Daar is geen party wat my verteenwoordig nie en ek oorweeg dit om nie te gaan stem nie

Is die politiek in Suid-Afrika die rede dat mense nie wil stem nie? Barend dink so...
Die politiek in Suid-Afrika is die rede dat mense nie wil stem nie.

Nou ja. Ons het regtig ’n lekker trialoog hier op die Afrikaanse Opinieplatform aan die gang. Ek word altyd so baie verryk deur i90Christian se skrywes en nou ook Frik Lotz. Ek wil beide die twee here bedank vir al die insigte wat gedeel word. Baie, baie dankie.

Soos baie Suid-Afrikaners het ek hierdie naweek gegaan en myself gaan registreer vir die 2014 verkiesing. Na dese is ek nie meer regtig seker hoekom nie. Ek het ander planne gehad. Ek wou bietjie uit Bloemfontein uit weggekom het. Toe gaan registreer ek vir hierdie dekselse verkiesing wat ek, na ek vandag mooi oor die saak gedink het, ek dalk nie eens gaan deelneem aan nie. Maar nou ja, ek is grootgemaak op die manier van, moenie aspris deure vir jou toemaak nie. Wat as die kiesdag kom en jy het ’n change of heart? Wat dan? Ja, so ek is reg vir die 2014 verkiesing. Ek sal kan gaan stem. As ek daai dag wil. Punt is, ek glo nie ek gaan wil nie.

Nou sien ek mnr. Lotz verwys my daar na ’n stuk geskryf deur die een of ander obskure lidmaat van sy anti-gay party, die Vryheidsfront plus (VF+). Dit verbaas my nie. Al wat ’n politikus is pleit mos skielik weer dat ons tog net moet gaan stem. Ek meen, ek sou ook. Ek meen, sy brood en botter (maar VERAL sy botter hang van daardie kruisies af). Ai, the perks of being a parliamentarian.

Maar kom ons werk so bietjie deur die opsies hier, sodat ek my probleem kan stel. Kom ons begin sommer by die amptelike opposisie. Die Demodrakoniese Alliansie (DA). Die DA se leiers is ’n verdeelde spulletjie deesdae. Dié party is vasgevang in die stryd tussen sy smag na “die swart stem” en die bedreiging daarvan om sy tradisionele kiesersbasis te verloor. Derhalwe is dit ’n toutrekkery van belange. Hulle oud-leier, Tony Leon, het sy eie party onlangs beskryf as “nes die ANC”, sou hulle sekere beleide volg, en dat hulle die gevaar loop om hulle beleid van “nierassigheid” op te offer vir groter steun. Wel, wat kan ek meer sê? Hoe sal só ’n party kan regeer? Boonop sal die DA net hulle vriende se sake bevorder. Ek is nie oortuig daarvan dat die DA juis veel vir arm Suid-Afrikaners sal doen nie.

So dan is daar die Congress of the People (COPE). Soortgelyke storie maar in COPE, met die verskil, hier is dit ’n stryd om wie regeer. Wie’s die baas. So party sal, nes die DA, weens interne struwelinge, nie behoorlik op die taak van landsbestuur kan fokus nie.

COPE is die middelste boetie van die United Democratic Front (UDM) van Holomisa en dokter Ramphele se Agang, wat beide twee onbenullige partytjies is aan wie niemand hulle ooit sal steur nie.

En dan is daar natuurlik die Pieter Mulder party – die VF+, oftewel, die anti-gay party, soos ek hom herdoop het. Ek kan nie vir ’n anti-gay party stem nie. Nog minder kan ek ’n party steun wat hierdie land op “Bybelse waardes” wil regeer. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die oudste gereformeerde trinitaristiese kerk in ons land, waarvan ek ’n rustende lidmaat is, se sinodestukke stel dit duidelik dat die Bybel nié “so maklik is om te verstaan dat enige mens selfstandig en onmiddelik alles daarin kan begryp nie”.

