Resensie: ‘Deadly Harverst’ van Michael Stanley

Ek is nie die grootste fiksie leser nie. Ek karwei Oliver Twist nou al jare lank saam met my en het hom al twee keer begin lees, maar elke keer neergesit. Ek vind nie-fiksie net eenvoudig meer stimulerend as fiksie. Maar dan om ’n verdere onderskeid te tref – misdaadfiksie. As dit by fiksie kom, dan is daar net eenvoudig niks wat by misdaadfiksie kom nie. Ek wil dit waag om te sê my liefde vir lees het waarskynlik begin by die travels van Bill Bryson en die speurtogte van Harry Bosch, daar in Kalifornië. En gelukkig het dit die Lewe behaag om vir ons Deon Meyer en Karin Brynard en Chris Karsten in Afrikaans te gee. Amen en amen.

Botswana is ’n lekker plek. Die mense is vriendelik. Dis een van die baie min Afrika lande wat, sedert onafhanklikheid in 1966 nog nooit ’n burgeroorlog gehad het nie. ’n Interessantheid omtrent Botswana is dat dié land vir lank vanuit Suid-Afrika geadministreer was, voordat die hoofstad Gabarone van die grond af opgebou was. Die heel eerste Eerste Minister was natuurlik Seretse Khama, en hy was getroud met Ruth, ’n wit Engelse dame op wie Seretse tydens sy studentejare verlief geraak het. Ruth is agter Seretse aan Botswana toe. So, weens Suid-Afrika se wetgewing het daar ’n situasie ontstaan. Seretse was, in terme van Suid-Afrika se wet, skuldig aan ontug, omdat hy met ’n blanke getroud was. Die gevolg was dat die Eerste Minister nie sy eie land se hoofstad kon besoek nie, weens sy huwelik met Ruth.

Botswana is ’n lekker land om te bestudeer omdat die land veel minder kompleks is as byvoorbeeld Suid-Afrika of Zimbabwe. En ek lees graag ’n boek oor dié land as ek my hande daarop kan kry. Die laaste boek wat ek gelees het was nog Bessie Head se baie bekende Maru, wat natuurlik handel oor die diskriminasie wat die San/Khoen mense van Botswana in die gesig staar. Daar is ook wonderlike boeke geskryf oor Seretse en Ruth wat beslis die moeite werd is om te lees.

Die boek Deadly Harvest het dus dadelik my aandag getrek toe ek sien dit speel af in Botswana. Daar is paar interessante dinge aan die boek. Die ‘skrywer’, Michael Stanley, is eintlik twee mense, by name Michael Sears en Stanley Trollip, wat hulle name gekombineer het om by Michael Stanley uit te kom. Die hoofkarakter is ene ‘Kubu’, natuurlik die Setswana woord vir ‘Seekoei’. Dit is nie die eerste ‘Kubu’ boek wat al verskyn het nie en van die ander het al pryse gewen. Tog het die boek my maar bietjie teleurgestel.

Die idee om muti as onderwerp te gebruik vir ’n misdaadfiksie is ’n goeie een. En veral die onderwerp van die albino mense van Afrika wat telkens, op die mees gruwelikste wyses aan mutimoorde onderwerp word is knap, dink ek. Die verhaal begin egter met die verdwyning van skooldogters. Later tree die albino karakter toe. Dit is natuurlik nie alle tradisionele genesers wat van liggaamsdele in hulle muti gebruik maak nie. Net sommige. Maar dit gebeur. Ek onthou so tyd gelede toe het die polisie hier in Suid-Afrika ’n man gevang wat met ’n kind se penis in sy beursie rondgeloop het – ongetwyfeld ook ’n mutimoord. En soos reeds genoem, dis die albino mense wat dit die swaarste het, want vir een of ander rede word daar geglo dat albino’s buitengewone mag kan gee. En wat dit nóg erger maak, is dat daar geglo word dat die liggaamsdele geoes moet word terwýl die persoon nog leef. Die albino in die boek ‘Deadly Harvest’ was ’n man wat gevlug het van Tanzanië af, net om sy gruwelike einde in Botswana tee te kom.

Daar word nie in die boek in van die mees gruwelikste details ingegaan nie. Die verhaal fokus op ‘Kubu’ en Samantha, wat beide vir die polisie werk, se pogings om agter die kap van die byl te kom en die skuldiges vas te trek. Dit is dalk een van die redes wat veroorsaak het dat die werk my grootliks verveel het. Ek het net ’n tyd gelede ‘Abel se Lot’ gelees, en Karsten se manier om die leser in die moordenaar se skoene te plaas sorg vir veel veel meer nuanse. As daar een manier is om my kritiek teen ‘Deadly Harvest’ op te som, dan is dit deur te sê dat die boek nie genoeg nuanse bevat nie. Die karakters is eendimensioneel. Speurder Kubu, byvoorbeeld, leef die amper perfekte voorstedelike lewe. Hy is gelukkig getroud. Met gelukkige en gesonde verhoudinge met sy kinders en sy vrou. Hy suip nie. Hy’t nie ’n aggressie probleem nie, en sy hond vreet Debonairs. Watse tipe mense voer hulle honde Debonairs? Ek is seker speurder Kubu moet die enigste poeliesman in die hele Afrika wees wat sy brak Debonairs kan voer . . . Nie dat ek dink die DBV van Suid-Afrika gaan baie gelukkig wees as hulle hierdie ding hoor nie. Kyk watse groot drama was daar toe die kletsrymer Jack Parow tydens die film Babelaas daardie gorilla laat rook en drink het. En daar is altyd artikels in ons tydskrifte oor hoe sleg mensekos vir woef is en hoe ons mense die diere laat suffer deur hulle aan ons eetgewoontes te onderwerp!

Nee wat. Dit oortuig my nie. Normale mense sal die leftover stuk pizza bere vir more.

Ten minste word die slegte ouens gevang. Maar dis alles net te droog man. Dis soos, durf ek sê, ’n stuk Debonairs. Dit laat jou dors na die tyd, erger, jy sukkel bietjie om dit af te kry. Voel of dit sit in jou keel vas.

EK SOEK MEER BOEKE WAT IN BOTSWANA EN OOK ALLE ANDER AFRIKALANDE AFSPEEL, MAAR ASSEBLIEF, MAAK HULLE LEKKER SPANNEND EN VOL NUANSE EN INTRIGE.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s