Verdere kommentaar op OASE

Die redakteur van die Afrikaanse Opinieplaform het na aanleiding van my laaste skrywe in verband met OASE en Orania my styl bietjie gekritiseer op ons Bakkiesblad. Ek neem aan dit is die redakteur wat ook ons Bakkiesblad bestuur. Ek dink dit is regverdige kritiek dat ek ‘gemeen’ was. Dit is ’n swakpunt aan my kant en ek is nie skaam om te erken dat ek soms, in die redakteur se woorde ‘gemeen’ word nie. Ek is nie die sarkastiese tipe nie. Ek is soms net nasty. Bitsig. Ja, ek het daardie geneigdheid.

Daarom het ek dit goed gedink om my saak teen OASE opnuut te formuleer. Ek was miskien te bitsig nadat een van die OASE mense die Afrikaanse Opinieplatform gekritiseer het dat dit bevooroordeeld teenoor pro-Orania mense is.

Ek wil in my meer gematig bewoorde kritiek begin deur opnuut te verwys na OASE se voorgestelde grondgebied. Met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910, was daar besluit op drie hoofstede. Die keuse van drie was ’n kompromis tussen die drie dominante kolonies wat die Unie gevorm het, naamlik die Orange River Soverenity, die Transvaal en die Cape Colony. Pretoria, Kaapstad, Bloemfontein, onderskeidelik die uitvoerende, wetmakende en regsprekende hoofstede van Suid-Afrika. Die hoogste hof van appel is in Bloemfontein. Dit is weliswaar nie meer die hof met die heel hoogste gesag in Suid-Afrika nie, soos wat die voor 1994 was nie, maar Bloemfontein word steeds as een van die drie hoofstede van Suid-Afrika erken.

OASE se voorgestelde grondgebied inkorporeer nie minder as twee van Suid-Afrika se hoofstede nie. Daar is geen, maar GEEN manier waarop die staat van Suid-Afrika twee van sy hoofstede aan ’n spul voorstedelike cowboys gaan afstaan nie.

Groot gedeeltes van die voorgestelde grondgebied is boonop staatseiendom. Daar is plase, paaie, museums, skole, biblioteke en wie weet wat nog als wat aan die staat behoort. Hier in Bloem het ons ’n instelling met die naam die Universiteit van die Vrystaat (UV). Die UV is een van die staat Suid-Afrika se belangrikste universiteite. Vir baie jare al lei die UV byvoorbeeld ’n groot hoeveelheid van Suid-Afrika se dokters op.

Sal die staat Suid-Afrika bereid wees om ’n instelling soos hierdie sommer net te oorhandig? Ek dink nie so nie.

Op hulle webblad kritiseer OASE openlik Orania. Die verwyt word gemaak dat Orania OASE ignoreer. Dit laat my dink aan daardie uitdrukking, Aquila muscas non capit (’n Arend vang nie vlieë nie).

Ek is nie self ’n aktiewe voorstander van Orania nie. Ek het nie ’n aftrekorder nie. Maar, my pa het ’n broer gehad wat die enigste in sy klas was. Hy was altyd eerste, maar ook altyd laaste in sy klas . . . En só is Orania. Wat Orania aan mense bied het geen kompetisie nie. En vir my is dit dat ja, ek voel ek het belang by Orania, al steun ek nie die plek aktief nie. Orania vul ’n behoefte in Suid-Afrika. Dit gee ’n plekkie in die son vir daardie Afrikaner wat verkies om volkseie te lewe. En ek gun dit vir daardie mense. Orania bied aan mense meer as net ’n webbladsy. Boonop is Orania ’n plek wat daagliks aan die wêreld bewys dat hulle nie uit rassisme gebore was nie, maar uit ’n sin na onafhanklikheid.

Vir hierdie rede is ek veel meer simpatiek teenoor Orania se saak, en sal ek hulle reg op selfbeskikking en groter onafhanklikheid verdedig met my woorde. Ek dink regtig dat OASE se kritiek teen Orania op hulle webbladsy geen gewig dra nie en sommer net ongevraagd is. Ja, selfs in Europa sukkel hulle dikwels om gemengde samelewings mooi te laat slaag. In Europa – Europa wat een van die grootste vyande van apartheid was. Maar hier in Suid-Afrika is daar ‘n klomp wat glo hulle vryheid le in ‘n staat met ‘n uiters gemengde gemeenskap?!

Daar is mense wat dagdroom en dan is daar mense wat werk om hulle drome te bewaarheid. En die mense wat werk verdien nie om afgeskiet te word deur die dagdromers nie.

Advertisements

6 comments

  1. Wat die Vryheidsfront plus betref, met betrekking tot OASE se kritiek teen die noue bande tussen Orania en vir VF+, dit is net plainweg simpel kommentaar. Orania se leiers neem aktief deel aan die demokrasie van die Noord-Kaap, onder die dekmantel van die VF plus. Die VF plus is alreeds ‘n krimpende party, omdat meer en meer Afrikaners DA stem, en aanvaar dat hulle deel van die ‘nuwe’ Suid-Afrika is. Om van die VF plus te verwag om hulself van Orania te distansieer sal net ‘n verdere doodskoot vir die reeds krimpende VF plus wees.

    • Barend,weet jy van die goeie vertoning wat die VF+ onlangs gelewer het in n tussenverkiesing in Naboomspruit.Die DA het net-net gewen en die VF+ het amper n opskudding veroorsaak!

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s