Teologie vir die twyfelaar (2): Abel Pienaar probeer Isak Burger tackle OF Hoe toeskouers deel word van die ‘game’ in Suid-Afrikaanse kerke

Ek is so moeg vir die godsgeleerdes van hierdie land dat ek kan mal word. Ek is net gatvol. Gatvol vir die junk wat hulle skryf. Hulle kleinlike selfbehepte speletjies wat hulle speel. Hulle geslegsêery in die media. Ag, die spul is erger as ’n klomp politici. Van liefde leer hulle ons eintlik niks.

Die nuutste ding wat my gat krap is hierdie skrywe van doktor Abel Pienaar. Dis dieselfde dok Abel wat vir ons anderdag vertel het dat die konsilie van Nisea tien jaar na Jesus se kruisdood saamgeroep is. Wel, in sy nuutste skrywe pak die een doom dok die ander doom dok. Ja ja, ek weet dat dok-doom Abel nie meer ’n doom in die kerklike sin is nie, nie in die teorie nie, maar in die praktyk hy is maar eintlik niks anders nie. Hy bedryf maar net deesdae ’n bediening sonder enige spesifieke God. Sien die dominees binne die kerk sê al vir eeue der eeue die mense buite die kerk sleg, en nou het daar maar net genoeg mense buite die kerk begin groepeer met hulle eie geestelike leiers om maar presies dieselfde aan die spul binne die kerk te doen. Daar is niks nuut onder die son eintlik nie.

So skryf dok Abel sy stuk en hy verwyt en verwyt vir dok Burger in die publiek en dis van dat doom-dok Burger eintlik net ’n strontmaker van die eerste formaat is wat niks anders as geweld en haat aanblaas nie. Dis dok Burger se soort, seg dok Pienaar, wat ’n gevaar is vir die wêreld. En dit ook nog altyd was.

En hy skryf en hy skryf en hy skryf. Skryf sy hart uit oor sy weersin in dok Burger en sy soort, en seg hy weet sommer dat Jesus ’n man van vrede was en nooit as te nimmer deel van die Burger-sekte sou wees nie. Dit word sommer ’n hele lekker semantieke speletjie! Dis die tipiese hy sê sy sê sous.

Nou, ek is en was nog altyd ’n man wat ds. Burger se perspektiewe baie krities beskou het. Ek kan nie sê ek stem ook met als saam wat ’n man soos Isak Burger verkondig nie. Maar ek dink regtig dat Abel Pienaar die woord ‘vrees’ hier misinterpreteer. Ek dink die woord was dalk deur Burger gebruik as ’n sinoniem vir respekteer. Om iemand te vrees beteken nie noodwendig jy is bang vir daardie persoon nie. Dit beteken jy het ontsag en jy het respek.

En dan, die vredeliewende Jesus wat Abel vir ons skets. Ag ja. Seker. Hang seker maar af van hoe presies JY die Bybel lees. Wat presies JY as die kern van die evangelies beskou. Vir die doel van hierdie stuk is dit tog interessant om daarop te let dat Jesus gesê het “Moenie dink dat ek gekom het om vrede op aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag te bring . . . Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie” (Uit: Die Evangelie volgens Lukas hoofstuk 10).

Die snaakse ding van oorlog is, dat oorlog heel dikwels tot vrede lei. Dis een van daardie ironiese dinge van die lewe – jy kort soms oorlog om vrede te kry. Dink maar aan die Roomse ‘pax’. Dink aan die konsep van MAD – Mutual Assured Destruction. Dit was in die tyd van die Koue Oorlog so. Maggies, dink aan die lewe van Nelson Mandela as jy wil – die man het besluit om ’n soldaat te word eerder as om die bure te nooi om kumbaja te sing. Of dink aan die lewe van koning Moshoeshoe van Lesotho, of generaal Koos de la Rey. Om hemelsnaam dink tog net bietjie! Die Bybel sê immers self daar in die boek Prediker dat – elke ding het sy vaste tyd. Ja, daar is ’n tyd vir satjagraha en daar is ’n tyd om dit te vergeet.

Party dae dink ek dis tyd dat ek totaal ophou luister na die teoloë van hierdie land. Ek gaan hulle boikot totdat hulle gaan ophou om hulle soos klein seuntjies te gedra. Of soos honde wat oor ’n been stry.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s