Europa: Is onstabiele politiek goed vir demokrasie?

Die Suid-Afrikaanse politiek, waarin die ANC al amper 20 jaar lank heers – is in Europa ondenkbaar. Dat Angela Merkel (CDU) in Duitsland nou vir die derde keer die verkiesings gewen het, is ‘n groot uitsondering. By die volgende verkiesings het sy vir 12 jaar geregeer.

In Nederland het die CDA van Jan-Peter Balkenende ook vir 3 verkiesings gewen, maar dit was slegs in 2002, 2003 en 2006. Tot sover die stabiele faktore in die politiek. Nou begin die onrus. Al die kabinette van Balkenende het voortydig geval. Sy opvolger, die huidige Eerste Minister se kabinet het in 2012 ook reeds geval.

Die bevolking is uiters krities oor die funksionering van die politiek. Nie net in Nederland, maar ook in België, Denemarke en ander lande. Menings van burgers verander baie vinnig, terwyl die burger van die politikus verwag dat hy sy mening nie tussentyds verander nie (want anders lyk dit soos kiesersbedrog). Dit is soos ‘n onhoudbare verwagting én vergroot dus die teleurstelling in die politiek.

In Nederland het ons jare lank 3 groot partye (regse VVD, midde CDA, linkse PvdA) gehad (en 4 klein partye, wat eintlik almal opposisie voer). Twee van die drie groot partye het altyd saam regeer. Die CDA het na die ene verkiesing met die VVD geregeer en na die andere verkiesing met die PvdA. Die CDA en PvdA was altyd die grootste en kon dus die Eerste Minister lewer. Vir 50 jaar lank, tot 2002 het hierdie stelreël getel.

Maar met die opkoms van internet – ek weet nie of dit die rede is nie – het die Nederlandse publiek nog kritieser geword. Na 2002 was die Nederlandse bevolking meer as klaar met die VVD en die PvdA, wat vanaf 1994 8 jaar lank geregeer het. Hulle kabinette was die sg. Perse-kabinette. Populistiese politiek, onder leiding van Pim Fortuyn het in opkoms geraak. Sy party, die LPF (Lijst Pim Fortuyn) bestorm die politieke toneel. In sy boek “De puinhopen van 8 jaar paars”, beskryf Fortuyn hoe die PvdA-VVD-kabinette die land opgemors het.

Op 22 Maart 2002 sê Fortuyn dat “de Haagse politici medeverantwoordelijk zouden zijn als op hem een aanslag gepleegd zou worden”. Minder as 2 maande later op 6 Mei 2002, 7 dae vóór die verkiesings, word Fortuyn vermoor. Dit was die eerste Nederlandse politieke moord in vredestyd. Die moordenaar, ‘n linkse omgewingsaktivis, word 2 jaar later uitgeroep tot “ergste Nederlander”(Verwoerd het in die stryd 8ste geëindig).

Na dié verkiesings sou blyk dat die drie groot partye, nooit weer soos voorheen, die mag sou kon deel nie. Kleiner partye was noodsaaklik om die twee van die drie grotes ‘n meerderheid te besorg. Die CDA (midde) regeer afwisselend met regse en linkse partye.

Na 2010 verloor die CDA die verkiesings en verlies 50% van sy setels. Nederland kry vir die eerste keer in 100 jaar weer ‘n liberale (regse) Eerste Minister en die CDA besluit om in die koalisie tussen VVD en CDA te stap. Hierdie partye het egter nie ‘n meerderheid en moet steun in die parlement soek. Dit word dus ‘n minderheidskabinet, wat met die steun van Geert Wilders (Partij voor de Vrijheid) aan ‘n meerderheid kom. Maar die konstruksie knap, omdat Geert Wilders sy steun na 2 jaar terugtrek. Ander partye weier die minderheidskabinet te steun, en dus kon die Eerste Minister sy ontslag by die Koningin aanbied.

