Teologie vir die Twyfelaar 6: Geen antwoord in die ateïsme

In ’n vorige nommer in hierdie reeks, het ek my redes uiteengesit oor hoe ek die geloof van my jeug verloor het. Wat is ’n Christen?, het ek gevra. Ek weet nie meer nie. Al wat ek weet is ek is waarskynlik nie een nie want elke groepering het sy eie minimum norme van wat die term behels. Ek het intussen weer ’n ander sekte begin bestudeer, die Mormone (The Church of Jesus Christ of the Latter day Saints). Hulle is skynbaar ’n sogenaamde ‘nie-trinitêre’ Christelike groepering en is, soos dit nou mos maar met die dinge gaan, vas oortuig dat húlle die mense is wat reg is en dat al die ander verkeerd is.

Ek is ’n spirituele mens, maar nie godsdienstig meer nie. Ek is spiritueel binne die Christelike tradisie. Die vraag ontstaan egter, hoekom nie ateïsme nie? Ek is ’n mens met genoeg van ’n weersin in gelowe om perfek as ’n ateïs te funksioneer!

Ek moet begin deur te sê dat met die woord ‘ateïsme’, net soos met ‘apartheid’, ‘Jesus’ ens. ens., verstaan verskillende mense verskillende dinge. As ateïs vir jou bloot die betekenis dra van ‘ongelowig’, dan is ek ook dikwels ’n ‘ateïs’. En dan is ek party dae ’n groter ateïs as ander dae. Want party dae glo ek eenvoudig meer en ander dae amper niks. Maar ateïsme beteken meer as net blote ongeloof. Die voorvoegsel ‘a’ kom tog uit die een of ander antieke taal (Grieks?). Dit dui op blote afwesigheid maar dikwels kom dit neer op ’n weersin in ’n bepaalde ding. Nie altyd nie, maar dikwels. Byvoorbeeld – ‘a-polities’ kan blote neutraliteit ten opsigte van politiek wees. Maar dink aan apaties. Apatie is meer as net die afwesigheid. Dit neig na weersin toe. Dis in die lyn van ekgeenie’nhelomnieenasjylangergaanaanhougaanekissuesmetjoubeginkry.

Hoekom nie ateïs? Ons almal glo aan iets. Ons glo miskien nie altyd BEWUSTELIK nie, maar ons glo tog. As ek tog aan niks geglo het nie, hoe sou ek dan gelewe het? Hoekom dan hierdie blogplasing skryf? Hoekom sal ek dan more opstaan en weer iets gaan probeer doen met die dag? Party mense glo aan hulle huwelike, ander aan hulle sportspanne, vir ander is dit hulle loopbane of kwalifikasies, en party glo aan ‘Jesus’. Lank voor Jesus het hulle aan ander gode geglo. Party glo dat God onkenbaar is (soos ek). Daar is tot ’n naam vir sulke mense glo, hulle is ‘agnosties’, maar ja, selfs al glo jy dat God onkenbaar is, dan glo jy ook maar. Die punt is, ons kan nie lewe sonder geloof nie.

As ek ’n blik bullybeef by die winkel koop, dan doen ek dit omdat ek glo daar is wel bullybeef in daardie verseëlde blikkie. Ek kan nie binne die blik sien as ek dit koop nie, ek glo dit maar net. Want dis tog wat buite-op die blikkie staan . . . En die kassiere aanvaar die transaksie omdat sy glo dat die stukkie papier wat ek oorhandig iets werd is . . .

Wat glo ateïste soos die Dawkinse en Claassense van die wêreld? Hulle glo dat godsdiens iets slegs is wat uitgeroei moet word. Dis húlle geloof.

Maar ek glo anders. Ek weet ek glo ook in baie dinge wat vir ander mense dalk absurd voorkom. Ons almal, soos ek reeds uiteengesit het, móét aan iets glo –anders sal ons opgee met hierdie lewe. So met my gelofies en dingetjies wat my aan die gang hou en hoop gee, voel ek net, wie is ek om ’n ander te oordeel? Laat hulle glo wat hulle wil!

My groot probleem begin wanneer mense hulle gelowe op andere wil afdwing. Nou DIS nou vir jou een van die grootste peste in ons bestaan. En in hierdie verband is die ateïs nie ’n smetseltjie minder skuldig as die Christen/Islamiet ens. ens. nie. Hulle is almal dieselfde.

Vat nou hierdie ding van Casper de Vries. Maggies ek is nou al so gatvol vir Christene en Casper de Vries wat mekaar so bestook in die media. Ek meen dis soms goed dat sulke tipe debatte in die media gevoer word. Dit help ons almal om te besef dat nie alle mense dieselfde dink nie. Maar dit is nou al hoeveel jare lank dieselle ou storie met Casper en sy Christen vyande? Elke keer as jy weer sien dan is dit ’n ge oor en weer slegsêery. Nee magtie man, mens baklei mos tog en dan baklei jy klaar en dan is dit move on allready!

