Resensie: The reluctant parting – Julie Galambush

Die omslag van die boek 'The reluctant parting' deur Julie Galambush
Die omslag van die boek ‘The reluctant parting’ deur Julie Galambush

Na maande se gewag het ek uiteindelik Julie Galambush se boek in die hande gekry. Ons kry baie kragonderbrekings in Suid-Afrika dus is ek nog nie oortuig van e-boeke nie. Boonop vermoed ek dat rekenaarskerms sleg is vir my oë. Ek versamel nie boeke nie. Al het ek baie van die goed kan ek nie sê ek versamel dit nie. Ek weet die boek is ’n oeroue stuk tegnologie, maar ek verkies dit tans nog. Ek is te veel tegnologies gestremd nog. Miskien maak ook ek nog eendag die skuif.

Dit is altyd so verfrissend om te leer hoe ander mense dink. Veral as dit by sake van die geloof kom. En een ding wat ek al meer en meer besef, is dat mense meeste van die tyd nie ’n cooking clue het waar hulle gelowe se heilige boeke vandaan kom nie. Hulle aanvaar die bepaalde eksegese waaraan hulle gewoond geword het blindelings, want dis hoe dit gekom het met die generasies, en hoekom sal ek dan nou tog meer oor die saak wil uitvind en redeneer?

’n Ander saak is, ek ervaar dat mense veel eerder hulle heilige boeke (soos die Bybel, die Qur’an ens.) aanbid, as wat hulle vir God aanbid. Dis hoekom ons vandag in die 21ste eeu nog met die verskynsel sit dat daar mense is wat van jou verwag om in Bybels-kosmologiese terme oor die heelal te dink. Maar die Bybel is ’n boek geskryf deur mense. Hulle het nie teleskope gehad nie. Hulle het nie geweet wat ‘bo’ die aarde aangaan nie. Vandag weet ons daar is niks ‘bo’ die aarde nie. Daar is nie eens ’n plek soos ‘bo’ die aarde nie. Dit is alles ons optiese illusie. Daar is wel ‘buite’ die aarde, maar waar in die ruimte kry jy ‘bo’ en ‘onder’?

Maar Galambush se argumente is selfs (durf ek sê ?), gewigtiger, as die kosmologie. Die ‘Nuwe Testament’, skryf sy, is ’n boek wat deur Jode geskryf was. Dis in sy wese Joods. En dis ook om daardie rede dat dit teenstrydighede bevat. Die volle titel van haar boek is dan ook – The reluctant parting: How the New Testament’s Jewish Writers Created a Christian Book.

Galambush, wat op haar dag ’n Baptis dominee was, het haar geloof verruil vir die Judaïsme. Sy skryf in baie siniese terme oor die Nuwe Testament. The Reluctant Parting kan dan ook beskryf word as ’n ‘commentary’, op die Nuwe Testament, maar vanuit ’n Joodse perspektief. Dis ook hoe die boek sy ontstaan gehad het. Dit het begin as lesings wat Galambush aan haar studente gegee het, ’n lees van die Nuwe Testament vanuit die oogpunt van ’n ‘bekeerde’ Jood met ’n intieme kennis van die Christelike geloof, vanweë die feit dat sy self eers Christen was.

Die resultaat is waarlik ’n uiters belangrike boek. Ek wens ek het vroeër in my lewe van hierdie boek geweet. Op ’n uiters vernuftige wyse skets Galambush hoe Jesus se heel eerste volgelinge hulleself nie as Christelik gesien het nie, maar as Jode, ‘messiaanse Jode’ wat in Jesus die verwagte Messias gesien het. Sy wys dan ook op die veelvuldige interpretasies, die verskeidenheid dus, in die vroeë Jesus-beweging, en stof vir ons weer die redes af hoekom Martin Luther so erg ongemaklik was met die Hebreërs boek in die Nuwe Testament.

Julie Galambush se boek het my beslis verryk en verander. Ek lees baie boeke, en daar is min boeke wat vir my so mooi afsluit soos hierdie een. Alhoewel mens regdeur Galambush se boek ’n sinisme en selfs sarkasme kan lees, is dit tog asof die skrywer uiteindelik self ’n tipe sintese bereik. Van sinisme en sarkasme is daar baie in die werk. Op p. 143, byvoorbeeld, waar Galambush haar hoofstuk oor 2 Korintiërs begin, begin sy deur te sê dat: “When we last saw our hero, Paul was struggling valiantly with his wayward congregation at Corinth . . .). Galambush kritiseer telkens die Christelike interpretasie van die Nuwe Testament. Haar hoofargument is dat meeste van die skynbare anti-Joodse sentiment in verskeie van die geskrifte eintlik nooit teen die Judaisme spesifiek gemik was nie, maar eerder teen daardie lede van die Jesus-beweging wat nie wou aanvaar dat die onderhouding van die wet nie van toepassing op die ‘gentiles’ is nie.

Maar uiteindelik laat sy ons met hierdie pragtige reëltjies aan die einde van ’n uiters knap en fassinerende boek: “A new Jewish understanding of Christian scripture will not – and should not – undo the parting of Jew and Christian. But it seems right that we should at least pause to appreciate how reluctant that parting really was, and perhaps one day to transform it into a parting of friends (p. 309).

Ek hou van hoe hierdie skrywer dink.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s