By die verkiesing het enigiets besonders gebeur. Waar links en regs vir jare lank saamgewerk het word dit nou links téén regs en regs téén links. Waar die linkse (amper kommunistiese) SP tot 2 weke voor die verkiesings lyk te wen. Dit veroorsaak dat – aan die ander kant van die speelveld – baie PVV-stemmers vir die VVD kies, sodat die VVD die grootste word. Maar dit veroorsaak ‘n skokgolf by links. 60% van die SP-stemmers loop na die PvdA om te keer dat die VVD die grootste word. Dit eindig in ‘n stryd, wat die partye aan die rande marginaliseer. In twee weke styg die PvdA van 18 na 38 setels. Die grootste party mag naamlik begin om ‘n koalisie te maak. Die bevolking is duidelik. Ons wil regs OF links.

Peilings van die 2012-verkiesings. Die strepies op die einde is die uitslag (Foto: Wikimedia Commons)

Wat gebeur het, is dat die PvdA (links) en VVD (regs) – soos voorheen – ‘n regeringskoalisie gevorm het. Dit teen die wens van die bevolking. Ons wou duidelike keuses, nie die swak midde nie.

Maar hierdie regeringskoalisie het nou, ‘n jaar later die meeste van sy steun verloor. Peiling September 2013

Dat die regeringspartye groot dele van hul steun verloor het, lyk nie ‘n probleem tot die volgende verkiesings nie, nè? Maar ongelukkig is dit ‘n groot probleem. Die meerderheid wat die regering in die Tweede Kamer (parlement) besit, besit hulle nie in die Eerste Kamer (Nasionale Raad van Provinsies) nie. Provinsiale verkiesings sal eers in 2014 wees – dus op die helfte van die regeringsperiode. Dit lyk uitgeslote dat die VVD en PvdA daar ‘n meerderheid gaan haal. Die huidige kabinet is dus ook ‘n tipe van ‘n minderheidskabinet.

Die prentjie lyk nie net vir die regeringspartye anders nie, maar vir alle partye is die prentjie heeltemal verander:

Peiling September 2013 - 2

Hierdie verskuiwings is slegs in ‘n jaar se tyd. So werk demokrasie. En feit is: die bestuur is regtig nie so sleg nie, omdat baie regeringswisselings die onafhanklikheid van die amptelike apparaat ten opsigte van die politiek verseker. Dit maak die bestuur eintlik baie goed, omdat baantjies nie vir boeties gegee kan word nie.

‘n Groot probleem is dat in ‘n veelpartystelsel, soos Nederland, die partye in die uiterste spektrum van die speelveld eintlik nie ‘n oplossing is nie. Hierdie partye kan dalk van invloed wees in die parlement en goeie opposisie voer. Maar kan hierdie partye werklik groot invloed binne ‘n koalisie uitoefen, sodat hul beleid hoofbeleid word? As hierdie party nie ‘n meerderheid kry nie, sal hulle idees nooit volledig uitgevoer kan word nie, omdat hulle standpunt in koalisie-onderhandelings slegs een rigting op afgebreek kan word. Buitendien is hulle in sekere sin ekstreem (ten opsigte van die ander partye se standpunte) en sal dit vir die meeste burgers onaanvaarbaar wees as hierdie idees uitgevoer word.

Maar demokrasie is demokrasie. Elke mening het die reg om gehoor te word in die parlement en ook daarin verteenwoordig te wees. Dit geld vir alle Europese lande op die Europese kontinent, omdat almal veelpartystelsels het. 

As ek die politieke verskuiwings in Nederland sien, nie net die vinnige verskuiwings, maar ook  die volhoubare verskuiwings op verkiesingsdae, kan ek met droë oë beweer: Suid-Afrika is geen demokrasie nie. Op papier is dit dalk, maar in sy funksionering? Nee.

Advertisements

2 comments

  1. Dis n baie goeie stuk wat geskryf is en geweldig interessant. Suid Afrika het nog baie om te leer oor demokrasie,politieke stelsels en dies meer. Regtigwaar n uitmuntende stuk!

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s