Richard Dawkins se magnus opus was getiteld: The God Delussion. Ek wil graag my repliek op daardie boek in twee sinne saamvat – Ek gun andere hulle delusies, soos wat ek van andere verwag om my myne te gun. Ek gee nie om as jy myne af en toe toets nie en verwag van jou om my toe te laat om jóúne ook nou en dan te toets, maar aan die einde van die dag gee en verwag ek op die langduur nét een ding –verdaagsaamheid.

En dáárop praat ek sommer in tale (Hebreeus) sê ek – amen!

Advertisements

14 comments

  1. Die probleem by Christene is natuurlik dat hulle nie tot verdraagsaamheid geroep is nie maar tot liefde. Liefde is baie meer geweldadig en persoonlik. Verdraagsaamheid is impotent.

    • Is dit hoekom hulle dikwels so onversraagsaam is? Omdat hulle ‘liefhet’?

      Sover ek weet was die 10 gebooie en die wet nie op mense buite die ‘verbond’ (soos slawe ens. ens.) van toepassing nie.

      • Daar is so baie Christene dis moeilik om van “hulle” te praat. Sekerlik is daar ook maar Christene wat onverdraagsaam is bloot omdat hulle slegte maniere het.

            • Lyk interessant. Ek verstaan nie mooi nie is die boek in Duits? My Duits is baie swak. Dit vat my baie tyd om Duits te lees. Ek het darem ‘n worterbuch en kry dit darem met groot moeite reg.

              Ek is gemaklik met die term “hulle” Andre. Die kerke en hulle predikers en proseliete vertel mos al te graag hoe almal behalwe hulleself ‘hel’ toe gaan. Ek het net weer Woensdag op die radio geluister, toe se die dominee daar dat alle Islamiete eintlik Sataniste is en dat hulle almal reguit op pad hel toe is en dat God gaan hulle grill soos ‘n lekker varktjoppie. Hy’t ook gese dat hulle van Ismael afstam en dat God hulle al in Genesis gewaarborg het dat hulle geen liefde van God af moet verwag nie.

              Het jy al ‘n studie gemaak van die kruistogte? Hoekom het die pous vir daardie mense vrypas gegee om te gaan moor en vernietig en plunder? Is die pous nie God se verteenwoordiger op aarde gewees op daardie stadium nie? Dit was mos nog voor die Gereformeerde kerke gekom het wat vandag glo dat HULLE eintlik die enigste ‘regte Christene’ op aarde is!

              • Dis ‘n Duitse boek ja, ek het ‘n stukkie daar in Afrikaans vertaal. Ek het gedink jy sal dalk daarvan hou.

                Dis seker makliker om van “hulle” te praat as om individue te doen te hê.
                Individue is so onvoorspelbaar en glo gereeld ander goed as wat ‘n mens “hulle” toelaat. “Hulle” is maklik, “hulle” pas mooi in die boks en jy hoef net die etiket te lees wat jy daarop geplak het, jy hoef nooit weer met ‘n individue te doen te hê nie. Eenvoud is die vreugde van die lewe, neem ek aan.

                • Ek het great Christen vriende. Ek is sooooo dankbaar dat hulle selektief na hulle dominees luister. Daar is wel Christene wat nie hulle vreemde gelowe op andere af forseer nie, maar sulke tipe Christene is in die teorie dan ook mos swakker tipe Christene volgens die kerk want ‘evangeliesasie’ is mos ‘n sentrale deel van hulle godsdiens. “Evangeliesasie” beteken mos jy gaan uit en jy gaan red die heidene en barbare met jou superieure kennis en insigte en kultuur. Soos wat die sendelinge mos altoos gedoen het.

                  Dis ook hoekom die kerke hier nog frons vir die mense van Afrika want baie van die mense hier is mos nog nie heeltemal “with it” nie en meng ‘korrekte Christenskap’ met hulle tradisionele Afrika geloof van ‘voorvaderaanbidding’. Met ander woorde ‘hulle’ is nog nie heeltemal soos ‘ons’ nie en ‘hulle’ is dus foutief.

                  Maar ja, gelukkig is daar mense wat meer oopkop is – Prys die Skepper daarvoor!

                  • Ek dink ook nie die dominees is almal die selfde nie. “Hulle” is ook individue, hulle is ook mense. Ek vind jou skrywe nogal menseveragtend. Niemand word toegelaat om ‘n persoon te wees nie almal word klassifiseer.

