Wat anders kan ons doen?

Wat gaan F.W. de Klerk en Pik Botha doen? So vra een van ons gereelde bydraers, i90Christian, in ’n skrywe wat meer uitgebreide kommentaar verdien. ’n Skrywe waarin hy, op die oog af, vir Botha en De Klerk probeer skerm. Ek het begrip daarvoor dat i90Christian vir persone soos De Klerk en Botha probeer skerm. Om te kerm en te kla het vir baie Boere die nasionale sport geword. Ek gaan nie gereeld kerk toe nie maar die een jaar tydens ’n Geloftediens (iets wat ek volgens sommige mense nie geregtig is om te vier nie omdat ek te ‘pienk’ is), toe vertel die dominee ’n verhaal. ’n Ware verhaal. Hy sê hy praat die een dag met iemand wat Suid-Afrika verlaat het. En nou is hierdie soort mense altyd baie nuuskierig oor Suid-Afrika. Hulle is nuuskierig om te weet – het ons die regte keuse gemaak?

Maar eintlik soek hulle nie objektiewe opinie nie. As hulle goeie dinge van Suid-Afrika hoor, dan weier hulle om dit te glo. Hulle is mense wat smag na slegte nuus.`

Ons hoor vandag wel baie slegte nuus in Suid-Afrika. Elke dag. Maar een van die heel grootste redes hiervoor is dat die koerante vandag toegelaat word om enige storie te publiseer. Dit was nie altyd so in Suid-Afrika nie. Toegegee, daar is rooiligte wat hier en daar flikker, maar ons is nog nie eens naastenby by die tienduisende boeke en honderde duisende koerantberigte en selfs popliedjies wat verban was nie.

Dit was opmerklik dat, tydens die sittings van die Waarheids-en-Versoeningskomissie (WVK), het groot getalle blankes botweg geweier om die verhale te glo wat aan die lig gekom het. Die WVK was ’n uitdaging vir baie van ons mense se Christelike waardesisteem. Die WVK se verslag was egter nie eens volledig nie. Baie van die gruwelikhede het nooit aan die lig gekom nie. Inligting het ’n manier om te verdwyn, soos mense . . .

So gepraat van die WVK, as daar een plek was waar die Nasionale Party se leiers die lekkerste lyfweggesteek het, dan was dit juis tydens die verhore van die WVK. Die WVK was hulle grootste platform, en hulle het dit nie gebruik nie. Hoekom sal hulle nou, na al die jare, iets wil ‘doen’?

Suid-Afrika is ’n land wat gebou was op die pilare van hartelose kapitalisme, smagtend na ’n eindelose stroom van spotgoedkoop swart arbeid. Suid-Afrika was ’n ooreenkoms tussen Britse (en ander internasionale) gierigheid Afrikaner koppigheid, ten koste van die ander mense van die land. Daar is nie veel meer wat Pik en F.W. kan doen nie. Ek het al baie gematigde mense gehoor wat opmerk – ja, hulle het ons uitverkoop, maar wat was hulle keuse?

Die grootste fout wat die ou Boere gemaak het, was om die hele enorme Suid-Afrika vir hulleself op te wou eis. In plaas daarvan om vir hulleself ’n klein stukkie aarde te eis, wou hulle eerder he dat al die ander mense moet padgee na die periferie toe. Vandag is dit húlle nakomelinge wat al meer en meer op die periferie moet leef. En daarmee moet vrede maak.

Om ’n aanlyn Nkandla te vestig, soos wat talle Afrikaanse webwerwe maar doen, gaan nie die probleem oplos nie. Daar is slegs een van twee opsies, ’n mens moet oorsee trek, of jy moet maar begin aanvaar dat jy deel van Afrika is. Dat jy ’n rol het om te speel – al gaan jy nie ‘on the top’ wees soos jou voorgangers nie (ek hoor die ouer generasies praat so, naamlik dat hulle ‘on top’ was). Jy moet aanvaar dat daar vir jou gelieg was oor die lewe. Oor wie God en Jesus is. En jy moet vrede daarmee maak dat meeste van die dinge wat mense oor God(e) sê eintlik maar net dinge is wat deur mense uitgedink was. Maar bowenal moet jy aanvaar dat jy nie meer langer jouself kan verdrink in jou Nkandlas in nie, ongeag of hulle virtueel of konkreet is – pynstillers is nie antibiotika nie.

Advertisements

6 comments

  1. Tipies, volgens die hedendaagse politieke korrektheid, word hier net twee keuse voorgestel vir Afrikaners se toekom:- Trek of pas aan by omstandighede. Alby gevalle lei tot die einde van Afrikaners se identiteit. Watse keuse is daar inderdaad ? ? ?
    Die foute wat almal maak is om net te kyk na hoe daar bine die RSA Grondwet gehandel moet word.
    Dit is tyd om te kyk na wat die Internasionale Reg se tov volke se regte. Suid Afrika was n ondertekenaar ven die Internasionale Konvensie vi Politieke en Burger Regte waarvan artikel 1.1 sê:

    “All peoples have the right of self-determination. By virtue of that right they freely determine their political status and freely pursue their economic, social and cultural development”

    Redakteursverandering: Die res van die kommentator se kommentaar is 100% oorgeneem van OASE se webwerf. Op die inhoud rus egter kopiereg. Indien u de res van van hierdie kommentaar wil lees, verwys ons u deur na OASE se webwerf. Jammer, maar Opinieplatform kan en wil nie OASE se kopiereg skend nie.

    • Ek was nog altyd ‘n voorstander van Orania. Ek het baie op my ou blog geplaas oor Orania. Die mense wat die minste van Orania hou is gewoonlik die mense wat nie glo in ‘eie arbeid’ nie. Mense wat daarvan hou om ‘baas’ genoem te word.

      Hulle skree ‘onafhanklikheid’ maar eintlik kan hulle nie lewe sonder ‘n swart hand om die werk te doen nie.

    • OASE het toestemming verleen vir die plasing. Ek dink dat OASE komentaar nie hier welkom is nie of enige ander komentaar wat nie pro-orania is nie. ‘So much’ vir “opinie” ….

      • Ek moet se jy is nie fair nie cirrus11. Die skakels is tog geplaas. Enige iemand kan daar gaan lees. Ek dink dis net regverdig dat kopiereg gerespekteer word. Die Afrikaanse Opinieplatform is iets op sy eie en is geregtig om so ver moontlik oorspronklike materiaal hier te plaas.

        Vrede vir jou.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s