As volksidentiteit van buite af bedreig word…

Klik hier vir AfriForum Jeug se video
Charl Oberholzer verklaar die ANC se transformasiebeleid. Klik hier vir AfrForum Jeug se video.

AfriForum Jeug het op die Universiteit Stellenbosch ‘n nuwe veldtog teen transformasie afgeskop. In ‘n YouTube-video het hulle op die kampus mense gevra of hulle ‘n voorstander van transformasie is. Die makers vra dit eers, dan gee hulle uitleg oor die ANC se transformasie-doele en vervolgens vra hulle weer. Hoewel ek die punt wat AfriForum Jeug probeer maak ondersteun, het ek twee opmerkings by die video:

  • Nie 90, maar 80% van die Suid-Afrikaanse bevolking is swart? Dui Solidariteit se DKD-hofsaak nie daarop dat bruin mense ook nie altyd sommer bevoordeel word nie?
  • Die sfeer van manipulasie… 😦

Ondanks die feit dat AfriForum Jeug probeer om die inligtingoordrag in die video transparant te maak, het die video ‘n sfeer van manipulasie, wat moontlik veroorsaak word deur die feit dat almal wat eers met transformasie ingestem het, na die inligtingoordrag skielik teen transformasie gekant is. Hierdie effek word moontlik versterk deur die feit dat die grootste deel van die Afrikaanse jeug – in vergelyking met hul Europese eweknieë – maar bitter min geïnteresseer is in politiek. Die ‘ja-en-nees’ in die video klink ongelukkig maar apaties. Die meeste Afrikaanse studente asem ‘n gebrek aan belangstelling in die politiek uit, wat AfriForum Jeug se saak ongelukkig nie sterker maak nie. Dit geld nie net vir die (Afrikaanse) studente wat in die video gebruik word nie, maar volgens my eie ervaringe geld dit eintlik vir baie Afrikaanssprekendes, van alle ouderdomsgroepe.

Transformasie is egter ook moeilik om teen te protesteer. Daar is bittermin mense wat tans regstreeks deur transformasie geraak word (dws min mense verloor hul werk omdat hulle vervang word deur ‘n eweknie met ‘n ander velkleur). Die gevolge van transformasie is dikwels indirek: dienste is nie meer in jou taal beskikbaar nie en nuwe aansoeke vir bepaalde ampte van bepaalde bevolkingsgroepe word geweier. Dit tref die mense nie direk negatief nie, maar indirek negatief: Mense se groeikanse word ontneem. Ja, hierdie indirekte benadeling is – volgens westerse standaarde – nog steeds diskriminasie. Een van die grootste nadele van transformasie is dat dit – wanneer dit direk mense raak – slegs individue raak. Dit maak grootskaalse verset daarteen baie moeilik.

Anders is dit as grote groepe mense direk geraak word en ‘n bestaande situasie word verander, dan weier die mense dikwels. Verset teen hierdie tipe veranderings is baie makliker, omdat ‘n groot groep direk word geraak. By die Pretoria-naamsverandering is dit die geval: ‘n groot groep mense word gedwing om ‘n ander naam te gebruik, terwyl hulle dit nie wil nie. Die gevolg – geloods deur AfriForum – was duidelik: 160 000 mense het per sms laat weet dat hulle teen ‘n naamsverandering van Pretoria na Tshwane is.

Politieke partye in die Eerste Kamer (Foto: Wikimedia Commons)

‘n Ander voorbeeld het nou die laaste paar dae in Nederland gebeur. Volksverdeeldheid is verseker een van die eieskappe wat Afrikaners van Hollanders geërf het. Nederland – wat ‘n volksmeerderheid van 80% het, het 12 politieke partye in die Eerste Kamer (senaat) van die State-Generaal, terwyl die grootste party net 16 van die 75 setels gekry het. In Holland is tradisies elke dag weer onder vuur van progressiewe groepe. Hierdie groepe wil dat die Nederlandse kultuur verder ‘ontwikkel’ word. Nou moet ek sê dit het die Nederlandse kultuur baie ryk gemaak. Maar dit het dikwels ten koste gegaan van tradisies en geskiedkundige persone. VOC, slawehandel, die aanset tot apartheid ens. word almal as swart bladsye uit die Nederlandse geskiedenis beskou. En tereg.

Maar dit wil nie sê Nederlanders het geen gevoel vir historiese waarde nie. Die Nederlandse stede behoort tot die oudste van Europa, terwyl “mooi stede” soos Parys, Berlyn, Madrid en Londen in die negentiende eeu grootliks hernu is. Maar nou die is die Sinterklaasfees onderwerp in ‘n (inter)nasionale debat. Dit is ‘n kinderfees wat rond 5 Desember (Pakjesavond/Presentjiesaand) gevier word. Volgens ‘n adviseur van die Verenigde Nasies se Menseregteraad is dit ‘n oorblyfsel van slawerny, want Sinterklaas (Santa Claus is die Yankee se kopie) het ‘n swart helper: Zwarte Piet. Zwarte Piet sou ‘n karikatuur maak van swart mense en daarmee swart mense diskrimineer.

Die adviseur/ondersoeker van die Menseregteraad, Verene Shepherd, is ‘n professor aan die Universiteit van Wes-Indië in Jamaika. Pynlik is dat dié navorser/adviseur hierdie uitspraak gedoen het, nog vóórdat sy haar ondersoek begin het.

Sinterklaas en sy piete ‘kom aan in Nederland’ (Foto: Wikimedia Commons)

Nog pynliker is dat mevrou Shepherd ook betrokke is in die kommissie wat tans navorsing doen na die herstelbetalings van die koloniale magte aan hul voormalige kolonies weens slawerny. Om die slawernydebat te koppel aan die belangrikste Nederlandstalige tradisie, was ‘n groot fout. Zwarte Piet is dalk ‘n erfenis uit die slawerny, maar Zwarte Piet is lankal nie meer Sinterklaas se slaaf nie. Zwarte Piet is ‘n uiters intelligente, vrolike helper en ondersteuner van Sinterklaas. Hy word geag om ‘n ‘bedryf’ te kan bestuur wat op 5 Desember miljoene presentjies oor die land te versprei. Zwarte Piet gee die Sinterklaasfees sy feesvreugde. Dit het Nederlanders en Vlaminge net boser gemaak.

Nederlanders en Vlaminge het woedend gereageer. Binne 48 uur is die Facebookblad van Pietitie (woordspeling op die woord petisie) meer as 2 miljoen keer ‘gelike’. Die bybehorende petisie is meer as 300 000 keer geteken. Koerante het die aanval op die navorser geopen. Dit was hoofnuus in Nederland en Vlaandere se belangrikste televisieprogramme.

Dit lyk of mense slegs grootskaalse verset kan organiseer as sekere besluite mense direk raak. Omdat ek die ANC se politiek nie vertrou nie, dink ek die ANC speel die speletjie weer eens baie handig. Die meeste van sy besluite raak slegs direk individue – nie groepe. Dus as enige opposisie iewers êrens ‘n streep wil trek, gaan dit baie moeilik wees om genoeg verset te organiseer. Buitendien sal groot verset teen ‘n klein ANC-stap buite verhouding wees. Dit sal die verset weer ineffektief maak…

So word die ANC gekeer om Pretoria se naam te verander, maar kan daar nouliks effektiewe opposisie teen die beleid van transformasie gevoer word nie.

En so sal daar môre weer ‘n dag wees. Tot die einde der tye. Of die dag dat die ANC sy mag verloor.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s