Teologie vir die twyfelaar (8): Hoe jy glo is veel meer belangrik as wat jy glo – die voorbeeld van president Paul Kruger

In ’n vorige nommer in hierdie reeks het ek reeds daarop gewys dat ek glo dat alle mense is iets móét glo. Die geloof in iets is maar deel van wie ons is. Ons kan nie daarsonder nie. Party mense glo in hulle loopbane, ander in ‘demokrasie’, ander in Jesus, ander in hulle huwelike of families. Ons almal moet maar in iets glo, anders sal ons maar sukkel in die lewe. Maar dit is uiteindelik hóé ons glo, eerder as wát ons glo, wat die verskil maak.

In die tradisionele kerk is daar geleer jy moet op ’n bepaalde manier glo. Jy móét glo in die Vader, die Seun en die Heilige Gees, en dat Jesus vir jou sonde gesterf het – die sonde wat, danksy Augistinus se antieke denke, van Adam af oorgedra is in die semen van alle mans. Ja, elke man se semen bevat daardie vloek van die tuin van Eden en ons is dus geneties gedoem. So word mense geleer. Maar nou ja, baie van ons glo dit net nie meer nie. Ons glo dan ook nie meer Adam was die eerste mens nie, so hoe moet ons hierdie dinge van semen glo?

Nou sit ek hier met ’n kopie van die boek “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – Die kanker van evolusie en liberalisme” wat ek spesiaal vir my van Pretoria bestel het. Hierdie boek was die produk van ’n destydse drukgroep in die NG kerk, maar dit spreek vandag, 3 jaar later, steeds van baie van wat in die kerke aangaan. Die naam van die boek sê alreeds vir ons baie. Dit noem mense wat anders dink ’n ‘kanker’. Ja, en so ontstaan die vraag, is hierdie haat teenoor ‘andersdenkendes’ nie die EINTLIKE kanker in ons gemeenskappe nie? Hoe kan mense van die kerk sê dat ’n medemens net ’n stuk ‘kanker’ is?

Die boek begin met ’n woordelys en ek wil graag hier verwys na die skrywers se definisie van die sogenaamde ‘ontluikende kerk’:

Ontluikende Kerk: In Engels is dit die ‘Emerging Church’. Dit het postmodernisme as teologiese aanslag. Dit is ’n beweging of ’n stroming eerder as ’n gestruktureerde organisasie of kerkverband. Dit is moeilik om te bepaal wat ontluikendes presies voorstaan, want volgens hulle eie erkenning is daar baie verskillende strominge in hul geledere. Een van hul kritieke op die gereformeerde kerke is juis die sekerhede soos geformuleer in die belydenisskrifte. Die probleem in Suid-Afrika is dat heelwat ontluikendes van binne die gereformeerde kerke hul gedagtes in die gereformeerde kerke probeer indra.”*

Die boodskap hier is dat hierdie mense ’n “probleem” is. Hulle moet nie geduld word nie. Daar moet op hulle toegesak word soos op ’n kanker en teen hulle baklei word. En dis nogal tragies dat hierdie dinge uit ’n kerk kom. Maar nou ja.

Soos ek die ontluikende kerk verstaan, is Jesus die spil waarom dit alles draai. Die ontluikende kerk sê basies dat die manier waarop ons lewe belangriker is as die details van ons geloof.

Dit laat my nogal dink aan die veelbesproke Evangelie van Thomas. In vers 8 van die Thomas evangelie sê Jesus:

“’n Mens is soos ’n wyse visser wat sy net in die see gooi en dit vol klein vissies uit die see trek. Tussen hulle vind hy ’n mooi groot vis en die wyse visser gooi al die kleintjies terug in die see en kies sonder aardeling die grote. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.”

Nou volgens doktor Piet Muller wat ’n volledige kommentaar op die Thomas evangelie geskryf het, is wat Jesus hier gesê het ’n waarskuwing aan die ‘spirituele soeker’ “om hom of haar nie op te hou met (rituele en dogmatiese) kleinighede en beuselagtighede van ’n bepaalde tradisie nie, maar om die groot waarhede daarvan ter harte te neem. Om deur godsdiens (die aanvaarding van sekere belydenisskrifte) te beweeg tot by spiritualiteit (eie ervaring van ’n verhouding met die Bron).”**

Nou wat het Staatspresident Paul Kruger met die alles uit te waai?

As jong man het Paul Kruger, soos baie van die Voortrekkers, dikwels hulle geloof in God gebruik om hulle deur die swaar tye te kry. So gesien was geloof ’n positiewe invloed op sy en sy gemeenskap se lewe. Maar teen die einde van sy lewe sien ons ’n ander Paul Kruger. Ons sien ’n Paul Kruger wat, wanneer daar krygsraadvergadering gehou word tydens die Boereoorlog, en die generaals kom met die feite na die tafel toe, dan kom Kruger daar aan met sy Bybelverse en sy spesifieke interptretasie van daardie verse en hy forseer dit op ander mense af.

Wat dus iets mooi in sy lewe was, ’n bron waaruit hy kon put om tot diens van sy gemeenskap te wees, sou uiteindelik ontaard in ’n ongesonde fiksasie wat hom gedryf het na onverdraagsaamheid.

Daarom glo ook ek dat hóé ons glo, veel veel meer belangriker is as wát ons glo.

* Die Trojaanse perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme, H. Klaasing en H. Mouton (reds.) p. vii
** ’n Gratis kopie van Muller se boek “Die Evangelie van Thomas met verklarende aantekeninge” kan afgelaai word, HIER. Die aanhaling wat ek gebruik kom daaruit.

Advertisements

2 comments

  1. Nee Barend,ek stem nie saam met jou nie,dit is belangrik wat jy glo en nie net hoe jy glo nie. En hoekom val jy Paul Kruger so aan?

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s