Resensie: Die Lewe is ’n Longdrop – Len Els

foto0050

“Die Lewe is ’n Longdrop”. Ek wonder hoeveel jongmense weet vandag wat vir ’n ding ’n ‘longdrop’ is. Self het ek nie met hulle grootgeword nie. Hulle dateer uit ’n tyd toe ons paense nog kinders was (en toe kinders dus nog kinders was volgens die ringkoppe). Al die mense wat nog diensplig moes doen se generasie. Ek onthou op die plaas het my oupa-hulle nog ’n longdrop gehad. Nie vir gebruik nie. Die ding het net daar eenkant gestaan soos ’n ‘relic’, soos oupa se ou geroeste mouterkar. En my pa het altyd vertel hoe, as kind, die ‘bolle rook’ smorens uit die longdrop uitgekom het – sy ouboet wat skelm daarbinne rook.

Toe die binnenshuise toilette kom, vertel my vader dikwels, het die mense ook so lief geword om te braai. Dis toe dat my oupa glo toe eendag die opmerking gemaak het dat die lewe nou heeltemal verander het. Want dit was altyd so dat mense buite hulle ding gedoen het en binne geëet het, maar nou eet hulle buite en doen die ander dinge binne die huis.

Maar so gepraat van diensplig, in sy eerste digbundel, getiteld ‘Bosbundel’, het Els ons saam met hom in ’n ander diep put ingesleep, dié van die “Refleksies van ’n dienspligtige”. In ’n sekere sin is “Die Lewe is ’n Longdrop” eintlik dus maar net ’n voortsetting van dáárdie werk. Maar dit is asof ons hier ’n groter afstand tussen die skrywer en die verse vind. Miskien is dit so met sommige digters en eerste bundels, dit neig dikwels tot outobiografiese verse. En outobiografie is natuurlik nie ’n onuitPUTbare bron nie, maar dit sal altyd deel wees van die pakket, ten goede, sowel as ten slegte.

“Die lewe is ’n Longdrop” is egter uiters verfrissend, omdat Els, na my beskeie mening, in hierdie bundel veel meer die wêreld ín homself inskryf in plaas daarvan om vanuit homself ná die wêreld te skryf (ek weet nie of hierdie verduideliking vir almal sal sin maak nie maar ek kan dit nie anders beskryf nie). Die resultaat is, na my oordeel, nie soseer ’n “beter” werk as die “Bosbundel” nie, maar ’n ander aanslag, wat sorg vir lekker variasie, ten spyte van die donker ondertoon wat deur al Els se skryfwerf loop. Variasie is ’n goeie ding. Mens kan nie net van brood lewe nie.

Die onderwerpe wat veral in hierdie werk na vore tree is verval, veral met verwysing na ouderdom, ontnugtering en uitsigloosheid. En wat veral treffend is, is die deurlopende fiksasie met godsdiens. Miskien is dit dalk omdat ek self so ’n fassinasie het met godsdiens dat ek dit oral sien, maar dit is asof “Die Lewe is ’n Longdrop” regdeur die bundel skree – God! Waar/Wie is God? In “Damascus Pad”, een van die tallose godsdienstige verwysings in die bundel, word verskeie van die heersende temas vervleg, in wat vir my amper soos ’n refrein van die hele bundel lees:

“Ek weet amper
presies wat’s
fout met my

Dalk te lank
oranje-blanje-blou
bely”

Maar mens kan maar net na die ‘indeks’ kyk, na die titels van die verse, om reeds onder die indruk te kom van die sterk godsdienstige/spirituele onderbou van die werk: “Gebed van die Blindes”, “Dertig stukke silwer”, “Golgota: tres clavi”, “God weet”, “Gebod”, “Gebed van die dowes”, “Hyg al wat leef”, “Klaagvers”, “Hooglied van Lentulus” . . . Die liberale aanwending van Latyn doen ook geen skade om die godsdienstige onderbou van hierdie bundel te belig nie. As daar miskien een punt van kritiek kan wees, dan is dit dat ’n leek soos ek hier en daar bietjie verlore raak tussen al die Latyn (amper soos ’n antieke of Middeleeuse ‘barbaar’ in ’n Katolieke mis). Maar mens kry die boodskap, miskien ten beste opgesom in die vers “Gebed van die Dowes” (een felle stuk kritiek van Els op Rome so terloops):

“Here, hoor
U ons?”

Van een ding na ’n ander, sommige mense mag dit miskien nie weet nie, maar Len Els is eintlik ’n miskende rockster, en daarom is dit gepas dat hierdie bundel van hom ook ’n temavers bevat (net soos wat so baie musiekalbums ’n temalied het), natuurlik getiteld: “Die Lewe is ’n Longdrop”:

“Die lewe is
’n bodemlose put”

Om by dié donker, uitsiglose ‘long drop’ aan te sluit, reeds aan die begin: is dit toeval dat die heel eerste vers in hierdie bundel die titel dra van ‘San’? Of lees ek dalk, soos die ‘taalmeneer’ wat iewers diep in my skuil, te veel daarin? Die ‘San’ (of dan nou die Khoekhoen of Khoisan) mense van Suid-Afrika, is immers ons land se oudste inwoners. Die karakter ‘San van der Riet’ in hierdie tragiese ballade van Els, laat mens onwillekeurig dink aan die lot van baie van hierdie ‘oudste mense’ van ons land:

“Op sewe reeds deur
haar ooms betas
die kak van die lewe
– later –
met acid van
haar lyf afgewas”

Tussendeur als ingemeng is daar, natuurlik, seks en drugs, want Els is eintlik ’n rockster en die seks en drugs is maar deel van die ‘long drop’ wat die lewe is, dis deel van die pakket. Daarsonder sou “Die Lewe is ’n Longdrop” kwalik die geslaagde bundel kan wees wat dit is.

* Behalwe vir sy “Bosbundel: Refleksies van ’n dienspligtige”, is Els ook die skrywer van ’n bundel hofhumor getiteld “Aquila muscas non capit” (’n Arend vang nie vlieë nie), waarvan uittreksels op Radio Sonder Grense gelees word. Sy boeke is beskikbaar by geselekteerde boekwinkels asook direk by die uitgewer by http://www.groep7.co.za

Advertisements

8 comments

  1. Longdrop? Klink soos ‘n goeie titel vir so’n bundel. Maar ek darem bly ons praat in Holland van ‘kakhuis’, kleinste kamer, kakdoos, plee, stinkhol, pispot of nadenkkamer… 😉

    • ‘n Longdrop is nie ‘n gewone tipe kakhuis nie Christian. Dit dateer uit die tyd voor spoeltoilette. Dis natuurlik hoekom die longdrop buite die huis gestaan het. Die longdrop had ‘n diep put. Baie diep. Anders as ‘n gewone toilet. Dis meters. Hoeveel meters weet ek nie maar dis baie. Dit vat ‘n tydjie voordat dit die bodem bereik. Vandaar die naam ‘Longdrop’.

      ‘n Longdrop het ALTYD gestink.

        • Dan het ons in Holland geen longdrop geken nie, want in ons moddergrond kon niemand grawe nie…Al ons (water)putte is gemessel. Voor die spoeltoilette het ons slegs kakdose gehad. En wat doen jy met met die kakdose as hulle vol is? Hop: die straat op. 😉 Die Nederlandse stede het nog lankkkk gestink, tot in die 1920’s… Hier oppie plaas het ons eers in die 1950’s leidingwater gekry.

  2. Len ek het hierdie bundel besonders baie gelike – ek het nou al al jou bundels in my besit -wanneer kan ons nog een uit jou pen verwag.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s