Resensie: Mollie en Wors – die movie

Ek moet sê, as daar een ding is wat my elke keer laat terugkom na hierdie plek, na die Afrikaanse Opinieplaform toe, dan is dit my liefde vir Afrikaans/Nederlands. Ek is een van daardie vreemde skepsels wat glo aan die krag van die moedertaal. Sonder ons moedertale is ons eintlik half verlore, ongeag of jy nou Afrikaans of Engels of Sesotho of Frans of wat ook al is, mense moedertaal is hulle kosbaarste erfenis en staan sentraal in die opheffing van gemeenskappe, en dit is jammer dat so baie mense die saak nie so sien nie.

Ons gedeelde erfenis. Oor die jare, sedert ek die eerste keer mede-blogger i90Christian se plasings begin volg het, het hy telkemale verwys na die gedeelde band tussen Suid-Afrika en Nederland, en hoe spesifiek Afrikaans hierby kan baat. Ek kan onthou hy het eenkeer ’n plasing gemaak, as ek reg onthou, waar hy voorgestel het dat Afrikaans sy status as ’n onafhanklike taal los van Nederlands liefs moet laat vaar. In teorie was dit eintlik ’n briljante idee moet ek vandag toegee, maar hoe om in die praktyk vir mense te oortuig dat hulle nou skielik ‘Nederlands’ en nie meer ‘Afrikaans’ praat nie . . . hoe sal mens dit doen?

Maar dat ons te min maak van ons linguistiese en historiese bande met Nederland, dit is gewis so. Die Boere dink nie aldag veel van die ‘Kaaskoppe’ nie. Nederland was immers nie die ‘ou’ Suid-Afrika goedgesind nie, en die Nederlandse Kerke het selfs die gewapende stryd van die vryheidsbewegings finansieel gesteun. Maar apartheid le al amper 25 jaar in die verlede en ons het die kruisbestuiwing met Europa miskien meer nodig as ooit. Ek dink i90Christian kan self hiervan getuig, dat Nederlandse mense nie altyd en oral ewe vriendelik begroet word in Suid-Afrika nie. Dis jammer.

Maar hoekom noem ek al hierdie dinge as ek eintlik oor Mollie en Wors wil skryf? Dit is omdat Nederland so ’n prominente rol speel in Willie Esterhuizen se nuutste film wat onlangs in ons teaters begin draai het. Ek het vandag hierdie film gaan sien en ek kan getuig, ek het dit regtig geniet. Wat my die meeste verras het, is dat die film nie regtig vulgêr was nie. Daar was geen naak tonele in nie. Mens sien wel in paar tonele Wors se boude.

Daar is iets aan Willie Esterhuizen en iemand wat kaalbas op ’n motorfiets jaag. Dit is soos Leon Shushter met daai slang in die tas in die minibus taxi. Dit is nou al in verskeie van die produksies wat Esterhuizen geskryf het waarin dit voorkom dat iemand kaalbas op ’n tweewiel jaag, die mees legendariese miskien in die film lipstiek dipstiek. In Mollie en Wors – die movie, is dit Wors self wat homself op Vaatjie se ‘scooter’ bevind sonder ’n draad klere aan.

En so was daar dan ook nie regtig enige kras taalgebruik nie, wat eintlik half verstommend is as jy in ag neem waartoe Afrikaans in staat is in hierdie verband. Is daar nog ’n taal wat so lelik kan vloek soos Afrikaans? Ek weet nie. Seker. Ek ken maar min tale. Maar tussen die wat ek iets van weet is Afrikaans beslis tot die ergste toe in staat as dit by lelik praat kom. Dit is dus prysenswaardig dat die film nie besmet is met vloekwoorde, soos wat sommige van Willie se films al in die verlede was nie.

Met Mollie en Wors – die movie, is dit nou op rekord dat mense wel snaaks kan wees sonder om soos matrose te vloek, die film met vulgere sekspraatjies te besaai en/of mense se gelowe en/of seksuele orientasies te bespot. Daar is selfs ’n heel ernstige ondertoon aan hierdie film, wat ten beste opgesom kan word deur die opmerking ‘wees dankbaar vir wat jy het’. Die karakter Wors Visagie herinner my telkens aan die tekenprentkarakter Homer Simpson, in die manier hoe beide hierdie tweede vaderfigure, ten spyte van hulle foute en tekortkominge, tog liefdevolle mense is wat daadwerklik omgee vir hulle gesinne. Dit maak dat Mollie en Wors – die movie vir my een van die veel beter pogings is in Esterhuizen se arsenaal van produksies.

Molly en Wors: Hy was in Holland, sy was in die hel:

Advertisements

3 comments

  1. Nice resensie, sal nogal graag hierdie film wil sien. Ek moet sê vandat ek in Nederland woon die afgelope paar jaar deel ek ook die siening van i90Christian rakende Afr/NL. Daar sal definitief nie ‘n ‘skielike’ oorgang moontlik kan wees nie maar ek glo wel met tyd en ‘baby steps’ dat dit ‘n langtermyn oplossing is vir die volhoubaarheid van Afrikaans

    • Teoreties klink dit briljant. Maar as ek net dink aan al die implikasies, bv. wetlike implikasies, dan is dit ‘n opdraende stryd. Maar op ‘n manier moet die verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands meer sigbaar gemaak word vir die wereld.

      Dankie vir jou kommentaar.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s