’n Besinning oor die donker wêreld van publikasie

Plaatje Nuus24 met Opinieplatform en MaroelaMedia

Ek het die afgelope tyd van die mees interessantste debatte en dokumentêre en artikels gesien rondom publikasie, soveel so dat die onderwerp by my bly en bly spook. Tot so mate dat ek besluit het om my tot die Afrikaanse Opinieplatform te wend, sommer met klompie losse gedagtes en opmerkings. Miskien lei dit tot bietjie debat, miskien tot niks. Maar dan het ek ten minste bietjie my gedagtes georden.

Ek het die naweek ’n dokumenter gesien op die nuuskanaal Al Jazeera oor die koerantwese in Engeland, waar twee van die grootste koerante in ’n bekgeveg betrokke is. Ek dink dit is die Guardian en die Sun as my geheue my nie in die steek laat nie. Die bekgeveg het gehandel oor die een of ander saak oor die Britise politikus Miliband, en die een persoon maak toe die opmerking dat waar die Guardian histories gekenmerk was aan hulle aktivisme vir die reg tot ‘vryheid van spraak’, is hulle nou in die posisie waar juis hulle pleit vir die sensor van andere.

Dit is met ander woorde lekker om jou regte uit te oefen, om te sê wat jy dink en voel, tot die oomblik wat die ‘regte’ van andere begin om jóú in een of ander saak in ’n slegte lig te stel. Die resultaat is heel dikwels dan niks anders nie as ’n tandlose stroom van publikasies. Niemand wil niemand behoorlik aanvat nie. Want dan sal jy gesensor word. En jy sal gejag word en stilgemaak word.

Ons sit natuurlik met dieselfde ding in Suid-Afrika. In ons koerante. In ons akademiese publikasies. Dis oral.

So sien ek toe ’n ander saak wat hierby aansluit op die Amerikaanse Cable News Network, waar dit gegaan het oor politieke kommentators. Die program het gehandel oor die gebrek aan variasie op die panele van 24 uur nuuskanale. Dis so groot ‘hassle’ vir die gemiddelde mens om ’n ateljee te besoek, dat baie regte kenners nooit daarby uitkom nie. Die samestellers van die nuusprogramme is dan ook dikwels lui. Hulle doen nie ekstra moeite om hulle programme bietjie geur te gee nie. En so kom dieselfde gesigte oor en oor en oor op die TV. Dieselfde ‘kenner’ word dan ingespan van enige iets van internasionale terrorisme tot omgewingsberade en ekonomiese sake.

Leon de Kock se stuk in die By, ‘Die tragedie van tandelose resensies’, sluit ook mooi by die hele saak aan. Baie navorsers in Suid-Afrika en ook wereldwyd is te bang om ernstige sake na te vors. Daar is baie op die spel. Geld. Posisies. Mag. Invloed. Jy wíl nie op die verkeerde tone trap nie. Want dit kan letterlik lei tot jou ondergang.

Dit is juis vir hierdie rede dat ek dankbaar is vir die Afrikaanse Opinieplatform. Sonder hierdie plek sou ek nie meer opiniestukke die kuberruim ingestuur het nie en my tyd eerder gebruik het vir formele skryfwerk, soos wat ek dikwels doen. Daar was natuurlik ’n reuse veldtog teen NASPERS in Suid-Afrika die afgelope jaar of wat. NASPERS het reeds begin om hulle Afrikaanse kapasiteit in te kort met die beëindiging van Nuus24. NASPERS se groot kritici het natuurlik die standpunt gehuldig dat NASPERS ’n bepaalde politieke agenda het. Male sonder tal was daar gepleit dat ontleders soos Tim du Plessis, Max du Preez ens. ens. ens. tog net vir eens en vir altyd sal ophou om die ANC met die Nasionale Party van ouds te vergelyk.

