot apartheid’ ingestel. Met groot apartheid is daar aan elke ‘nasie’ ’n ou klein lappie grond in die republiek aan elk gegee. Om dit relatief te skets, 80% van die land se mense was ingeprop in 20% van die land, en 20% van die mense van die land het die ander 80% van die land gevat. Gedwonge verskuiwings was aan die orde van die dag. Woonbuurte is plat gestoot en mense moes padgee. Werke was gereserveer. Skole. Universiteite. Aandklokke het die tyd aangedui wanneer jy klaar die baas se vloere geskrop en gras geknip het, en jy moes padgee uit die wit gebied. Swak ou vroue en vredeliewende mense moes pasboeke dra in hulle eie land asof hulle kriminele is wat gemonitor moes word. Vreedsame protes is met geweld onderdruk. Uiteindelik het die ANC self militant geword.

Verwoerd en sy tydgenote het natuurlik ‘groot apartheid’ gesien as ’n soortgelyke proses as ‘dekolonialisasie’. Maar dit was die teendeel. Net soos wat die koloniale grense kunsmatig getrek was, so was die ‘tuislande’ se grense kunsmatig getrek. Die wêreld het Suid-Afrika veroordeel, maar ons parlementêre leiers was koppig. Stadig maar seker het die land al meer en meer geïsoleerd begin word.

Die isolasie het op baie maniere ons land verarm, maar die een wat ek nou wil uitsonder, is in die godsdiens. Die geloof. In 1945 is daar ’n aantal antieke geskrifte ontdek by Nag Hammandi. Die volgende jaar, in 1946, is die dooie see geskrifte ontdek. Hierdie ontdekkings, tesame met vele ander, het met tyd stadig begin deursyfer in die Bybelwetenskap. Maar Suid-Afrika het in dieselfde dekades al meer en meer geïsoleerd begin word.

Die ontdekkings by Qumran en Nag Hammandi het die wêreld se verstaan van die kerk en spesifiek die Bybel op sy kop gekeer. Vir die eerste keer is daar besef dat daar verskeie variasies van boeke van dieselfde titels in omloop was in die antieke tye. Daar was byvoorbeeld meer as een weergawe van die boek Jesaja, om maar een voorbeeld te noem. Daar is opnuut besef hoe die antieke geskrifte aangepas was oor die eeue.

Ons is nooit kruisbestuif met hierdie idees in die apartheidsjare nie. En vandag sit ons met die resultate. ’n Diep verdeelde kerk. Nie net verdeeld oor die feit dat die kerk apartheid teologies regverdig het nie, maar ook verdeeld omdat baie lidmate nog sit met ’n koloniale interpretasie van die antieke geskrifte. Sit met die idee dat hulle boeke is wat letterlik deur God geskryf is, en wat letterlik gelees moet word as geskiedenis en direk van toepassing gemaak moet word op ons lewens . . .

Dit is jammer dat sommige mense van ons land, ons land wat eens ’n kolonie van Nederland was, nie wil he dat daar goeie bande moet wees nie. Nie wil he dat Nederland ons denke moet beïnvloed nie. Die Verenigde State van Amerika, wat eens ’n Britse kolonie was, sal nooit ’n soortgelyke houding teenoor Brittanje inneem nie, maar ons mense wil skynbaar soms terugtrek in hulle eie laer in. Gelukkig is die mense wat wel so is, ver is in die minderheid. Dit is mense daardie wat terugverlang na die vleispotte van apartheid, na die tyd toe hy die baas was en die swart man kon beveel om sy vleispot na die ete te skrop.

Nederland het baie belang by Suid-Afrika en by Afrikaans, net soos wat Suid-Afrika belang het by Nederland. Ons praat immers dieselfde taal, ons noem hierdie tale net verskillende goed. En dit is in ons belang om die wêreld daarop attent te maak dat die Nederlandse erfenis, ook ons erfenis, en dat ons erfenis ook hulle erfenis is.

Ek hoop dat die bande tussen Suid-Afrika en Nederland in die toekoms nog ongekende hoogtes sal bereik. Dat ons mekaar sal verryk en, hoewel ons nooit die verlede moet vergeet nie, onsself nooit teen ons verskille blind staar nie.

Ons moet wees soos Bram Fischer en sy ma Molly. Bram was ’n kommunis, en sy ma ’n nasionalis, maar tot die bitter einde was die verhouding warm en hartlik. Ons moet wees soos Paul Kruger en Piet Joubert – in die parlement vurige opponente, maar op die slagveld vriendelike bondgenote. Ja, so moet Afrikaners en Nederlanders wees – vriende, selfs op dae wat ons verskil.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s