Jy kan die land verander as jy wil…

Stembriewe vir 2011 se munisipale verkiesings in Kaapstad (Foto: Wikimedia Commons)

Jy is ‘n burger van ‘n land. Dalk ‘n betrokke burger. So een wat weet wat aangaan. Of nie. Jy kan ook ‘n slapende burger wees. Die een wat in ‘n land leef, maar nie betrokke is met die staat van die land nie.

Die verskynsel dat sommige mense nie gaan stem nie, is ‘n teken van teleurstelling. Teleurstelling in die land. Die land se politici of die land se mense. Of beide.

Dalk is jy so’n burger. Elke burger het die reg om teleurgestel te wees in die land se politici.

Suid-Afrika is ‘n demokrasie. ‘n Mens kan soms tereg wonder vir hoe lank nog. Maar dit is elke burger se plig om die demokrasie in Suid-Afrika te beskerm, omdat jou burgerregte ontleen is aan die demokratiese stelsel. As Suid-Afrika nie ‘n demokrasie was nie, sou sekere regte ontbreek het.

Suid-Afrikaanse burgers het nog maar kort gelede hul regte afgedwing. Onder die vorige politieke stelsel, wat nie ‘n volle demokrasie was nie, het essensiële burgerregte (moet dit nie verwar met die menseregte nie) ontbreek. Swart mense kon nie stem nie en bruin mense en Indiërs het nie-gelykwaardige verteenwoordiging ten opsigte van die blanke bevolkingsgroep geken. Die ou bedeling was selfs vir wit mense nie ‘n volle demokrasie nie, omdat vryheid van meningsuiting en ander burgerregte ontbreek het en die NP-regering wydverspreid sensuur toegepas het.

In so ‘n land sou ‘n mens dink dat die burgers die land se demokrasie met hand en tand beskerm. Niks is minder waar nie. In Suid-Afrika is daar slegs ‘n klompie intellektuele wat die ANC se pogings om die demokrasie te ondermyn probeer keer.

Party Afrikaanssprekendes stem nie saam met die ANC-regering se beleid en standpunte nie. En dit is ‘n burgerreg om nie daarmee saam te stem nie. En dit is tans ‘n reg om die ander se standpunte uit te daag.

Party Afrikaanssprekendes gaan nie stem nie, omdat hulle dink ‘hul getalle is te laag’. Hierdie redenasie is nie standhoudend nie. Suid-Afrika se parlement het ‘n proporsionele afvaardiging. Sou dit ‘n 100% distrikstelsel wees waar die meerderheid van die kiesers besluit watter party die distrik gaan verteenwoordig, dan kon die ANC die distrikgrense so manipuleer dat hy in 100% van die distrikte ‘n meerderheidsstem kan kry.

In die proporsionele en veel-party-demokrasie lê die antwoord op minderheidsverteenwoordiging. Dit is sinneloos om almal volgens die “gesamentlike vyand”-prinsipe die ANC uit te stem. Daarvoor moet mense hul eie standpunte opgee om die vyand uit te kry. Die “strategiese stem” soos ons dit in Europa noem, is meer as sinneloos. Dit is in stryd met die proporsionele demokrasie se grondreëls. Dit is buitendien niks meer as ‘n kamikase-aksie nie.

In ‘n proporsionele demokrasie (en Suid-Afrika is een) tel elke stem. Ook as jy in die huidige politiek teleurgestel is.

Sommige mense is so teleurgesteld in “die nuwe Suid-Afrika” dat hulle die huidige grondwet verwerp. Vanuit hierdie verwerping verantwoord hierdie mense hul afsydigheid by die huidige politiek. Hierdie mense vergeet dat die huidige grondwet die moontlikheid gee om die grondwet te verander. Die grondwet is alles behalwe ‘n definitiewe skikking. Nie net die ANC het die reg om die grondwet te wil verander, maar ook jy, as gewone burger, het die reg om ‘n veranderingswens oor die grondwet uit te spreek.

Kies darem die party wat die beste by jou standpunte pas. Stem vir dit. Want elke stem wat nie op die ANC val nie is direk een teen die ANC. Dit maak nie saak op watter party is nie, want weens die proporsionele stelsel is daar betreklik min stemme vir ‘n setel nodig. Dus gebruik jou stem waardevol. Stem vir die party, wat jou die beste kan verteenwoordig.

Want as jy gaan stem, het die ANC nie 100% van die mag nie, maar skielik nog 50%. Want as jy gaan stem op ‘n ander party, het jy een stem vir die ANC “geneutraliseer”.

Die DA het daarvan melding gemaak dat 4 miljoen potensiële kiesers nog nie geregistreer is nie. Maak seker jy is geregistreer vir 2014 se nasionale verkiesings!

Want daar is nog so’n ongeskrewe reël in ‘n demokrasie: as jy nie stem nie, het jy nie die reg om te kla. En aangesien die meeste Afrikaanssprekendes gewoonlik daarvan hou om te baie kla…

Advertisements

3 comments

  1. As jy nie geregistreer is nie,kan jy nie stem nie.En as jy nie stem nie,kan jy nie na die tyd kla oor dinge nie.Die proporsionele stelsel maak dit juis so dat elke stem tel en elke stem is belangrik en kan n verskil maak.Onthou ook dat geen party op sy eie die ANC kan klop nie,slegs n koalisie vd opposisiepartye kan dit doen.Daar waar die ANC minder as 50% steun kry,moet opposisiepartye saamwerk,n koalisieregering daarstel en sodoende die ANC van die mag weghou.Suid Afrika het n verandering nodig en minderheidsregte word ook al hoe belangriker.Die VF Plus staan aan die voorpunt van die verandering en het n nuwe visie vir Suid Afrika wat toekomsgerig is.Gaan kyk gerus na http://www.nuwevisie.co.za

    • Dankie vir jou kommentaar, Frik! Ek stem saam met jou oor die argumente wat jy gee. Dankie vir die skakel na die VF+ se nuwe-visiewebblad. Ek is alleen baie nuuskierig of Suid-Afrikaners klaar is vir hierdie ‘Europese’ wyse van politiek. Ek’s bang Suid-Afrika sal afgly naar ‘n tweepartystelsel. Dit sal ‘n doodsteek vir Suid-Afrika se diversiteit wees.

      • Dankie,Christian.Ek stem saam,Suid Afrika kan nie afgly na n tweeparty stelsel nie.Die diversiteit is uniek en verskillende partye verteenwoordig daai diversiteit.Feit is,mense moet registreer en gaan stem,dis baie belangrik.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s