Skokkend: SA se staatstoelae is onder kontrole

Ja, U lees dit reg. Die staatstoelae in Suid-Afrika, waar onder belastingbetalers soveel om te doen is, is onder kontrole. Dat is die konklusie van hierdie navorsing. Eintlik wou ek bewys die stelsel van staatstoelae in Suid-Afrika kos die belastingbetaler baie geld. Hoewel Suid-Afrikaners meer belasting betaal (die wat wél betaal) as die Nederlandse belastingbetalers, gaan daar baie minder geld na staatstoelae in Suid-Afrika as in Nederland.

Die storie het begin met ‘n twiet waarin die ANC gesê het dat tussen 1994 en 2013 die aantal staatstoelae van 2,6 miljoen na meer as 16 miljoen vergroot is. Onder sy #WhyVote2014-veldtog het hy die volgende twiet uitgestuur:

Maar eintlik sê die aantalle maar min. Dit gaan om die hoeveelheid geld wat dit kos. Volgens ‘n begrotingsoorsig op die webwerf van die Departement van Finansies staan (in Afrikaans!) dat daar 184 miljard rand uitgegee word aan wat hulle ‘maatskaplike bestaansbeveiliging’ noem.

Die Nederlandse regering betaal in dieselfde jaar ongeveer 1000 miljard rand aan ‘werkgelegenheid en sociale zekerheid’. Ek dink hierdie poste is maar gelyk.

Dit lyk buite verhouding, maar die Nederlandse begroting is 3x groter as Suid-Afrika s’n. Om beter te kan vergelyk, beskou ons dit persentueel. Wat blyk? Suid-Afrika spandeer 16% (R184 van 1150 miljard) van sy begroting aan ‘maatskaplike bestaansbeveiliging’, terwyl die Nederlandse regering 29% (€78,6 van 267 miljard) van sy begroting aan ‘werkgelegenheid en sociale zekerheid’ uitgee.

In Suid-Afrika is daar dus 184 miljard rand vir 16 miljoen mense beskikbaar. Dit is gemiddeld dus 11 500 rand per jaar of 950 rand per maand. Dit klink dalk baie, maar 950 rand per maand per gesin is nie baie nie. Dit is ongeveer gelyk aan ‘n vol supermarktrollie se inhoud! Toe ek in Suid-Afrika geswot het, het ek 2000 rand per maand gespandeer – en ek was maar net enkellopend.

Die groep Suid-Afrikaanse staatstoelaetrekkers is so groot soos die gehele Nederlandse bevolking, maar die koste daarvan is beduidend laer as die koste van die Nederlandse staatstoelaetrekkers. Natuurlik, lewensstandaarde in Nederland is hoër as in Suid-Afrika en darem is die lewe maar baie duurder (Voorbeeld: ‘n Mercedes Benz A 250 Sport is in Nederland 200 000 rand duurder as in Suid-Afrika). Daarom moet die staatstoelae in Nederland hoër wees om ‘n mens se goeie lewe te kan waarborg (wat vir die Mercedes-verskil geld, geld ook vir die prys van ‘n brood in die supermark).

‘n Voorbeeld van verskil in staatstoelae is die kindersorgtoelae. In Suid-Afrika kry ouers (wat minder as 69 000 rand per jaar verdien – sien die voorwaardes hier) ‘n toelae van 300 rand per kind per maand. In Nederland kry ouers ‘n toelae van 775 rand per kind per maand.

‘n Beter voorbeeld is die ouderdomspensioen. In Suid-Afrika kry mense bo 60 (onder voorwaardes) ‘n staatspensioen van 1270 rand per maand. In Nederland kry ou mense ‘n staatspensioen van 14 720 rand. In Suid-Afrika is daar slegs ‘n deel van die 2,5 miljoen mense bo 65 wat reg het op ‘n staatspensioen, in Nederland het alle 2,4 miljoen burgers bo 65 reg op ‘n staatspensioen.

Indien alle Suid-Afrikaners bo 65 ‘n staatspensioen sou kry, sou dit die Suid-Afrikaanse skatkis ongeveer 3,1 miljard rand per maand kos. In Nederland kos die staatspensioen die begroting 35,3 miljard rand per maand.

In verhouding. In Nederland is daar ongeveer 12 miljoen belastingbetalers. In Suid-Afrika is daar ongeveer 5 miljoen belastingbetalers. Die Nederlandse regering hark €136,9 miljard (R1854 miljard) binne, in Suid-Afrika kry die regering ongeveer 898 miljard rand binne. Dit beteken dat die gemiddelde belastinginkomste per belastingbetaler in Nederland 154 500 rand is. In Suid-Afrika is die bedrag slegs 10% hoër. (Dit is nie die bedrag wat die belastingbetaler aan die regering betaal nie, maar die verkreë belasting per belastingbetaler. Die belastingbetaler betaal immers nie die bedryfsbelasting, grensbelasting, winsbelasting ens. nie.)

Wat onthou moet word is dat die Nederlandse regering – meer as die Suid-Afrikaanse regering – inkomste het uit ander sake as belasting. Dit veroorsaak dat die uiteindelike prentjie, wat die beste aan die uitgawekant bekyk kan word, anders lyk. Die Nederlandse regering het byvoorbeeld groot inkomste aan aardgas wat in die buiteland verkoop word.

Hoekom is die staatstoelae in Suid-Afrika nou onder kontrole? Ja, want van die belastingsinkomste gaan in Suid-Afrika slegs 20% na staatstoelae (of 16% van die begroting). In Nederland gaan 57% van die belastinginkomste na staatstoelae (of 29% van die begroting). Die Suid-Afrikaanse belastingbetaler betaal hom nie krom vir staatstoelae nie.

——–

Nota: Eintlik het ek hierdie syferfees begin om te toon dat die Suid-Afrikaanse toelaestelsel nie werk nie, soos ek voorheen dikwels geskryf het. Maar na hierdie rekenopgawe kan ek nie anders konkludeer: die ANC het die staatstoelae onder kontrole. En ja, miljoene mense se lewens word daarmee verbeter. En ja, dit is ongelukkig ‘n baie magtige instrument tydens die komende verkiesings in 2014…

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s