Die oumense van vandag en hoekom ek nie veel na hulle luister of vir hulle wil stem nie

Ou mense "weet mos altyd alles beter..." (Foto: Wikimedia Commons)
Ou mense “weet mos altyd alles beter…” (Foto: Wikimedia Commons)

Gister, toe gaan luister ek na ’n gesprek waar Marcia Khoza gepraat het oor hoe Eugene de Kock haar ma vermoor het, en hoe sy die pad gestap het van vergifnis en uiteindelik vir De Kock gaan ontmoet het. Die akademikus dr. Piet Croukamp was ook daar. Croukamp is een van die heel grootste voorstanders van die vrylating van Eugene de Kock, wie hy as sy “beste vriend” beskryf het. Oudpresident F.W. de Klerk, sê Croukamp, ontken dat mense soos Eugene de Kock deur die politici aangesê was om hulle gruweldade te pleeg. De Kock, sê Croukamp, is tot vandag toe nog die mees versierde lid van die polisiemag onder die apartheidsregering, dis nou in terme van medaljes en toekennings. Hy was ’n gevierde man in jy jong dae, maar toe 1994 aanbreek, toe het al die politici hulle rug op hom gekeer.

Ek lees ’n artikel in die New York Times (NYT) op die internet. Jongmense, so argumenteer die skrywers, is besig om totaal en al vervreem te word van hulle voorgangers. Generasiegapings en die uitdagings daaraan verbonde is natuurlik geen nuwe verskynsel nie. Dis maar net weer ’n patroon wat homself herhaal. Dink ’n bietjie hieroor. Volgens Smith en Aaker, wat die artikel in die NYT geskryf het, is die inkomstegaping tussen ouer mense en jonger mense in die VSA besig om vinnig toe te neem. Die generasie gebore na 1980 (waarvan ek deel is) staan al lank bekend as die sogenaamde “Y” generasie, net maar ’n opvolging van die “Generasie X”. Hulle staan in Engels as die “millennials” bekend. Nou dink nou hieraan, en dit kom uit die artikel en ek het dit self gaan toets:

“To give you a sence of their lot, when you search ‘are millennials’ in Google, the search options that come up include: ‘ are millennials selfish,’ ‘are millennials lazy,’ and ‘are millennials narcissistic.’”

Ja, dit is hoe daar gedink word oor ’n hele generasie mense. Hulle is nie mense wat deur ’n harde tyd gaan nie. Hulle is nie mense wat moet sit met die gebakte pere van ons generasie se selfsug nie! Hulle kan nie die globale resessie blameer nie. Nee, hulle is net sleg. Lui. En o ja, daar is ander ‘options’ wat ook opkom as mens daardie eksperiment doen.

Wat geld vir die Verenigde State van Amerika geld grootliks hier ook in Suid-Afrika. Die ouer generasies het heel dikwels amper absoluut geen simpatie met jongmense nie. Hulle sien hulle maar net as ‘lui’. Veral, veral in wit gemeenskappe. Dit is, vir my ten minste, asof die gemiddelde swart of bruin Suid-Afrikaner meer simpatiek is teenoor die werklose mens. As mens die ontleding in die NYT lees teen die konteks van Suid-Afrika: Suid-Afrika het ekonomies ontplof gedurende die 1960’s en 1970’s. Boonop was die generasies wat my voorafgegaan het (spesifiek die witmense nou, aangesien ek self as wit beskou word), lekker gerieflik bevoordeel deur werksreservering. Daar was sommer ’n swetterjoel wette wat hulle ekonomiese sekuriteit gewaarborg het onder apartheid.

Uiteraard moes baie van hulle in 1994 die staatsdiens verlaat, want hulle was net eenvoudig nie gekondisioneer om in ’n multikulturele omgewing te kon werk nie. Die meer dinamiese soort onder hulle het egter aangebly en die ‘nuwe’ Suid-Afrika help slaag en hulle kundigheid en vaardighede oorgedra.

Maar die meerderheid blankes van daardie tyd het maar swaar afgesien van hulle bevoorregte verlede, en hulle leier, F.W. de Klerk, het ontken dat apartheid ’n wrede sisteem was, maar sien apartheid eerder as ’n edele ding wat skeefgeloop het. Ook die belangrikste kerke onder die Boere het tot die gevolgtrekking gekom apartheid nie ‘sonde’ was nie, maar slegs die ‘spesifieke toepassing’ daarvan soos wat dit in Suid-Afrika toegepas was, was sonde.

Beskerm deur die vaardighede, kennis, netwerke en rykdom wat hulle deur die sisteem van apartheid bekom het, ’n sisteem wat tot ’n misdaad teen die mensdom verklaar is, sit daar té veel van hierdie ‘baby boomers’ vandag terug beledig die jonger generasies wat nie die mas opkom nie, net waar hulle kan. En dan klim hulle op platforms en sweer hoog en laag dat as jy nog net híérdie keer (2014) vir hom en sy party sal stem, dan sal dinge regtig beter wees, nes dit in 2009 ook beter sou wees.

