Teologie vir die twyfelaar 1: Twyfelaars was (is?) kosbaar vir Jesus

As iemand met ’n intense fassinasie met die menslike spiritualiteit, is ek iemand wat van tyd tot tyd die behoefte ontwikkel om pen op papier te waag in verband met die tema. Ek beoog om ’n reeks plasings te doen op die Afrikaanse Opinieplatform onder die titel – Teologie vir die twyfelaar. Soos die titel aandui is hierdie plasings nie bedoel vir daardie mense wat volkome geloofsekerheid het nie. Dit is veel eerder gemik op die skeptiese Christen/gelowige.

Ek begin my heel eerste plasing in hierdie reeks met ietsie van ’n geloofsreis. Wie is Barend van der Merwe in spirituele terme? Is hy ’n gelowige mens? Is hy ’n Christen? En hoe het hy gekom tot waar hy is?

’n Mens moet miskien, voordat jy praat van Christenskap, eers probeer uitvind wat presies ’n Christen is. Daar was vir lank geglo dat ’n Christen sekere vasgestelde eienskappe moet openbaar. Dat dit iemand is wat op ’n bepaalde manier dink, optree, en bepaalde dinge glo. Dit is vir hierdie rede dat baie mense in die verlede soos slegte honde uit kerke uitgejaag was, veral uit my eie sekte, die NG sekte. Soos byvoorbeeld ‘grootdopers’. Grootdopers was dikwels geskets as van die mees gevaarlikste mense wat daar op aarde is. Eintlik is hulle gemors, want dit is mense wat die eerste doop, die klein doop, verwerp het, en nie tevrede was nie. Anders gestel, dis mense wat eintlik vir God verwerp het.

Later het die kerk verskoning gevra teenoor al die mense wat weggejaag was oor hierdie kwessie, maar die skade wat gedoen was, is basies onomkeerbaar.

Wat is ’n Christen?

In die boek Matteus lees ons ’n baie interessante ding. Die Bybel is in vele opsigte perfek geskryf. Ons weet dat Markus waarskynlik die oudste gekanoniseerde evangelie is. Die hemelvaart is ’n uiters omstrede historiese gebeurtenis. Volgens ’n voetnoot in die 1983 vertaling is in hoofstuk 16, “Verse 9 tot 20 . . . in sommige manuskripte bygevoeg en is mettertyd aanvaar as die gepaste afsluiting van die Evangelie.” As mens aanneem dat Matteus vir Markus as bron ingespan het, dan word Jesus se hele laaste opdrag dus verdag. Maar dit is en bly vir my tog so mooi wat daar geskrywe staan in Matteus 28:17 – 19.

Ek was jare gelede finaal klaar met die kerk, toe ’n prediker eendag hierdie boodskap vir my bring dat – ja, jy mág maar twyfel. Geloof in God (en Jesus), is in der waarheid ’n gawe van God. En nie almal word gebore met daardie gawe nie. Dit is nie sonde om nie te glo nie, om ’n twyfelaar te wees nie, om skepties te wees nie. Want sonde is iets wat gebeur as jy jou roeping in die lewe mis, jou doel, en God kon onmoontlik alle mense vir dieselfde doel geskape het . . .

Ons lees daar in Matteus 28 vers 17 tot 19 dat Jesus se dissipels voor Jesus neergeval het en vir Jesus aanbid het, en dan klassifiseer dit verder: “hoewel party getwyfel het”. En Jesus se boodskap? Sy boodskap was dieselfde aan almal! Aan die gelowiges sowel as aan die twyfelaars sê Jesus , “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies . . .”

Die punt wat ons hier moet insien, is dat, al is jy onbruikbaar vir mense, en vir die kerk, kan jy bruikbaar wees vir God. Die kerk gooi dikwels mense weg, want die kerk is ’n speelparkie vir die rykes en die magtiges. So word daar vertel dat die groot rede dat Katolieke nie mag trou nie juis is sodat die kerk se bates nie oorgedra moet word nie. Dat die kerk magtig moet bly en ryk moet word. Maar elke mens, ongeag hoe onbenullig jy is, kan werklik ’n verskil maak op aarde. Jy hoef nie eens aan God te glo nie. Jy hoef niks te glo nie – jy het NOGTANS ’n rol om te speel.

En of mens nou glo daar is gode, en of jy glo daar is geen gode, ons keuses in die lewe bly ’n reuse verantwoordelikheid. Dit is inderdaad so dat, in die woorde van die Afrikaanse skrywer D.J. Opperman – “aan jou dade grens ’n ewigheid”.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s