Lesersartikel: Die dood – Is daar ‘n “ander kant” op aarde?

Volgens die Siener van Rensburg het Generaal Koos de la Rey na sy dood saam met die manne van die 1914-Rebellie Suid-Wes toegery. (Foto: Wikimedia Commons)

Daar word vertel dat die Katolieke baie meer ‘spookvriendelike’ mense is. Want hulle Bybels is anders as die Protestante se Bybels. Ja, die boeke wat die Protestante uitgelaat het, is baie meer ‘spookvriendelik’. ‘Gaan kyk maar self’, word daar gesê.

Daar word gou gefrons as jy sê dat jy ook dalk glo aan spoke, erger, dat jy glo jy het al spoke gesien. As ons doodgaan, so word daar graag deur die ateïs verkondig, dan is dit ses voet en dis verby. Als is verby…

In die van ons kerke word geleer dat daar ’n dag van afreken kom. Die ‘skape’ word van die ‘bokke’ geskei en die skape gaan dan na ’n lekker plek toe en die bokke na ’n slegte plek toe.

Toe ek ’n kind was, was daar gesê dat my ouma dinge gesien het. Sy was met die helm gebore. So is daar gesê. ’n Aantal maande voordat my suster doodgegaan het, het my ouma op ’n dag vir ons begin sê dat haar oorlede seun by haar was, my pa se broer. Ek het bygesit en was ’n kind van so 10 of 11. Dan vra my pa, nou wat sê my broer? Dan sê my ouma, hy vra of ek jou mooi dogter gesien het. Dis al wat hy vra.

In dieselfde tyd was daar besoekers, en die een man het ook dinge gesien in die huis. Toe hy die familiefoto’s gewys was, toe wys hy dieselfde oom uit, my pa se broer. Tussen al die ander foto’s van mense . . .

Ek onthou ons was een aand by ’n funksie. In dieselfde tyd. My pa kom haal my, hy sê die dominee het hom kom waarsku daar is iemand by my ouma se huis wat dreig dat hy die oumense gaan vermoor as hy nie met my (toe nog lewendige) suster kan praat nie. Iemand wat die boodskap by iemand anders gehoor het, het gesê daar was ’n noodoproep van ouma se huis af. En ons jaag na my ouma toe. Daar aangekom, vat my pa die geweer en hy sê vir my as jy skote hoor of as ek oor ’n 20 minute nog nie terug is nie, bel die polisie. En hy bekruip my ouma se huis met die geweer. Hy tref die twee oumense rustig aan die slaap aan. Hy klop by die skoonmaker se deur, en dié vertel hom dat dit sý was wat die noodoproep gemaak het, nadat sy die telefoon hoor lui het, en toe sy by die telefoon gekom het, toe het ouma dit reeds geantwoord en toe maak ouma die bewering dat die man aan die ander kant gesê het hy soek my suster, anders gaan hy hulle kom doodmaak . . .

My suster is ’n aantal maande later heen. En ons vrae is nooit beantwoord nie. Wie was die man wat gebel het?

Andries Raath het ’n boek oor Siener van Rensburg geskryf, die sogenaamde ‘Boereprofeet’. Daar word vertel dat die Siener, toe hy saam met die rebelle van 1914/1915 op pad na Suid-Wes Afrika was, deur die manskappe gekonfronteer was. Daar was manne wat na die Siener toe gekom het en wat beweer het dat generaal Koos de la Rey, wat voor die uitbreek van die rebellie al tragies buite Potchefstroom gesterf het, gewaar was dat hy saam met die manne te perd in die veld was. Daarop was die Siener se antwoord maar net dat de la Rey nog heeltyd saam met hulle gereis het, in die gees, natuurlik.

Is daar op aarde werklik niks aan die ander kant nie? Is daar dalk iets soos ‘spoke’? Ek vermoed al baie lank dat daar wel sulke dinge is.

Hierdie artikel is geskryf deur Spokie. As u ook ‘n artikel op ons webwerf wil publiseer, gaan na ‘laai jou artikel‘.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s