Geen poësieresensies. Want poësie vul gate…

Miskien behoort ‘n mens die poësieresensies te negeer…

Ek het ’n pyn met letterkunde. Veral met poësie. In die besonder poësie. Toe ek jonk was, het ek dit geniet om ‘storieboeke’ te lees. Maar gou het ek ontnugter geword. Ek geniet dit selfs om soms, as die gier my pak, my hand aan ’n vers of twee te waag, maar ek noem dit nie ‘gedigte’ nie. Dis verse. Uit die aard van my agtergrond probeer ek ook om hier en daar op hoogte te bly van nuwe ontwikkelinge. Maar die ding wat ek soos pes vermy, is die diskoers daarrondom. Ek steur my net eenvoudig nie daaraan nie.

Kunstenaars. Wat sal ons sonder kunstenaars wees? Ons sal veel armer gewees het. Maar met kuns is ek soos ’n oupa wat bly is om sy kleinkind te sien om vir ’n paar uurtjies op te pas maar ewe bly is as mamma weer vir baba kom haal na die tyd. Kunstenaars funksioneer perfek in ons samelewing omdat ons net hulle kunswerke, maar geensins die kunstenaar self, na ons wonings toe hoef te neem nie.

Maar ek dwaal nou, ek wil praat oor die diskoers. Ek het jare gelede opgehou om na spesifiek letterkundiges te luister, toe ek eenkeer na ’n hoogs geleerde man van die universiteit geluister het wat so kon te kere gaan dat mense te min lees. Ek het die verwyt half persoonlik geneem. Want ja, ek lees min letterkunde. Ek probeer hier en daar letterkunde lees wat ek kan en ja dit verryk my. Maar alles in ag genome moet ek erken dat letterkunde my meestal verveel. Ek vind dit meestal sieldodend om fiksie te lees.

Moet ek myself daaroor haat? Is ek ’n “slegte mens” as gevolg daarvan? Ek is tog iemand wat baie lees, maar ek kry nie stories gelees nie. Dit is maar my karakter. Ek kan tog nie help wie en wat ek is nie. Maar ag, mense verwyt tog so graag en so maklik.

Maar meer oor poësie in die besonder. Poësie en mense wat daaroor skryf en daarmee doenig is, gooi selfs méér dikwels die verwyt rond dat mense nie genoeg lees nie. Digbundels verkoop nie goed nie en het eintlik nog nooit. Tog voel ek dat daar nie genoeg gedoen word om ’n liefde vir poësie by mense te stimuleer nie. Poësie is in elk geval hopeloos te eksklusief. Mense voel uitgesluit en verloor belangstelling. En tog bied poësie vir ons sulke ryk insigte in ons erfenis in, bo en behalwe dat die poësie self as erfenis dien.

Na baie jare se informele sowel as formele studie, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen norme en standaarde vir goeie poësie bestaan nie. Daarom steur ek my min aan die kenners. Ek kan uit ervaring getuig dat ek al gestruktureerde kursusse in poësie gedoen het. Ek het in daardie kursusse ervaar dat die lektore nie vir jou kan verduidelik hoe hulle by ’n bepaalde punt vir jou werkstukke uitgekom het nie. Hulle kan dit net eenvoudig nie verduidelik nie want poësie is kuns. Dit is nie iets wat werk op beredeneerde logika nie maar veel eerder neerkom op ’n proses van onderhandelde konsensus.

Daarom, elke digbundel wat ek onder oë neem, ignoreer ek totaal wat enige ‘kenner’ geskryf het. Met ander dinge werk dit anders. Met films, of CD’s, of geskiedenisboeke. Dáár kan jy maar wel ag slaan op die menings van kenners en resensente. Maar poësie is méér kuns as al daardie dinge saam, en as sulks, sal die praktyk van poesie altyd met ons wees, want dit vul gate waarvan ons nie altyd eens bewus is nie.

Ai tog ek wou eintlik nou oor ’n bepaalde digbundel geskryf het wat ek onlangs gelees het, maar het so lekker lank geskryf in aanloop dat ek dink ek dit maar moet laat oorslaan. Laters dan.

Advertisements

One comment

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s