Redaksionele verklaring ter nagedagtenis aan Nelson Mandela

(Foto: Wikimedia Commons)

Die dag waarvan almal het geweet hy gaan kom, was skielik daar. Donderdagaand het Nelson Mandela gesterf. Een van die wêreld se grootste staatsmanne het heengegaan. Dat die dood van Mandela reeds onderdeel is van die rytjie ‘waar-was-jy-toe-Mandela-…’-oomblikke vertel hoe groot hierdie staatsman was.

Sy dood is nie die goeie oomblik om die toestand en die politiek van die huidige Suid-Afrika, wat Mandela nou verlaat het, te bespreek nie. Meer as om te sê dat die huidige Suid-Afrika nie die tipe Suid-Afrika is waarvan Mandela gedroom het nie, is genoeg. Hierdie debat is nie gepas vir hierdie dae nie. Na sy begrafnis of nog later kan Suid-Afrika oor die erfenis van Mandela gaan praat.

Mandela was met sy politiek van versoening die redder van Suid-Afrika. Hy het Suid-Afrika gered van die ondergang. Net sy politiek was genoeg om die gematigdes tydens die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (KODESA) nie te laat kaap deur ekstreme groeperings aan weerskante van die politieke spektrum nie.

Nee, hierdie redaksionele kommentaar is nie ’n politieke manifes vir die nalatenskap van Mandela nie. Maar nou Mandela dood is, hou ons maar vas aan goeie westerse waardes: Oor die dooies niks anders as goeie dinge nie.

Natuurlik het Mandela dinge gedoen wat hy eintlik nie gedoen moes hê nie. Maar dit het op die ou einde maar onbelangrik geword, omdat sy goeie dinge soveel meer impak gehad het. Om tydens die onderhandelings vir ’n nuwe Suid-Afrika en sy presidentskap om versoening tussen die verskillende bevolkingsgroepe van Suid-Afrika te vra, was ’n uiters moedige beslissing.

Hoe maklik sou dit gewees het as die ANC en Mandela regtig ‘n – moreel verdedigbare – straf vir die wit bevolking van Suid-Afrika geëis sou het? Desnoods per burgeroorlog nadat die ANC die mag gekry het?

Nee, Mandela het nie daardie pad gekies nie. Natuurlik kon Mandela die pad van versoening nie alleen bewandel nie, Suid-Afrika het dit saam gedoen. Maar vandag is die feit nie belangrik nie.

Mandela het mense reg oor die wêreld geïnspireer op ‘n wyse soos min mense gedoen het. Sy moed om te kies vir die lank pad van versoening – na 27 jaar gevangenskap – is onbeskryflik groot. Almal het van hierdie beslissing geprofiteer, ook diegene wie se lewenstandaarde na die val van apartheid slegter geword het.

Feit is dat met sy sterwe die Mandela-tydperk definitief verby is. Maar dit maak sy idees en oortuigings nie minder sterk nie. Die teendeel is egter waar. Na die begrafnis van Nelson Mandela sal die inwoners van Suid-Afrika moet besin oor die waarde van Mandela se politiek en die rol van hierdie tipe politiek in die huidige Suid-Afrika. Maar vandag is dit ’n storie vir môre.

Die redaksie van Die Afrikaanse opinieplatform wens, ook namens sy skrywers, gebruikers en lesers, sterkte vir die familie en vriende van Nelson Mandela.

(Foto: Wikimedia Commons)
Nelson Mandela tydens ‘n toespraak vir die Verenigde Nasies in Desember 1999 (Foto: Wikimedia Commons)
Advertisements

4 comments

      • Ag dit was maar net een van baie lekker-lag-artikels wat ek gelees het sedert Donderdag. Moeilik om te verduidelik waarom.
        Ek het nie vir Mandela geken nie maar ek het gehoor wat hy gedoen het. Wat hy gesê het is nie vir my so interesant nie.
        Ek het ‘n geduggie geskryf om te probeer sê hoe ek voel oor sy dood waarvoor almal so lank gewag het, maar soos ek sê ek het hom nie geken nie.
        “Sommige siele sal mens nooit ontdek nie, tensy, mens hulle eers uitdink.”

  1. Ek steun hierdie verklaring! Mandela is ‘n man wat ek bewonder. Hy was ‘n soldaad. Sy party se beleid was geweld ja, nes die minderderheidsregering van voor 1994 ook met geweld en met staatsgeorganiseerde terrorisme die bemange van die meerderheid onderdruk het.

    Madiba het nooit ontken dat hy geweld wou gebruik nie, anders as die politici van die apartheidsera wat te graag ontken het dat hulle vir die geweld in die land verantwoordelik was.

    Mandela het dikwels teen sy eie koukus in gehandel. Hy het onderhandel toe sy koukus hom beveel het om dit nie te doe nie. Hy het minderhede geakomodeer toe sy party nie regtig wou nie. Hy het geweld afgesweer toe baie groeperinge Suid-Afrika na sy vrylating met geweld wou oorneem, selfs lede van sy eie gesin het hy teegegaan.

    Hy moes vir 25 jaar op pap lewe in ‘n klein sel en hy het niemand ooit daarvoor verwyt of vir wraak gevra nie. Dis ‘n groot gees wat ons groet hierdie.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s