Teologie vir die twyfelaar (7): God enkelvoudig in Engels en meervoudig in Afrikaans?

Ek wil vandag weer krap op ’n plek waar dit vreeeeeeslik jeuk. Ek is ’n spirituele mens. Ek voel soms daar is iets groter as ek daarbuite aan die werk. Ek voel my eens met die baie bekende Afrikaanse skrywer Maria Elizabeth Rothman (M.E.R.) waar sy in haar outobiografie (My beskeie deel, Tafelberg, 1972) geskryf het dat:

“Jesus het ons geleer hoe om te leef en sy leiding is die hoogste wat daar vir ons bestaan. Dit glo ek heelhartig. Sy opsomming: om God bo alles lief te hê, en om die ewemens se belange net so in ag te neem as jou eie, is vir my bevredigend in alle opsigte. Wie, wat en waar die God is wat ek bo alles moet liefhê, begryp ek nie; maar die tweede deel van die gebod (wat ek hoe gebrekkig ook probeer gehoorsaam het) werp vir my genoeg lig op die eerste.” (p. 288)

As kinders is ons baie dinge geleer. Ons is geleer dat toe daar in Genesis geskryf was dat “die Gees van God het oor die waters gesweef”, het die skrywer van daardie betrokke boek net een ding bedoel, en dit is dat daar iets soos ’n “Triniteit” is. ’n “God-drie-enig”. Die woord ‘Gees’ verskyn dan ook natuurlik met ’n hoofletter in die Afrikaanse weergawe van daardie boek, die 1983 vertaling. Dit is nou ongeag die feit dat die Hebreeuse taal nie die gebruik van HOOFLETTERS inkorporeer nie. Die vertalers het dus sommer self besluit dat daardie woord in Afrikaans ’n hoofletter moet kry.

Maar dit gaan verder. Daar is vele mense, onder andere natuurlik in die Judaïsme self, wat ’n heel ander eksegese van daardie teks het. Hulle sê dat die woord wat in die Hebreeus verskyn en wat ons vertaal het met ‘Gees’ verwys eintlik na niks anders as die ‘krag’ van God nie. Dit was nooit bedoel om te verwys na ’n onafhanklike individu wat deel vorm van ’n ‘Drie-eenheid’ nie. En, sê hulle, die leer van die ‘Drie-eenheid’ sou totaal vreemd gewees het vir die skrywers van die Tora.

En so het dit dan ook gekom, dat, in Afrikaans, vertaal ons die naam van God in meervoud. Ons sê dat God is die ‘Here’. Meer as een dus. Is dit ook so in Nederlands? Ek vermoed so, maar ek moet dit tog eendag gaan bevestig. Kyk mens dus in ’n Engelse Bybel, dan het jy net één God. Net één God soos wat die shema vir ons sê: ‘Hear, o Israel, the Lord our God is one’ (Deuteronomy 6:4).

Maar die verskil in hierdie tekste is nie bloot maar ’n stukkie morfologie nie. Die Afrikaanse Bybel gaan verder. Waar die shema in die Engelse Bybels sê dat God “een” is, sê die Afrikaanse Bybel iets totaal anders. In plaas daarvan dat die 1983 Afrikaanse Bybel sê dat God “een” is, soos die Engelse Bybel, sê ons Afrikaanse Bybel dat God die “enigste” God is.

“Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.” (Deuteronomium 6:4)

Nou is dit seker ook ’n mooi gedagte om te sê dat God die enigste God is, en ek is seker dat die skrywers van die shema sou gelyk gee met so stelling. Maar dis nie wat hulle eintlik bedoel het toe hulle die shema geformuleer het nie. Húlle wou daarmee sê dat hulle God net een van substansie was. Want dit is wat hulle geglo het. God is één. Hierdie teks is egter later sowel morfologies as semanties aangepas om te akkordeer met die leer van die drie-eenheid.

Die teoloog Willie Jonker het in 1997, as ek reg onthou, ’n boek gepubliseer met die naam ‘Selfs die kerk kan verander’. Dit laat my dink aan hierdie dinge van die shema. En ons kan maar saampraat met Willie Jonker. Daar is geen vastigheid aan ons bestaan nie. Ja – selfs die Bybel kan verander.

Advertisements

4 comments

  1. Nee,die Bybel kan nie verander nie,dis die vaste woord van God. En ja,daar is n drie-enige-God,Vader,Seun en Heilige Gees. Kyk maar mooi in die Bybel,alles is daar.

    • Die Bybel moet en kan nie verander nie – maar dit beteken nie die kerk kan nie verander nie. Die Bybel is die woord van God, die kerk slegs die mens se interpretasie van die Boek… En dit maak artikel 28/29 uit die Nederlandse Geloofsbelydenis ongelukkig baie moeilike artikels.

      Sterker: die kerk moet verander – want dalk verstaan ons Sy woord steeds weer ‘n bietjie beter. Ontwikkeling binne die kerk beteken nie dat die kerk slegs verder van Sy woord afdryf nie, dit kan ook beteken dat die kerk kan nader aan sy woord kom, nè?

  2. Hmmmm. Interessant. Oor die meervoud. Ons in Nederland gebruik HEERE, HERE of HEER. Gewoonlik (al word dit al minder) almal in hoofletters. Ek weet nie of dit meervoud is nie. Ek dink egter nie so nie. Dit lyk eerder ‘n argaïsme. In die vroë Nederlands was ‘here’ die enkelvoud van ‘heren’. Die verwarring word geskep omdat Afrikaans altyd (!) die laaste ‘n’ uit Nederlands weglaat. Dit beteken dat die ou Nederlandse enkelvoud plotseling gelyk geword het aan die Afrikaanse meervoud…

    Maar ek is nie seker nie…

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s