Self het ek, sedert ek daardie sinodestuk die heel eerste keer gelees het, opgehou om God in die Bybel te soek, aangesien ek duidelik nie bekwaam is vir die taak nie. Ek lees Bybel deesdae net vir die lekker en om te sien hoe die antieke mense ook maar geworstel het om God te verstaan. Maar o wee, nou is daar kwansuis politici wat dit namens ons kan doen! O ja, meneer, mevrou, JY verstaan dalk nie jou Bybel nie, maar jou politikus doen… So ek moet hier bieg, ek het as jong naiewe mens eenkeer vir die African Christian Democratic Party (ACDP) gaan stem. Nóg ’n trotse anti-gay party. Nie mense wat hulle eie vermoë om die Bybel te verstaan in twyfel trek nie o nee, hulle weet als, en hulle soek jóú stem om hulle “Bybelse waardes” op die res van die mensdom af te forseer en ons terug te vat na die bronstydperk toe.

Daar is vandag baie Boere wat nie meer glo op die tradisionele maniere wat die kerk verkondig nie. Die ou belydenisskrifte maak vir baie mense nie meer sin nie. Tog sal partye soos die VF+ kom en verklaar dat hulle ‘die Afrikaner’ se ‘Bybelse waardes’ in die parlement staan en dien. Ek sal nooit, ooit vir hierdie party kan stem nie. Nes ek nie vir die ses of sewe ander ‘Christen’ partye sal kan stem nie.

Julius Malema het ’n interessante party. Die manier hoe hy praat namens arm mense en hulle behoeftes aanspreek, is waarlik ’n ongewone ding in ons politiek. Want ons hoor eintlik min van politici soos die Groenewalds en al die ander, maar kort voor verkiesingstyd dan verander hierdie mense natuurlik in gramofoonplate wat o so baie vir ons omgee. Jaaah, right. Maar ek vertrou ook nie vir Malema nie, en sy beleid van onteiening is nie die oplossing vir ons land se armoede nie – dis ’n beleid wat rampspoedig was in Zimbabwe.

So wat bly oor? Die ANC? Dié is net so verdeeld. Hulle is verdeeld en die twis belemmer goeie landsbestuur en boonop skep hierdie mense dikwels die indruk dat hulle nie van die Boere hou nie.

Nee wat. As daar more ’n verkiesing moes plaasvind, dan sal ek vir geen party gaan stem nie. Noem my dan maar ’n onverantwoordelike lid van die publiek, maar vir wat moet ek presies gaan stem? Vir ’n prentjie op ’n stukkie papier? Vir ’n VF+ man se baantjie in Zuma se kabinet? Vir wie? Vir wat?

Advertisements

4 comments

  1. Mnr Barend van der Merwe sê dis lekker om op Afrikaanse opinieplatform te debatteer en dat hier nie persoonlike aanvalle en dies meer geloods word nie. Maar dan gaan hy en noem dr. Pieter Groenewald,die parlementêre leier vd VF Plus, n obskure lidmaat vd VF+. Dis was onnodig en ongevraagd en n beledigende aanmerking. Sulke aanmerkings hoort nie hier nie. Hier probeer ons om op n beskaafe manier te debatteer. Ek hoop nie daar verskyn weer sulke onsmaaklike aanmerkings nie.

  2. Ek weet nie wat jy onder ‘obskure’ verstaan nie Frik, maar ek verstaan die woord as ‘onbekend’ en ‘onduidelik’. En vir my is hy daardie dinge. Ek weet niks van hom af nie. Ek weet nie hoe hy lyk nie. Wie hy is nie. Maar ten minste weet ek nou hy’s die VF+ se parlementere leier ja. Dankie daarvoor.

    Dis geensins ‘n belediging teen sy karakter nie nes ek ook nie Paul Kruger se karakter beledig het nie. Ek dink Paul Kruger was ‘n merkwaardige man. Ek dink net dit was nie reg dat Paul Kruger sy interpretasie van die Bybel op ander mense afgeforseer het nie.

    Ek wil nie met jou baklei nie.

    Dankie vir jou kommentaar en dankie dat jy deelneem aan hierdie platform.

  3. Ek verwelkom enige reaksie op my argumente van Frik maar ek begin nou moeg word vir die semantieke spelletjies. Ek sal hierdie houe nog ‘n rukkie vat maar ook net tot dan, as dit nie verander nie sal ek ‘n ander koers moet inslaan.

  4. Barend,hou aan skryf,dit hou die debat lewendig,selfs al stem n ou nie saam nie. Moenie kommentaar wat mense gee persoonlik opneem nie,dis maar deel vd reaksies en dies meer. So,skryf en skryf…

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s