Het regstel aksie ooit in die verlede gewerk?

’n Mens kan nie anders nie as om jou hoed af te haal vir Peter de Villiers, die voormalige afrigter van die Springbokke nie. Suid-Afrika worstel opnuut met kwessies soos regstellende aksie en die ‘kwota stelsel’. Dit nadat dit aan die lig gekom het dat SARU die ‘kwota stelsel’ weer wil terugbring na Suid-Afrikaanse rugby, om die sport meer verteenwoordigend te maak. Maar die kwotastelsel sal slegs op die Vodacombeker van toepassing wees. Dit sal beteken dat al die swart spelers wat tans in die Vodacombeker speel dadelik as ‘kwotas’ gelys sal word, ja, selfs daardie spelers wat op meriete daar is. Dit terwyl die swart spelers in die ander kompetisies sowel as in die nasionale span as merietespelers beskou sal kan word… Div se boodskap: Dit (kwotas) breek die selfbeeld van swart spelers af.”

En dit werk nie. Nes regstellende aksie.

Dit wil voorkom asof daar sommige mense onder ons is wat glo dat regstellende askie, “sy doel bereik het” (met ander woorde dat dit suksesvol was). Ook dat “swart mense” deur regstellende aksie “bevoordeel” word. Ek betwis hierdie standpunt. Ek het al baie in die verlede uitgevaar oor regstellende aksie en my standpunt is en bly nog altyd dieselfde – en dit is dat regstellende aksie ’n beleid is wat niemand op aarde bevoordeel nie. Dit benadeel eintlik die hele land. As ’n pos in die polisie nie gevul word nie omdat dit die beoogde rassekwotas van die polisie gaan beduiwel, dan beteken dit die hele land, met al sy rasse mense, word ontneem van daardie kundige mens se dienste.

Dit is voorts slegs ’n beperkte hoeveelheid mense wat bevoordeel word deur regstellende aksie. Dit is daardie mense wat geleenthede gehad het. Dikwels mense wat in topskole was. Mense met tersiere kwalifikasies en met baie vaardighede. Die ware arm mens wat min geleenthede gehad het ontvang weinig tot geen voordeel uit regstel aksie uit nie. Net soos wat hulle ook nie voordeel trek uit Swart Ekonomiese Bemagtiging nie, aangesien jy die regte kontakte moet he om te kan baat daarby.

Dit is vir hierdie rede dat ek nog altyd pleit dat regstellende aksie toegepas sal word uitsluitlik op die basis van ekonomiese stand, eerder as ras. Byvoorbeeld daar waar twee kandidate min of meer ewe sterk is, die een bevoordeel sal word wat uit swakker ekonomiese omstandighede sal kom as bloot een wat die ‘regte’ velkleur het.

Daar is nog gate in Frik Lotz se argumente. Hy argumenteer byvoorbeeld dat daar ’n “oorverteenwoordiging” van swart mense is. Dit is doodeenvoudig net nie waar nie. Alle mense in Suid-Afrika sukkel om werk te kry, en blankes is nie naastenby so dikwels werkloos soos swart mense nie. Ja, selfs al sou jy die blankes terugbring wat in die buiteland werk, dan sal blankes nog steeds minder werkloos wees as ander Suid-Afrikaners. Volgens Lotz is dit so dat “Selfs bruin mense en Indiers begin deesdae probleme ondervind met regstellende aksie.”

Deesdae? Ag nee, dit is nie iets van “deesdae” nie. Dis al baie jare lank dat mens hoor dat ‘bruinmense’ sal sê dat hulle altyd aan die kortste ent trek (eers te swart, nou te wit). Rassediskriminasie het nie voor 1994 gewerk nie, en dit werk ook nie vandag nie. Dit werk nie rugby nie en dit werk ook nie elders nie. Dit is bloot maar iets wat mense tydelik gelukkig hou. Iets wat mense ’n vals sekuriteit gee, nes die verandering van dorpsname en straatname.

Suid-Afrika sal nog ’n lang pad moet stap voordat die mense van die land meer gelyk is. Dit gaan nie op ’n kunsmatige manier gebeur deur kunsmatige ingrypinge nie. In der waarheid hou die ingrypinge in die ekonomie eintlik die hele land se mense terug, omdat dit hulle met ’n vals sekuriteit laat. Dit is elke landsburger se verantwoordelikheid om nie langer die kleur van ander mense se vel raak te sien nie, maar eerder die potensiaal wat in alle mense is, en om daarop te fokus en dit te ontwikkel.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s