Die vervreemding tussen jonk en oud in Suid-Afrika word net so goed beskryf deur die woorde van Smith en Aaker, wie se skrywe eintlik op die generasiegaping in die VSA gemik was:

“Chastened by these tough economic times, today’s young adults have been forced to rethink success so that it’s less about material prosperity and more about something else.”

In die lig van Smith en Aaker se verstommende waarneming van Google se opsies as dit by ‘millenials’ kom, kan ons miskien jong mense vandag anders doop. Om meer reguit te wees, kom ons noem hulle die ‘oumense-dink-nie-veel-van-jou’ generasie. Dis die mense die wat hulle lewens moet begin in die grootste ekonomiese gemors in 80 jaar, en dit sonder die stringe apartheidswette wat hulle voorgangers beskerm het.

Marcia Khosa is een van hierdie mense. Sy is ook ’n sogenaamde ‘millennial’ wie se ma deur ’n baby boomer vermoor is – ’n baby boomer wat skynbaar net ’n stuk gereedskap vir sy tydgenote was. Maar Marcia is vandag een van die mense wat pleit vir De Kock se vrylating, terwyl die politici wat in De Kock se tyd regeer het aanhou ontken dat De Kock hulle breinkind was, en De Kock selfs ’n “wrede” man noem . . .

Advertisements

2 comments

  1. Alles onder Apartheid was nie net sleg en boos nie. Blankes was nie net ryk en swartmense almal arm nie. Die ANC en ander organisasies het n revolusionêre stryd gevoer en baie onskuldige mense is gedood deur hul bomme,landmyne en die “neclace” van swartmense. Kyk hoe lyk die land vandag. Is dit n beter plek as voorheen? Nee,beslis nie. Die “ou”mense het hard gewerk en bloed gesweet en niks verniet gekry of dit ten koste van swartmense ontvang nie. Alles wat opgebou is in hierdie land word nou vernietig en tot niet gemaak deur misdaad,korrupsie,immoraliteit,lae standaarde,ens.ens. Nee wat, die oumense het niks om voor om verskoning te vra nie. Dankie aan al die oumense vir wat hul bygedra het in die verlede. Ek tel ook seker onder die “ou” mense want ek het onder Apartheid grootgeword en was deel vd ou SAW,een vd beste weermagte te wêreld,wat die revolusionêres beveg het.

  2. Ek stem saam met jou Fritz. En ek was, so terloops, nog altyd iemand wat gepleit het vir ‘n genuanseerde interpretasie van die verlede. Ek het nog nooit ontken dat daar mooi dinge onder apartheid gebeur het nie, inteendeel, lees maar my destydse kommentaar op die film ‘Roepman’:

    http://blogs.24.com/vdmbj/2012/03/19/kyk-roepman/

    Maar apartheid was in sy wese boos en sondig – iets wat slegs maar enkele blanke kerke al erken het.

    Maar nou ja, dis eintlik gladnie waaroor hierdie stuk van my gaan nie. My stuk gaan oor die vervreemding tussen oud en jonk, wereldwyd en ook hier in Suid-Afrika.En die artikel in die New York Times bewys onteensegtelik dat my geslag mense ‘n getipeerde geslag mense is. Die ouer geslagte beskou ons as lui en selfsugtig. Dalk nie jy spesifiek nie, maar jou generasie ja. Die gemiddelde oumens het geen simpatie vir die feit dat die jongmense van vandag hulle lewens moet begin in die grootste ekonomiese gemors in 80 jaar nie.

    En in die wit gemeenskappe is dit erger. Want die oumense (wat jonk was in ‘n ekonomiese bloeitydperk) was boonop ook beskerm deur ‘n magdom apartheidswette. Vandag kan hulle lekker terugsit en die jongklomp beledig. Ek het hierdie feit herhaaldelik al beleef en gesien in my eie lewe.

    Daar word ontken dat jongmense dit swaarder het as wat oumense dit gehad het. Nes wat daar ontken word dat apartheid sonde was. Nes daar ontken word dat Eugene De Kock et. al. sy bevele van politici af gekry het. Nes daar ontken word dat gays sleg hanteer word in ons kerke. Nes daar ontken word dat, ag, jy kry die punt. Dis die ontken-mense lyk dit my.

    Ek haat nie mense nie, en veral nie oumense nie. Ek is lief vir hulle. Maar ek sal lieg as ek se ek voel nie vervreem van hulle af nie. Ek vertrou hulle net moeiliker. Ek is te veel deur hulle vertrap om hulle te vertrou.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s