’n Ope brief aan myself insake Adriaan Basson se ope brief

Geagte meneer van der Merwe,

Ek is nie ’n reaksionêre Boer nie. Ek is nie eens ’n konserwatiewe Boer nie. Die Vryheidsfront plus irriteer my elke keer as hulle so meerwaardig met hulle Bybels onder die arm rondloop en daardie medelandsburgers van my kruisig net omdat hulle ’n ander seksualiteit handhaaf as wat hulle antieke boeke kwansuis voorskryf (maar wat o so lekker selektief gelees word). Ja, ek wil sover gaan om te sê dat daardie tipe Boere my dan ook dikwels nie as deel van die ‘Boerevolk’ beskou nie. En ag, ek is fine daarmee, dit is hulle saak.

As nie-reaksionere, nie-konserwatiewe Boer in die nuwe Suid-Afrika, het ek dan ook nie die boikot NASPERS veldtog gesteun nie. Ek was vir ’n aantal ure deel van hulle groep op Bakkiesblad, tot ek dit agtergekom het en myself verwyder het en ook die persoon wat my teen my sin bygevoeg het van my kontaklys verwyder het.

Die laaste aantal weke het ek egter, deels weens finansiële redes en deels vanweë tydsdruk, opgehou om die Rapport op Sondae aan te skaf. Ek kry toenemend al minder tyd vir blokraaie soos wat my stapel boeke wat gelees moet word asook my skryfwerk my tyd opeis. Ook die Rapport se wulpse niggie, die Sondag, is nie meer deel van my roetine nie, aangesien dié haar deure gesluit het. En dit is vir my hierdie Sondag sommer ekstra lekker om nie my kopie hierdie koerante meer te gaan koop nie.

Ek is een van die mense wat die feit betreur dat NASPERS se Afrikaanse/Nederlandse kapasiteite afgeskaal het. Elke kapasiteit van Afrikaans wat verlore gaan is volgens my ’n verlies vir ons kulturele identiteit en reusagtige erfenis. Ons skree graag Mayibuye hier in Afrika, maar dan gaan ons en smyt ons mees kosbaarste stuk kulturele erfenis, naamlik ons moedertale, in die spreekwoordelike vullisdrom. En dan wonder ons hoekom ons tog so sukkel om die mas op te kom.

Maar as nie-reaksionere, nie-konserwatiewe (en vir baie dus twyfelagtige) Boer in die nuwe Suid-Afrika, het ek Barend van der Merwe tog soms simpatie met die BOIKOT NASPERS beweging. Trouens, ek kan nie anders nie, as om my weersin uit te spreek in hoe daar onlangs oor die Boeremagsaak geskryf was nie.

Self is ek dankbaar dat daardie mense gevang en gevonnis is. Dit is jammer dat daar burgers van ons land is wat hulleself tot só ’n mate vervreem van die nuwe Suid-Afrika gevoel het, dat hulle hulself tot dade van terreur gewend het. Ek dink die vonnisse is regverdig.

Wat egter so jammer is van die regstelsel, is dat dit nooit net een mens is wat ly onder ’n vonnis nie. Die ou gesegde lui mos, ‘An injury to one is an injury to all’. En omdat hulle die ouers van kinders is, is daardie families se lewens ernstig ontwrig deur die gebeure. Dit is niks minder nie as ’n tragedie, maar dit is die prys wat ons nou moet betaal vir die belang van staatsveiligheid.

Maar was dit nou REGTIG nodig van ’n hoogs geskoolde koerantman om ’n ope brief te skryf aan een van die skuldiges se 10 jaar oue kind?

Ek het nie ’n graad in mediastudies of filosofie nie. Ek is maar historikus van opleiding. Maar ek voel erg ongemaklik met hierdie ‘ope brief’ wat daar vir hierdie kind geskryf is. Suid-Afrika is ’n land waar van die mees onmenslikste dinge aan kinders gedoen word. Net anderdag is ’n man gevonnis in die Anene Booysen saak. En die gemeenskap is nog steeds stukkend. Die vraag ontstaan nou, is dit moreel om onder hierdie omstandighede, blootstelling van hierdie aard aan hierdie kind te gee? Daar is tog tienduisend ander maniere waarop die skrywer sy punt kon maak . . .