                    • Ken jy die belydenisskrifte? Gaan lees hulle maar. Hulle se Adam was ‘n regte mens en die Bybel is letterlik waar. Satan. Die hel. Als moet geglo word soos wat mense in die antieke tyd geglo het.

                      Meeste hoofstroomkerke onderskryf natuurlik die belydenisskrifte. Die kerke wat dit nie onderskryf nie word dan ook NATUURLIK! (hoe dan nou bleddiewil anders?) nie as die ‘regte’ Christene beskou nie.

                      Ontken jy hierdie dinge Andre? Ontken jy dat die kerk, dat ‘hulle’, met die konsep van die hel die afgelope 2000 jaar lank miljoene mense spiritueel gevange gehou het?

                    • Maar hoekom mag mense nie bely wat hulle glo nie? Dis tog almal se vrye reg om te glo wat hulle wil? Dit doen almal tog al die jare. Niks MOET geglo word nie, vat jouself byvoorbeeld, jy vaar hier uit oor mense wat anders glo as jy, dit lyk tog asof jy gevange gehou word deur andere se idees want jy skryf daaroor.

                      Ek ontken heeltemal dat “hulle” miljoene mense spiritueel gevange gehou het. Ek ontken selfs dat daar ‘n “hulle” bestaan. Die miljoene mense is die “hulle”. Natuurlik het baie mense al hul opinies met my gedeel en ook van hel en hemel gepraat maar niemand kon my gevange hou nie. Dit sou my eie skuld wees as ‘n ander my gevange sou kon neem, mense word self slawe en gevangene van dit wat hulle wil. Dis my opinie. Wees kwaad vir jouself, daar is geen “hulle” nie. Die “hulle” is jy.

  2. Daar is wel uitsonderings op die reel. Maar dit is so skaars soos hoendertande en hier is hoekom. Volgens die kerke was een van die dinge wat Jesus glo in sy leeftyd gese het dat, wie nie vir my is nie, is teen my. Met ander woorde, dis maar nes die Judaisme. Daar is mense buite die verbond en daar is mense binne die verbond. Daar word tog gepraat van die ‘nuwe testament’, wat maar net ‘n ander manier is om te se die nuwe ‘verbond’. En die verbond se dat enige mens wat dit waag om anders te dink gaan gegrill word. Daar word vir hulle ‘n warm plek voorberei.

    So ja, ek is gemaklik met die term ‘hulle’.

    Vrede vir jou.

  3. Ek stem glad nie saam met die stelling dat ateïste net so skuldig soos gelowiges is aan die afdwing van hulle geloof nie. Ateïste vaar nie hospitale in en probeer mense op die punt van afsterwe na ons kant toe draai nie. Ateïsme is nie ‘n geloof nie. As ek vir jou sê dat ek nie in kersvader of feëtjies glo nie, maak dit nie van my akersvaderisme of afeëtjieïsme ‘n geloof nie. As ek vir jou sê ek is ‘n ateïs, vertel dit vir jou niks van my waardes of opinies nie, bloot dat ek nie in ‘n god glo nie.
    Ateïste soos Richard Dawkins en Christopher Hitchens glo dat ons geloof moet afskaf as gevolg van die gruwels wat dit die mensdom aangedoen het. Ons glo dat die wêreld ‘n beter plek sonder geloof sou wees. Terroriste is meer gereeld as nie fundementaliste en gelowige ekstremiste. Jy kan my nou ook vertel dat jy ook vriende het van ander gelowe wat nie hul geloof op so ‘n geweldadige manier uitleef nie, maar jy moet ook in gedagte hou dat mense van hierdie geloof almal dieselfde boek lees (of ten minste variasies daarvan, as ons praat van die drie groot monoteïsmes).
    Gelowiges indoktrineer mense met ‘goddelike’ kennis van Bronstydperkherders wat blykbaar deur god geïnspireer was om sy heilige woord neer te skryf. Ek dink persoonlik dat die mens god in sy beeld gemaak het en nie andersom nie. Geen van hierdie oorspronklike manuskripte bestaan meer nie. Alles is tweede- of derdehandse oordrag (buiten die feit dat al vier die evangelies se skrywers ongeletterd was en nie eers op die herkoms van Jesus kan saamstem nie). Dit is hier waar jou analogie van geloof in bullybeef platval. Ons glo nie net daar is iets in die blik nie, ons wéét dit. Ons kan sê ons weet dit want dit wat op die blik staan is nie betwyfelbaar nie. Ons kan presies sien waar dit gemaak is, wie dit gemaak het, waarvan dit gemaak is en ons kan selfs die mense kontak wat dit gemaak het.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s