Teologie vir die Twyfelaar (5): Mamma, ek wil nie meer (’n man hê)

Foto: Wikimedia Commons

Mensig, Karin Eloff, daardie bekende danseres/ subredakteur/skrywer, het my vandag amper ekstaties gehad met haar eerlike oproep dat mense liefs nie die terrein van die huwelik moet betree nie. Dis ’n uitgediende praktyk volgens Eloff, en totale malligheid dat jy net met een mens vir die res van jou lewe moet seks he. Skei liewer jou intieme vriendskappe van jou seksmaats en dinge sal sommer baie beter gaan. Sy is reguit, hierdie dame. Sy weet wat sy wil he en wat vir haar werk.

En ja sy verwys ook na godsdiens, wat die rede is hoekom my aandag ekstra geprikkel was.

Eloff maak sommige baie sterk punte, maar sjoe, hoe meer ek oor die saak gedink het, hoe meer en meer het dit my tog daartoe gedryf om van haar te verskil. Ek dink dit is verkeerd om mense op te roep om totaal weg te bly van die praktyk van die huwelik af. Wat ons wel broodnodig het in Suid-Afrika, is groter verdraagsaamheid. En met groter verdraagsaamheid wil ek sê – daar is mense wat nooit trou nie en wat gelukkig is, en dan is daar mense wat saambly en wat net so gelukkig is. En o ja, dan is daar ook mense wat hulle getroude lewe baie geniet.

En so is elke mensie op aarde uniek, en wie is ons om te sê wat ’n ander mag en nie mag nie en moet en nie moet nie. Daar is geweldig baie druk op mense om te trou. Dit word eintlik van hulle verwag. Dit is veral vanuit die kerke en van gelowiges wat die druk baie sterk kom. Derhalwe maak baie mense die verkeerde keuses. Dit is alles weens oordeel. Is Eloff nie self besig om te oordeel nie? Sy vind die ongetroude lewe werk vir haar, nou verwag sy dat andere ook presies so moet dink en voel.

Moenie ’n fout maak nie, ek is nie hier om die huwelik as instelling te ‘verdedig’ nie. Ek dink meeste mense op aarde suffer (ten minste op een of ander stadium in hulle lewens) oor die onnoselheid van mense wat hulle ken wat nooit met mekaar moes trou nie. As dit nie jou eie ouers is nie dan is dit vriende of kollegas of nefies of niggies, maar iewers suffer meeste van ons op ’n stadium saam. Maar die feit bly staan dat, dis nie die huwelik wat noodwendig uitgedien is nie, maar veel eerder mense se vooropgestelde idees oor hoe andere hulle lewens moet leef.

Wat volgens een mens se stel reëls die evangelie is, is nie noodwendig bindend op ’n ander nie.

Ons kan ook nie sê dat dit vir almal geld om te glo dat losbandigheid hulle smagting is nie. Ek is seker daar is mense wat enige dag hulle eie lewensmaats/huweliksmaats/jarelange seksmaats verkies bo elke ander dag ’n ander nuwe ene.

Maar bowenal, in ’n land met die tipe uitdagings wat ons het, soos MIV/VIGS en tienerswangerskappe en aborsies en wie weet wat alles, voel ek dat monogamie ’n deug is wat geprys behoort te word. Of jy nou trou of nie, langtermyn seksmaats is beslis en altyd ’n beter opsie. Daar is absoluut geen waarborge in die lewe nie, en die feit dat jy en jou minnaar/minnares trou voor een of ander god sweer, gaan nie noodwendig verhoed dat jy teen als gedek gaan wees nie. Maar ek vermoed die risiko krimp wel die oomblik wat julle leef met die verstandhouding dat die verhouding, spesifiek seksueel gewys, monogaam moet wees.

Seker is dit nie vir almal nie. Daar is die soort wat skynbaar meer avontuurlustig is. Dis seker so. Maar daar is wel baie mense wat so lewe, wat suksesvol in sulke verhoudinge lewe en so wíl leef. Hoekom sulke mense ontmoedig? Hoekom getroudes oordeel, soos wat mense soos hulle dikwels geneig is om ongetroudes en enkellopendes en ook losbandiges te oordeel?

Ek probeer altyd dinge leer van Jesus. Daar is baie dinge wat ons uit die Bybel kan leer, selfs vir ons wat nie regtig meer deel is van die kudde nie. Jesus was, as die evangelies hom korrek skets, nie iemand wat losbandigheid goedgepraat het nie. Ewe veel, het Jesus dit ook afgekeur om losbandige mense te oordeel. So was dit skynbaar met Jesus: Toe die losbandige vrou voor hom staan, en andere wil haar doodmaak, toe sê Jesus vir hulle maar laat dan die een met ’n skoon gewete die heel eerste klip gooi. En so was haar lewe gespaar.

Ons kan iets groot leer by die Bybelse Jesus oor hierdie onderwerp.

Advertisements

2 comments

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s