Vandag is ons virtueel veel armer in Afrikaans sonder Nuus24. Ander mediagroepe vul tot ’n mate wel die gaping. Mens dink veral aan Maroela Media. Vir feitlike verslaggewing is Maroela Media nie ver agter NASPERS nie, maar dis wanneer dit by die vertolking van nuusgebeure kom dat Maroela Media, na my mening maar redelik, om Leon de Kock se woord te gebruik, ‘tandloos’ is. Om die waarheid te sê die ideologiese onderbou het volgens my ook al goed deurgeskemer hier en daar.

Ek dink nie NASPERS se skrywers was en is juis gedienstig aan enige politieke orde nie. Die feit dat beide die regerende party sowél as jou sogenaamde ‘regse’ groeperinge omgekrap raak oor wat in hulle koerante staan, is vir my ’n goeie teken. Daar is altyd diegene wat die verlede en so ook die hede selektief wil lees, en die media is gewoonlik sulke mense se grootste vyand.

Die publikasiebedryf, of dit nou die media is of die boekebedryf, is altyd in ’n tipe krisis soos dit voortdurend herskik en herontwerp. Die ly aan ’n algemene gebrek aan variasie, of jy nou in ’n boekwinkel instap of jou gunsteling 24-uur nuuskanaal aanskakel of ’n akademiese joernaal lees. Die insetsels is altyd goed gemodereer na gelang van die bepaalde politieke filosofie van wie dit beheer, en na gelang van wie daardie persoon se vriende en vyande is.

Ek hoop dat die Afrikaanse Opinieplatform ’n tipe duik kan maak aan hierdie worsmasjien kultuur van publikasie en media waarin ons vasgevang sit.

Advertisements

One comment

  1. Ek het hierdie gister so’n bietjie gelees, maar ek het nie goed geweet op wat te skryf nie. Maar ongelukkig moet ek sê: jy het die waarheid geskryf. Dit draai om geld, mag, invloed ens. Ek skryf nou amper vir 3 jare blogs. Daarmee koerante bereik. Onderhoude met joernaliste daaroor gevoer. Maar dit was alles in Suid-Afrika. Toe ek eendag ‘n brief na ‘n plaaslike koerant in Nederland geskryf het, was dit anders. Die koerant was nog nie eers by my huis besorg nie, of die eerste mense het al gebel. Net my Van het onder die stuk gestaan (en daar is baie met dieselfde Van innie dorp), maar skielik het almal uitgevind – net via die telefoonboek – wie ek is, waar ek woon en wat my telefoonnommer is. En die kommentare was nie al te vriendelik nie. Dit terwyl ek destyds ‘n neutrale artikel geskryf het. Mense kon dit nie waardeer nie. Sommiges was woedend. Maar die tyd was in my voordeel. 2 weke later het ek verhuis, sommer net Bloem toe… 😉 En toe ek 6 maande later terug gekom het, het almal reeds van die storie vergeet…

    ‘n Mens moet nie op die verkeerde tone trap nie. Altans, nie sonder rede of met die verkeerde rede nie. As ‘n mens regtig glo hy is reg, en hy kan dit onderbou, is hy verseker geregtig om dit te sê. So werk mos die vryheid van spraak.

    Want as jy probeer enigiemand te probeer sensor, het die ou wat sensor mos ook probleme.

    Maar ja, jy is reg. Angs regeer. Want as jy enigiets sleg oor iemand sê, sonder dat jy kan onderbou en argumenteer hoekom jy dit sê, is dit laster. En dit is ook verbode.

    Ek dink dit is niks anders as ‘n spel: moenie op die verkeerde tone trap nie. Nie omdat jy bang is nie, maar omdat jy moontlik nie geregtig is, OMDAT JOU ARGUMENTE NIE STERK GENOEG IS NIE.

    Maar ek weet nie. Ek is te jonk. Dalk het ek te min lewenservaring om te sê ek kan hieroor ‘n oordeel ontwikkel.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s