Hierdie kind is alreeds ’n slagoffer, en nou het sy maar net ’n verdere slagoffer geword van die geldmag. Sy is gebruik om aandag te trek en mense seer te maak. In my oë is dit niks anders nie as omgekeerde terrorisme. Ja, dis asof die wil skrywer sê – jou pa is ’n terroris, en nou terroriseer ons jóú, al is jy nog maar ’n kind gaan ons jou naam rondstrooi vir ons eie politieke gewin . . .

Dit is totaal en al ongevraagd en onaanvaarbaar.

Hartlike groete,

Ek

Advertisements

7 comments

  1. Beslis was dit nie Adriaan Basson se bedoeling om die pa by te kom deur die kind nie, en ook nie om haar te terroriseer nie.
    Maar ek stem saam dis verkeerd om ‘n kind te betrek by politiek waar sy eerder beskerm kon gewees het. Dit was nou maar Adriaan se manier om sy Beeld loopbaan met sensasie te begin – ongeag die gevolge wat dit vir Cemoné kan inhou. Dis ‘n simptoom van die invloed van Britse poniekoerante in SA.

  2. O ja – kan jy my op voorbeelde wys waar die Vryheidsfront spreekwoordelik met Bybels onder die arms rondloop, en waar hulle anti- gay stellings maak. EK het dit nog nie gesien nie.

    • Dankie vir die lees en kommentaar alleman.

      Ja. Toe een van ons land se gay mans eenkeer ‘n groot titel gewen het, toe weier die Vryheidsfront plus en die ACDP om hom geluk te wens. Dit gaan altyd so met hulle. Hulle kyk neer op gay mense omdat hulle glo dat God deur die Bybel homoseksualiteit verbied.

      Dis ‘n baie ongesonde situasie aangesien partye soos die VF plus en die ACDP dikwels help om anti-gay sentiment te stimuleer en ons kan dit nie bekostig in hierdie land waar daar soveel geweld teen gay mense gepleeg word nie.

  3. Dit het in die parlement gebeur. Ek onthou dit nog want ek het daarna op die radio sit en luister.

    Elk geval. Dit spyt my as ek Basson se ‘brief’ vekeerd interpreteer. Ek’s bly jy sien dit anders, maar vir my lyk dit maar baaaaaie na – kom ons skop ‘n man wat le – kom ons speel die man en nie die bal nie – kom ons kyk waar ons die hardste kan slaan en kyk of ons sy kind lekker hard kan tackle . . .

  4. Die Bybel is God se Woord en Sy Woord is onfeilbaar.As God sê homoseksualiteit is verkeerd,dan is dit. Die ACDP en VF Plus is partye wat Christelike beginsels toepas en dis iets wat meer nodig is in Suid Afrika.Ek haal my hoed af vir mense wat sterk staan op Christelike beginsels.Jy is geregtig op jou opinie,maar ek stem regtig nie saam daarmee nie.

  5. Vir alleman, hier is ‘n skakel na ‘n blad wat nog behoue gebly het:

    http://m.news24.com/nuus24/Suid-Afrika/Nuus/VF-ACDP-se-nie-geluk-vir-Mnr-Gay-20110317

    Frik ek aanvaar ek en jy verskil. Die Bybel is vir my ‘n belangrike spirituele hulpmiddel maar dit is nie vir my die alfa en die omega oor hoe ek my lewe moet lewe nie.

    Die skrywers daarvan het verskillend gedink en gevoel oor sake, net soos wat moderne mense ook nie almal dieselfde dink nie.

    Is dit nie wonderlik dat die antieke mense, net soos die moderne mense, nie almal eenders gedink en gevoel het nie? Vir my daar baie berusting in hierdie feit. Die Bybel leer my dat ons nie almal soos worsies presies dieselfde hoef te lyk nie.

    Vrede vir jou.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s