Dis ‘NEE’ vir ’n uitsluitlik proporsionele kiesstelsel

‘n Nee vir die proporsionele kiesstelsel?

Ek reageer graag op Frik Lotz se vroeëre artikel insake die proporsionele kiesstelsel. Ek dink dis is lekker en belangrik dat ons ’n dinkskrum oor hierdie sake hou hier op die Afrikaanse Opinieplatform waar ons lekker kan gedagtes ruil en mekaar selfs kan aanvat sonder om mekaar se karakters te beledig soos wat mens ongelukkig op te veel van die ander webwerwe in ons land sien (wat ook die rede is hoekom ek hierdie plek verkies en dankbaar is teenoor die hoofredakteur vir al die moeite agter die skerms).

Ek voel ongelukkig nie so optimisties oor die proporsionele kiesstelsel nie. En ek gaan my redes gee hiervoor. Daar was jare gelede ’n studie gedoen deur wyle doktor Frederik van Zyl Slabbert, eertydse leier van die opposisie in die parlement in die 1980’s en latere lid van IDASA. Die opdrag was – maak ’n studie van Suid-Afrika se kiesstelsel en maak aanbevelings. Slabbert was teen daardie tyd nie meer in die politiek aktief nie en hy was ’n gesogte politieke ontleder en kommentator. En die doktor se bevinding was dat Suid-Afrika beter sal vaar met ’n stelsel waar ons beide van proporsionele verteenwoordiging sowel as direkte verteenwoordiging gebruik maak.

Slabbert se aanbevelings is ongelukkig geignoreer, en net soos wat die dok gewaarsku het, het dienslewering een van die heel grootste krisisse in ons politiek geword.

Die probleem wat ek het met die opkomende verkiesing, net soos wat ek met elke nasionale verkiesing waaraan ek al sedert 2004 deelgeneem het gehad het, is dat ek al weer net vir ’n prentjie moet gaan stem. Ja, ek stem vir ’n logo, ’n ‘brand’, as ek die Engels so mag inspan.

Ek sê nog altyd, die ANC het baie goeie leiers, en ek sal vir ’n ANC man stem wat ek vertrou. Maar in die huidige situasie moet ek stem vir ’n prentjie met ’n sonnetjie of ’n mielie of ’n spies of so iets belaglik. Die feit dat elkeen van hierdie partye skynbaar ’n eie beleid het sê vir my niks. Beleide en wette en sulke dinge beteken dikwels peanuts. Zimbabwe het byvoorbeeld een van die beste Grondwette, maar dis ’n nuttelose en dooie stuk wetgewing. Dit lewe nie in die harte van mense nie, soos wat die VSA grondwet in die harte van daardie land se mense lewe nie.

Nee wat, ek sê bring vir my terug die direkte verteenwoordiging soos in die ou kiesstelsel van die ou Suid-Afrika. Daar is dinge wat die ou Suid-Afrika slimmer gedoen het. In die ou tyd, voor ek stemgeregtig geword het, het mense geweet wie is die LV wat hulle verteenwoordig. Die persoon het uit ’n bepaalde streek gekom waar hy of sy gewoon het. Hy of sy het die probleme en behoeftes en die mense van daardie streek geken.

So hoe word die kieser in Kleindorpie-in-die-middel-van-nerens nou verteenwoordig? Al die LP’s woon in die groot stede. Johannesburg, Pretoria, Kaapstad. Dis mense met kontakte maar nie juis mense wat die bree spektrum van ons land se mense verteenwoordig nie.

Ek voel so sterk oor direkte verteenwoordiging dat ek voel die grootste deel van die LP’s moet direk verkies word.

Die punt is, ek ken nie die ranglys mense van die partye nie. As ek geweet het wie daardie mense op die partye se ranglyste was, dan sou ek dalk beter geweet het vir wie ek moet stem. Meer ingeligte opinie kon maak. Maar hulle is almal vreemdelinge vir my. Die laaste een van hulle is vir my vreemdelinge. Ook selfs die topleiers soos president Zuma, Helen Zille, Lindiwe Mazibuko, Patrick Lekota, Pieter Mulder, Kenneth Meshwe ag, noem maar op. Ek weet hoe lyk hulle ja. Ek sien hulle partykeer nonsens praat op TV om stemme te werf, maar daar is nie een LP in die ganse parlement wat ek kan sê o ja, dit is nou Koos hy bly hier in ons straat af, of daai is nou Mpho sy woon daar agter die kerk ek en haar dogter was saam op varsity nie.

So, ek moet AL WEER stem in 2014, en ek stem AL WEER vir ’n mielie of ’n spies of ’n son wat opkom.

Belaglik!!!

Advertisements

2 comments

  1. Dr Pieter Groenewald het in Rapport van 10 November 2013,dit was gister,n puik artikel geskryf oor die proporsionele stelsel. Hy het mooi uiteengesit hoe dit werk. Dis die moeite werd om dit te lees.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s