Gebrek aan historiese bewussyn kniehalter sinvolle dialoog

Een van die mees tragiesste nalatenskappe van Suid-Afrika se verdeelde verlede, is ons land se gebrekkige historiese bewussyn. Ek besef elke dag net meer en meer hoe min ons mense eintlik van die verlede af weet. Net anderdag was daar die een baie bekende teoloog wat vir ons wil kom vertel dat die konsilie van Nisea tien jaar na Jesus se dood saamgeroep was!

Suid-Afrika se mense weet te min van die verlede af en ons doen te min moeite om onsself in te lig. Ons lees te min en praat te min oor ons erfenis. Eintlik is die onderwerp van die ‘geskiedenis’ iets wat mense graag vermy in Suid-Afrika. Dit word gedoen omdat mense nie belangstel in mekaar se stories nie. Daarom is daar in baie Afrikaanse skole nie eens die vak ‘Geskiedenis’ as opsie nie. Die verlede word dus gerieflikheidshalwe geïgnoreer, omdat mense nie hou daarvan om na andere se stories te moet luister nie. Dit is so erg dat ’n invloedryke instelling soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ingespan word in ’n poging om dinge stil te swyg.

Dit is binne hierdie konteks wat Frik Lotz se onlangse skrywe verstaan moet word. Frik vra “Wat van die ANC, PAC en diesmeer (sic) se wandade . . . Nee wat, die WVK was ’n onregverdige en eensydige spul …”

Toe die WVK se finale verslag voorgelê was aan die regering, was daar chaos binne die ANC. Adjuknpresident Mbeki (wat toe nog baie blankes se liefling was omdat hy ’n meestersgraad aan ’n Britse universiteit het), het kwaai vuurgespoeg. Die WVK se 5-volume verslag het die regerende ANC in ondubbelsinnige terme gekritiseer. Daar was in der waarheid geen politieke party wat gelukkig was nie, en mens kan verstaan hoekom, want niemand is mos ooit skuldig nie, nes die verhaal van die ‘sondeval’.

Was dit nie vir president Mandela wat opgestaan het en gesê het hy aanvaar die verslag nie, dan kon die storie baie anders geëindig het. En sonder die WVK sou ek seker vandag moes oorlog maak teen mense wat ek liefhet – met ’n geweer in die een hand en ’n Bybel in die ander.

Ek vind dit jammer dat Frik wil he dat mense hulle monde moet hou. Dit is presies hierdie soort van ding waarteen daar lank baklei was in Suid-Afrika…

Maar terug by die Akademie vir Wetenskap en Kuns, in 2012 stel die Akademie mos toe nou ’n boek vry, ’n sogenaamde ‘Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag’. Daardie boek was ook maar niks anders as ’n mooi manier om te sê ‘bly liewer stil, hou asseblief julle monde nie’. Behalwe vir die hoofstukke wat die apartheidsbeleid verdedig, fokus die boek meestal op die geskiedenis van minderhede.

Ongeveer in dieselfde tyd het die akademie die Hertzogprys toegeken aan Adam Small vir letterkunde wat jare gelede reeds gepubliseer was, dus, teenstrydig met die Akademie se eie beleid wat bepaal dat die Hertzogprys toegeken sal word aan letterkunde wat onlangs verskyn het. Daarmee het die Akademie as’t ware erken dat dit jare terug, wees rassisme, nie uitnemende werk in Afrikaans erken het nie – beslis ’n lofwaardige stap deur die Akademie.

Maar toe gaan publiseer hulle ’n ‘Geskiedenis van Suid-Afrika’ waarin die naam ‘Charlotte Maxeke’ nie eens verskyn nie.

Dit is dus geen wonder dat baie Afrikaanssprekendes vyandig is teenoor ‘swart’ Suid-Afrikaners nie. Die liggaam wat ons taal reguleer vertel vir ons dat ons te veel van swartmense in ons skole leer. Dat die “slinger” na die “middel” toe moet gaan.

Mense ken nie die ANC se geskiedenis nie. Die ANC, en sy voorgangers, was vir die grootste gedeelte van sy bestaan besig met ’n proses van vreedsame verset binne die parlementêre perke. Dit het reeds al in die 19de eeu in die Kaap begin, en deurgeloop, verby die stigting van die Unie, en later, toe swart Suid-Afrikaners finaal van hul stemreg ontneem was. Die 1950’s was die glorie era van geweldlose verset binne die ANC. In Nelson Mandela se boek ‘Long Walk to Freedom’ (as ek reg onthou is dit in daardie boek of dan in ’n ander boek wat ek gelees het) word daar vertel hoe die pasifis en Nobelpryswenner doktor Albert Lithuli, gewelddadig deur die owerhede behandel was. Die ANC se vreedsame verset is telkens met geweld begroet. Oor, en oor, en oor.

Een van die grootste skandvlekke was die hoogverraadverhore van 1952, toe die regering onder meer deur middel van Russiese kookboeke probeer ‘bewys’ het dat die ANC se leiers gevaarlike kommuniste was. Die hele saak was niks anders nie as ’n vorm van staatsterrorisme en die Unie se eie regstelsel het die staat se saak verwerp.

Uit respek vir Lithuli se passiewe lewensuitkyk, het die gewapende vleul van die ANC, Umkhonto we Sizwe, maar baie stadig ontwikkel, en aanvanklik eers net sabotasieveldtogte gevoer. Die militante PAC het egter so ’n bedreiging vir die ANC ingehou, dat hulle nie anders kon as om self meer en meer militant te word nie, veral na afloop van die gebeure by Sharpeville.

Dit is jammer dat die ANC nie altyd daarin kon slaag om van bevrydingsbeweging tot goeie regering oor te gaan nie. Vir baie Suid-Afrikaners wat egter uit die land uitgejaag was en in reservate geprop was, of stilgemaak was deur geweld of sensuur, is die sogenaamde ‘nuwe’ Suid-Afrika ’n welkome plek.

Die grootste kritici van die huidige regering, is heel dikwels die mense met die minste oplossings vir ons land se probleme. En duidelik ook die mense met die minste kennis van ons land se verlede.

Hulle sê die leegste blikke maak die grootste geraas. Dis nêrens so waar soos in Suid-Afrika nie.

Advertisements

3 comments

  1. Barend,die voormalige NP-leiers het niks nuuts om te vertel nie.Dis dieselfde ou storie oor en oor.Niemand glo hul nie,behalwe hulself.So,dis beter dat hul stilbly en niks verder sê nie.My ou maat,die ANC het net belanggestel in die oordrag van mag en toe daar nie toegegee word deur die destydse regering nie,het hul besluit om oor te gaan tot geweld.Dit laat my dink aan vandag se vakbonde,as hul nie hul sin kry nie gaan hul oor tot stakings en geweld.Hul leermeester is mos die ANC.Terloops,ek weet dalk meer van die geskiedenis en politiek as wat jy dink.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s